Rassisme, nasionalisme en die Gereformeerde tradisie: ’n onderhoud

  • 4

Pieter GR de Villiers het ’n onderhoud met Jan Adriaan Schlebusch gevoer nav sy LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel “Rassisme, nasionalisme en die Gereformeerde tradisie: ’n narratiewe benadering”.  

...............

Van waar kom jou belangstelling in die onderwerp van rassisme en nasionalisme? En waarom is dit vir jou belangrik om vanuit ’n Gereformeerde hoek daaroor na te dink?

Dit het grotendeels te make met my persoonlike agtergrond. Ek was in die NG Kerk gedoop, maar het die grootste deel van my lewe as dooplidmaat in die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) spandeer.

Met die APK se skeuring met die NG Kerk in die laat 1980’s was die kwessies van rassisme en nasionalisme natuurlik deurslaggewend. My oupa, wat vir jare ’n LV vir die Nasionale Party was, is gedurende die week na my doop in 1989 op ons familieplaas vermoor.

Die trauma wat hiermee gepaard gegaan het, het ’n enorme impak op ons gesin gehad. Gegewe my kerklike en familie-agtergrond, moes ek as kind en jong student met hierdie kwessies worstel. Namate ek blootgestel is aan wat oorvereenvoudigde narratiewe vanuit beide kante van die politieke spektrum verteenwoordig, het ek daarna gestreef om dit te oorbrug.

Daarom het ek heelwat tyd gewy aan die bestudering van hierdie onderwerpe in die lig van my kerklike agtergrond. Vandag is ek en my gesin aktiewe lidmate by ’n Engelstalige Anglikaanse kerk.

Jy vertel in jou artikel van die nuwe narratief binne die Gereformeerde tradisie wat rassisme en nasionalisme afwys. Wat dink jy is die faktore wat hierdie ommekeer gebring het?

Dit het te make met die bronne wat deurslaggewend geword het binne die konteks van Gereformeerde teologie. Natuurlik was en bly die Bybel steeds vir Gereformeerdes belangrik, maar tog is hierdie ontwikkeling ’n betreklik onlangse een.

Ek meen dat met die aanvang van die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog ’n nuwe beskouing van die mens, gegrond op die idees van gelykheid en universele menseregte binne die konteks van die modernisme, in toenemende mate deurslaggewend geword het.

Ek verwys in my artikel na Tim Keller se erkenning van die bydrae van die Frankfurt-skool – ’n 20ste-eeuse skool wat grotendeels uit die idees van post-Verligting-denkers soos Freud, Hegel en Marx ontwikkel is. Hierdie erkenning het groot waarde in terme daarvan om die historiese ontwikkeling van hierdie ommekeer te verstaan.

Gereformeerdes maak altyd aanspraak daarop dat die Bybel die hoogste gesag vir kerklike besluite is.

Jy wys daarop dat daar ’n groot klomp Gereformeerde denkers is wat in vorige tye rassisme en nasionalisme positief beoordeel het, terwyl baie dit deesdae as dwalings verwerp.

Daar is nog baie ander sulke voorbeelde van sake waaroor die kerk vandag radikaal anders dink en optree as vroeër.

Dink maar aan sake soos slawerny, apartheid, die status van vroue en ander minderheidgroepe. Of selfs ander sake soos kleredrag in die kerk, handel dryf op Sondag, en selfs iets soos verassing, wat vroeër taboe was.

Tas sulke drastiese verskuiwings in die kerk se denke nie die gesag van die Bybel onherroeplik aan nie?

En hoe dink jy raak dit die geloofwaardigheid van die kerk? Hoe moet die kerk sulke verskuiwings teenoor sy lidmate verduidelik of regverdig? 

Die Gereformeerde leerstellinge van sola scriptura (net die Skrif) en semper reformanda (deurlopende hervorming), ten minste soos dit algemeen uitgelê en verstaan word, is myns insiens onvoldoende in terme van die regverdiging van hierdie verskuiwings.

Dit hou eerstens nie rekening met kulturele invloede wat ongetwyfeld inspeel op teologiese ontwikkeling nie. Verder hou dit nie rekening met die rol van ’n lewende tradisie nie. Gereformeerde besprekings aangaande kanoniek wat die grondslag van enige Skrifbeskouing vorm, hou byvoorbeeld oor die algemeen nie rekening met die feit dat dit vir die vroeë kerklike tradisie juis deurslaggewend was in dié verband nie.

