Rachelle Greeff se mentorhart oop vir nuwelingskrywers

  • 2

Rachelle Greeff (Foto: Karin Brynard)

Rachelle Greeff het oor jare heen vir haarself naam gemaak as ’n gerekende mentor vir opkomende skrywers. In 2020 is LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se eerste Kommadagga-slypskool onder haar leiding aangebied. Tydens dié slypskool is die talent van ses nuwelingskrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, vir drie weke lank in Somerset-Oos verfyn.

Die laaste sewe jaar was Rachelle betrokke by die Breytenbach Sentrum se skryfskool in Wellington, en vanjaar sit sy haar begeleiding van belowende skrywers onafhanklik voort in ’n kleiner, intieme formaat. Dit was juis tydens die 2020-Kommadagga-slypskool dat sy opnuut onder die indruk gekom het van die “toegevoegde waarde” wat interaksie met kleiner groepe studente bring. “Hoe kleiner die groep, hoe gouer kry ek ’n idee van elke kreatiewe stem, en kan ek gouer en skerper daarop reageer. Hoe minder beginner-storiemakers voor jou sit op die eerste dag, hoe gouer ontdek jy elkeen se kinkels en knope.”

As skrywer wat self groot hoogtes met veral kortverhale en dramas bereik het, is Rachelle sensitief vir skeppende siele se broosheid in die aansig van ontluikende talent. En juis daarom is die “tandem-oefensessies” wat sy saam met haar studente hou, gerusstellend vir beginners. “Studente se onsekerheid en vrees oor hul eie werk is die grootste gemeenskaplike deler,” sê sy. “Baie (nie almal nie) voel veilig as jy hulle vir eers in die holte van jou hand hou. Hulle kreatiewe sappe begin vloei sodra hulle sien ek erken hul weerloosheid omdat ek my eie weerloosheid ken en aanvaar. Mens moet dus aanspoor en ondersteun sonder om met ’n babateelepel te voer.”

Om skreiend eerlik te wees, is uiteraard belangrik, en dit is dikwels heluit moeilik. “Maar hier kom jy nie verby nie. As jy net gouestroop smeer, mors jy jou tyd en die student se geld. Humor help. My studente skater dikwels. Seker oor ek maklik vir myself kan lag,” sê sy.

Rachelle beplan om in 2021 ses studente vir ’n tydperk van ses maande in te neem. Groepsessies sal een keer per maand op ’n Saterdag van 09:00 tot 16:00 gehou word. Aansoeke sluit op 5 Maart, en belangstellendes kan haar by rageltjieg@gmail.com kontak vir besonderhede. Voornemende studente moet ’n kort motivering indien oor hoekom hulle die mentorskapprogram wil deurloop, en ook ’n voorbeeld van hul skryfwerk – maksimum 300 woorde – instuur.

Kortverhale, rubrieke en essays is Rachelle se forte, maar sy pas graag aan by die behoeftes van voornemende studente. “’n Paar van my studente het reeds as romansiers gedebuteer. Wanneer ek met ’n ander mens se roman werk, is ek helder.” Studente kan hulle regmaak vir harde, prettige werk, en “skeppende spronge wat hulle nie sou kon vooruitsien nie”.

“Ons werk vanuit die staanspoor met die oog op publikasie en studente word van heel vroeg aan lede van die uitgewersbedryf en suksesvolle skrywers voorgestel,” vertel Rachelle. “Hulle moet weet hoe die groter boekewêreld lyk, nie illusies hê nie, en weet waarvoor hulle hul inlaat.

“Skryf is allenig, nie glamorous nie en jy bestee uiteindelik meer tyd aan herskryf as aan die neersit van die oorspronklike storie.” Gevestigde skrywers wat al ’n ent pad geloop het, sal hierdie stelling uit een mond beaam. “En ek deel net so openhartig die bloed en blapse van my afgelope veertig jaar in die skryfbedryf. Ek het begin as angsbevange verslaggewertjie wat nie geweet het hoe om ’n onderskrif by ’n koerantfoto te skryf nie. Maar ’n mens leer veral uit jou foute. Hiersonder is jy futloos.”

Prominente gaste uit die skrywers- en uitgewerswêreld sal hul kennis met studente deel. Mense soos Deon Meyer, Jan van Tonder, Karin Brynard en Ingrid Winterbach was in die verlede al stergaste van Rachelle se skryfprogram. “Wyle Margot Luyt het kom vertel hoe om ’n radiodrama te skryf. Ek het verlede jaar vir die eerste keer ’n filmmaker betrek. Sy het ’n mini-werkwinkel gehou oor die skryf van ’n kortfilm. Dit was erg gewild en ek herhaal dit vanjaar as genoeg studente hierin belangstel.

