Ramaphosa se skoonmaakbeleid en die ANC se kandidatelys

  • 0

Die twyfelagtige mense op die ANC se kandidatelyste en Cyril Ramaphosa se ongewilde stormram Tito Mboweni maak die President se planne om die ANC te vernuwe uiters moeilik.

Om die waarheid te sê, die samestelling van ANC-kandidatelyste vir die parlement en provinsiale wetgewers en Mboweni, die minister van finansies, se onsensitiewe middernagtelike twiets vergestalt die sentiment dat die ANC op die glybaan van ʼn algehele morele verval is.

Dit is ʼn bewys dat die ANC nie bekommerd is oor sy – soos die ANC dit in sy Mangaung-resolusies oor “organisatoriese vernuwing” in 2012 gestel het – morele verval en vrot beeld is nie.

Daar is ’n diepe besef en gevoel by Ramaphosa dat die ANC hom van binne moet vernuwe, maar die ANC as organisasie voel blykbaar anders. In die openbare domein is die algemene siening dat die ANC sedert sy Polokwane-kongres in 2007 van die kop af na onder verrot.

Ook is Suid-Afrikaners diep bekommerd omdat baie ANC-kaders wat sleutelposisies in die staat en breë samelewing beklee se eties-morele beginsels vloeibaar geword het, wat die ANC en veral die land se geloofwaardigheid onder verdenking plaas.

Die ANC-kandidatelyste met name wat hoofsaaklik deur skandes en skades agtervolg word, verskerp dié sentiment.

Boonop is lojale Ramaphosa-ondersteuners verwyder of onverkiesbaar laag op die lyste geplaas, terwyl twyfelagtige Zuma-ondersteuners baie hoog in maklik verkiesbare posisies geplaas is.

ANC-lede wat ʼn uitdagende perspektief op die ANC se korrupsie en staatskapingkarakter plaas, sal jou kan vertel hoe moeilik dit is omdat daar fluks gewerk word deur Zuma-ondersteuners om van hulle ontslae te raak.

Boonop stel Mboweni ook teleur, omdat hy persoonlike aanvalle op Twitter op ‘n menigte Suid-Afrikaners loods.

Hy het onlangs onder skoot gekom nadat hy in ʼn twiet voorgestel het dat diegene wat deur Standard Bank afgelê word, moet gaan boer. Dit volg nadat dié bank aangekondig het hy wil 91 takke teen einde Junie sluit. Nagenoeg 1 200 werknemers gaan in die proses afgedank word.

Mense het so woedend reageer dat hulle Ramaphosa aangemoedig het om vir Mboweni af te dank. Iets wat die President na alle waarskynlikheid nie gaan doen nie, omdat Mboweni tans as Ramaphosa se stormram of mokerman dien.

Mboweni moet dinge in die openbaar sê wat die President nie kan doen nie omdat dit lojale Zuma-ondersteuners woedend kan maak. Dit sou hulle in ʼn posisie stel om Ramaphosa se planne om die ANC te vernuwe en die land van die ANC se korrupsie en staatskaping te red, ondermyn.

Die wenkbroue het ook gelig toe Mboweni die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, in die openbaar aangeval het oor haar bevinding dat Dondo Mogajane, direkteur-generaal (DG) van die tesourie, oneerlik was toe hy nie sy misdaadgeskiedenis in 2017 openbaar gemaak het toe hy vir die pos as DG aansoek gedoen het nie.

Mense is reg om in beginsel Mboweni se gedrag hieroor te kritiseer, omdat dit allerweë beskou sou word dat die Minister inmeng by die openbare beskermer se werk en dat sy korrek en volgens die wet en reëls van die staatsdiens opgetree het deur die bevindings teen Mogajane te maak.

Die strategie agter die optrede deur Mboweni jeens Mkhwebane is egter van groter belang vir Ramaphosa se skoonmaakprojek. Dit is om ʼn klimaat te skep om van ʼn lojale Zuma-ondersteuner soos Mkhwebane ontslae te raak omdat sy nie in die President se skoonmaakplan inpas nie. Indien nie, gaan ons met haar opgeskeep sit vir die res van Ramaphosa se eerste termyn. Dit is in landsbelang dat sy so gou as moontlik uit haar amp geskop word, omdat sy in die pad staan van broodnodige verandering en die uitwissing van die ANC se korrupsie, staatskaping en plundering.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top