#ReadingAfrica bevorder literatuur uit Afrika

  • 0

Vanjaar is die derde jaar dat Catalyst Press, hul druknaam, Story Press Africa en hul Suid-Afrikaanse vennoot, Lapa Uitgewers, #ReadingAfrica vier.

Hierdie inisiatief  is ʼn weeklange veldtog op sosiale media, met die hutsmerk soos hierbo, om skrywers en literatuur uit Afrika op die voorgrond te plaas. Dis ʼn broodnodige inisiatief, meen ek. Selfs vir ons hier aan die suidpunt van Afrika is die skryfwerk van ons broers en susters na die noorde onbekend. En natuurlik, dit hoef nie gesê te word nie, literatuur uit Suid-Afrika is ook literatuur uit Afrika.

Te veel, en te lank al kry ons Afrika-skrywers eers blootstelling as hulle iewers in Europa of in Noord-Amerika beland. Dink maar aan Chinua Achebe, of Chimamanda Ngozi Adichie. Of Frantz Fanon wat eers met die Fees Must Fall-veldtog weer afgestof en herlees word. Of Bessie Head, wat alhoewel sy ʼn Suid-Afrikaner is, veral bekend is as skrywer van Botswana. Weer ʼn backstory van politiek wat kuns probeer doodsmoor. Of Lupita Nyong’o wat eers as Hollywood-aktrise moes naam maak voordat sy kon skryf. Die lys gaan aan.

Vir skrywers uit Afrika, of in elk geval vir die skrywers wat ek graag lees, is politieke en sosiale kommentaar  onlosmaaklik deel van hul stories. Maar natuurlik is dit nie waar van alle verhale nie.

#ReadingAfrica probeer die diversiteit van literatuur uit Afrika, geskryf deur skrywers uit Afrika, tentoonstel. En daar is soveel ongelooflike talent wat uit hierdie moederkontinent kom.

Izak de Vries, geen onbekende in Afrikaanse literatuursirkels nie, word in die Catalyst Press-persverklaring as volg aangehaal: “Africa has beautiful stories to tell. From Somalia to Cape Town, Timbuktu to Maputo, Africa is bursting with stories. I urge publishers to participate. Let us share our African stories. Let us learn from each other.”

Natuurlik is dit nie net uitgewers wat deelneem nie, want wat is ʼn boek sonder ʼn leser? Hoe kan lesers deelneem? Gaan op sosiale media, gebruik die hutsmerk #ReadingAfrica of #ReadingAfricaWeek, en vertel watter boeke of skrywers uit Afrika ʼn besondere indruk gemaak het. Dit maak nie saak watter genre die teks is nie. Dit maak nie saak of dit ʼn gedig, kortverhaal, drama of roman is nie. Dit maak nie saak in watter taal dit geskryf is nie. Al wat saak maak, is dat dit die pennevrug van ʼn kind van Afrika is. Hierdie hele week lank, van 1 tot 7 Desember, hoop ek om op Twitter, Facebook, Instagram of watter ander platform ook al in gebruik is, te sien hoe mense ons eie literatuur vier.

Dit hoef ook nie net nuwe boeke te wees nie. Ons almal het mos maar ou gunstelinge wat ons van tyd tot tyd afstof en weer lees. Wat sosiale media so fantasties maak, is dat daar altyd iemand is wat ’n mens aan ʼn ou gunsteling kan bekendstel.

My uitdaging aan elke leser hierdie week: probeer ten minste een boek uit Afrika elke dag op sosiale media tentoonstel. En my baie subjektiewe mening, Out of Africa tel nie. Dis geskryf deur ʼn Deen, al gaan dit oor haar avonture in Afrika.

So, laat ons kreatief wees en skrywers uit Afrika opsoek, herlees, dalk nuut ontdek en begin lees. Ex Africa Semper Aliquid Novi ─ uit Afrika altyd iets nuuts. Of dit nou Plinius of die Griek Aristoteles was wat hierdie frase eerste gebruik het, die uitdaging staan. Ek hoor graag: watter skrywers uit Afrika maak impak op u?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top