Dit het op sy beurt weer ’n vreemde Skrifbeskouing – asof dit sou los staan van enige histories-ontwikkelde teologiese tradisie – tot gevolg. Ek dink die regverdiging van progressiewe tendense binne Gereformeerdheid vandag skiet juis tekort ten opsigte van geloofwaardigheid weens ’n gebrek aan hierdie nodige vastigheid.

Hoe dink jy as jonger teoloog oor die taak van die kerk oor hierdie aktuele sake? Wanneer kan die kerk oor hierdie sake uitsprake maak en wanneer is dit beter vir die kerk om liewers daaroor te swyg?  

Heelwat van my teologiese uitgangspunte gaan nie noodwendig deur ander van my generasie gedeel word nie. Ek is egter van die oortuiging dat die belydenis van Christus as Here omvattende implikasies het vir elke aspek van ons lewe.

Daar is niks wat buite sy heerskappy val nie. Dit sluit in ons omgang met vriende, ons beroepslewe, ons sekslewe, ons stokperdjies ens. Die kerk het egter die verantwoordelikheid om, sover moontlik, sensitiewe kwessies met sensitiwiteit te benader. Aan die een kant is daar ’n tyd om stil te bly (Spr 3:7); aan die ander kant beveel die apostel Paulus ons om die Woord te verkondig selfs wanneer dit ontydig is (II Timótheüs 4:2).

Jy het onlangs in Nederland jou doktorsgraad oor een van die bekendste en invloedrykste Gereformeerde figure uit die Nederlandse geskiedenis afgehandel. Vertel waarom jy dié studie onderneem het en hoe dit jou teologiese denke geraak het.

Ek het die radikale politieke omwenteling in ons land gedurende die 1990’s as ’n kind meegemaak. Namate ek ouer geword het, het ek toenemend die noodsaak gevoel om sin te maak van die geskiedenis asook die sosiopolitieke realiteite wat ek eerstehands ervaar het.

As student het ek via my pa met Guillaume Groen van Prinsterer se werk, met name Ongeloof en revolutie, bekend geword. Sy Christelik-historiese benadering, veral met betrekking tot politieke teorie en historiografie, het toe ’n groot indruk op my gemaak.

Die indruk was blywend, want toe ek jare later ’n navorsingsvoorstel by die Teologiese Fakulteit van die Rijksuniversiteit Groningen moes indien, was daar by my geen huiwering nie. Via Groen het ek in kontak gekom met ’n ryk tradisioneel konserwatiewe tradisie waarby ek besondere aanklank gevind het.

Binne hierdie tradisie is ek geraak deur vooraanstaande kontrarevolusionêre Christelike denkers soos Edmund Burke, Joseph de Maistre, GK Chesterton, Alexandr Solzhenitsyn en Russell Kirk, asook hedendaagse publieke intellektuele soos Patrick Buchanan en sir Roger Scruton.  Hierdie tradisie se klem op die tydloosheid van die morele en sosiale skeppingsorde bied die nodige vastigheid waarna ek vir lank gedurende my reis as teoloog op soek was.

Die geskiedenis van Nederlandse kerke is vol voorbeelde van intense debatte oor teologiese kwessies wat vandag onbelangrik geword het.

Destyds het die kwessies meer as een keer tot groot kerkskeurings gelei en bitter, jare lange verwydering tussen groepe tot gevolg gehad.

Hoe is dit moontlik dat sulke reusedebatte oor teologiese kwessies net eenvoudig van die toneel verdwyn?

Dit is inderdaad ’n hartseer element wat kenmerkend is van die Nederlandse kerkgeskiedenis. Wat wel interessant is van Groen van Prinsterer, is juis die feit dat hy as behoudende binne die raamwerk van die meer vrysinnige Nederlands Hervormde Kerk funksioneer het.

Ten spyte daarvan het hy die godsdiensregte van die afgeskeidenes buite sy eie kerkverband verdedig. Ek dink die brandende teologiese kwessies van die dag verander ook namate die konteks verander.

Dit sou onverantwoordelik wees om sonder deeglike begrip van die verlede summier debatte uit die geskiedenis as nietig af te maak. Nietemin, dat daar met tye met ’n gebrek aan wysheid opgetree is, is duidelik.

Toe ek in Groningen gewoon het, het ek eendag met my niekerklike buurman oor my studie gesels. Hy vertel my toe dat sy pa die kerk verlaat het na aanleiding van die sogenaamde Vrijmaking van 1944, toe die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) geskeur het met die Gereformeerde Kerken in Nederland.