“Piet Grobler het uit Portugal met ons gepraat oor die maak van kinderboeke. Chase Rhys, dramaturg en rubriekskrywer vir Rapport, het ook via Skype by ons gekuier.” Hierdie hutspot van mense en menings is vir Rachelle van onskatbare waarde: “Dis my verantwoordelikheid om studente die kans te gee om so wyd as moontlik te sien, hoor en leer.”

Enkele van die publikasies wat onder Rachelle se leiding ontwikkel is, is Jean-Pierre de Kock se roman Die daggaboer en Willem Krog se Alleen onder die maan. Brian Fredericks se kortverhaalbundel, As die Cape Flats kon praat, het by Human & Rousseau verskyn, en die ontvangs was besonder goed. In die jare wat Rachelle met Brian saamgewerk het, het hy ook twee maal die gesogte jaarlikse Woordfees-kortverhaalbundel gehaal. Fredericks sê: “Rachelle lees jou werk met valkoë. Sy’t my ook geleer die duiwel is inni detail.”

Ander eertydse studente wat hul kniebuiging in die Woordfeesbundel gemaak het, is Natie Engelbrecht, Jean-Pierre de Kock en Stefanie Hefer. Nog ’n oudstudent, Elisha Zeeman, was in 2017 ’n wenner van PEN Afrikaans se New Voices-slypskool met die storie “Die Mystic en die vlieg”.

Misdaadskrywer en mediapersoonlikheid Irna van Zyl beskryf Rachelle in haar Bloedsteen, wat verlede jaar by Penguin verskyn het, as die “briljante juffrou van die skryfskool”. Albert Maritz, die akteur, regisseur en dramaturg, getuig dat Rachelle se skryfwerkwinkels “’n groot én klein wêreld” vir hom oopgemaak het. “Die groot wêreld is die een van genre, tegniek en styl, en die klein wêreld die detail van sig, kleur en geur.”

Theltom Masimila, draaiboekskrywer en vervaardiger van die TV-reeks Arendsvlei, het in 2016 sy tande by Rachelle gaan slyp. Hy het agterna as skrywer by Suidooster en 7de Laan ingeval. “Ek het geleer om my stories te ‘interrogate’ en het weggestap met die selfvertroue om my werk aan kykNET voor te lê,” vertel hy.

Lize Albertyn-du Toit, wat in 2020 aangewys is as wenner van die South African Literary Awards se Afrikaanse kategorie vir ’n debuutskrywer, se Die kinders van Spookwerwe, is ook deur Rachelle se mentorhande. “Ek is ’n boervrou,” vertel Lize. “Eers was ek skrikkerig oor die deel van my werk met ’n klomp onbekende mense. Maar toe ek sien die skryfsessies is sonder bedreiging of veroordeling, het my kreatiewe sluise oopgemaak.”

Rachelle Greeff verkies om eerder van ’n “mentorhart” as van “mentorhande” te praat. Soos Hennie Aucamp is sy hartstogtelik oor die aangee van skryfkennis.

Vanselfsprekend sal alle COVID-19-protokol tydens die mentorskapsessies geld. “Natuurlik, dis nóg ’n rede hoekom ek die groep klein wil hou,” sê sy. “En as die pandemie weer ons groepsessies in die wiele ry, soos vir etlike maande laas jaar, bied ek dit weer aanlyn aan.”

  • Belangstellendes wat hul skryftalent by Rachelle Greeff wil slyp, kan haar kontak by by rageltjieg@gmail.com
  • 2

Kommentaar

  • Theolla Langenhoven

    Rachelle Greeff is 'n wonderlike mentor. Sy gee jou nie net raad oor jou skryfwerk nie, maar stel ook belang in jou as mens en bou 'n verhouding met jou op. Dit gee mens die idee jou skrywe is nie net jou 'talent' nie, maar eintlik jou hele menswees. Laat jou besef wat jy doen, wie in jou lewe is en waarheen jy op pad is, beinvloed jou skrywe.
    Maar, sy weet ook hoe om opbouende kritiek te gee, sonder om jou as mens of ontluikende skrywer te knak. Sy is kwai soes dai!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top