Vir hom was dit skrikwekkend dat ’n debat oor die aard van wedergeboorte met betrekking tot die doop vir mense in die kerk so bepalend was – en dit te midde van die verwoestende Tweede Wêreldoorlog. Hierdie is ’n voorbeeld by uitstek van ’n bitter kerkskeuring wat op die mees ongeleë tyd denkbaar plaasgevind het.

Hoe voel jy oor die erfenis wat die apartheidsera vir die jongmense van ons land agtergelaat het? Hoe dink jy as jong teoloog oor die toekoms van die kerk?

Dit breek my hart as ek dink aan die spanning en verwyt wat daar vandag onder soveel jongmense in ons land bestaan. Dit is jammer dat soveel Suid-Afrikaners, beide in die geskiedenis en ook vandag, faal in die navolging van die bekende goue reël om aan ander te doen wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

Die toepassing hiervan oor kultuurgrense heen sou soveel pyn en haat kon verhoed. Die land se geskiedenis en demografiese samestelling sorg egter nou eenmaal vir komplekse sosiopolitieke en sosio-ekonomiese realiteite waarmee ons ernstig rekening sal moet hou.

Dit help nie om lewenslank te bly wegkruip agter ’n duiwelsvurkheining in ’n gegoede woonbuurt nie. Gesprekke om die braaivleisvuur gaan op sigself ook nie hond haaraf maak nie. Ons as burgers van hierdie land sal aktief moet begin werk aan oplossings.

Die kerk het ’n bepaalde roeping wat gebou is op die belydenis van Jesus Christus as soewereine Here. Die kerk het gebloei in tye waarin sy daardie roeping ernstig en doelgerig opgeneem het.

Ongelukkig blyk toenemende kerklike verskeurdheid ’n verskynsel van ons tyd te wees. Verder sien ons ook toenemende dekonfessionalisering of sekularisering.

Die toekoms kan egter enorme geleenthede vir die kerk inhou. Daar word toenemend op internasionale vlak gedink in terme van ’n postsekulêre samelewing.

Indien hierdie tipe ontwikkeling in Suid-Afrika na vore sou tree, sou dit ’n geleentheid bied wat die kerk met ope arms sal moet aangryp.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Schlebusch het die paadjie van die APK tot in die Anglikaanse Kerk geloop. Hy erken die rol wat die marxistiese Frankfurt-skool en modernisme daarin gespeel het. Deurlopende hervorming is soortgelyk aan deurlopende revolusie soos verkondig deur die marxiste. Die resultaat is die fundamentele ontaarding van wat eens was; nie net van bv die NG Kerk nie, maar ook van wat hy as Afrikaner was. Daardie verandering/transformasie is nie noodwending verbetering nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ja nee Johannes. Is soos jy sê daar. Kovsies het sy merk gelos. Soos op my ook. En ek dink ek sal dalk 'n preek kan deursit in dié geval. Maar hoogstens een.

  • JA Schlebusch
    JA Schlebusch

    Baie dankie vir jul terugvoer Johannes en Barend.

    Ek noem dit nie uitdruklik in die onderhoud nie, maar my historiografiese oorsig oor die ontwikkeling van die huidige gangbare standpunte oor rassisme en nasionalisme impliseer natuurlik nie noodwendig 'n goedkeuring van die Frankfurt skool nie. Ek lys onder die denkers wat die grootste impak op my gehad het o.a. Patrick Buchanan, wat welbekend is vir sy velle kritiek teen die Frankfurt Skool.

    Ek is persoonlik van mening dat ons Suid-Afrikaanse (teologiese) konteks juis vra vir 'n meer genuanseerde posisie ten opsigte van hierdie kwessies as wat deur bv. die APK se kerkorde aan die een kant, en bv. die Marxistiese posisie aan die ander kant verteenwoordig word.

    NS: Ons moet ook nie vergeet van 1) die lang lys konserwatiewe denkers/teoloë wat die Anglikaanse kerk opgelewer het en 2) die feit dat die term "Anglikaans" (asook haar kerklike tradisie) opsig self nie histories losgemaak kan word van bepaalde etniese konnotasies nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    J.A.: Ek support alle kerkskeurings. Daar is genoeg ruimte op ons karoovlaktes vir elke sekte! Johannes wonder of jy nog 'n goeie boerkind is. Ek het reeds klarigheid oor die saak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top