Raaiselster: ’n onderhoud met Troula Goosen

  • 0

Foto van Troula Goosen: verskaf

Raaiselster
Troula Goosen
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798178976

Naomi Meyer vrae vir Troula Goosen oor Troula se boek Raaiselster, ’n jeugroman wat in 2019 verskyn het.

Troula, baie geluk met Raaiselster – ’n historiese-gruwel-riller-jeugroman, soos wat die agterblad van die boek dit beskryf. Of hoe sou jy die boek se genre in jou eie woorde verduidelik?  

Met Raaiselster daag ek die jong leser (10–12) uit om op ’n tydsreis te gaan! Wanneer hulle die boek oopmaak, is hulle skielik in die Kaap van 120 jaar gelede – ’n vreemde wêreld, half-bekend en tog ook opwindend anders. Die leser beleef naelbytavonture, ontmoet fantastiese karakters en raak ’n bietjie verlief ook. Die belangrikste is egter ’n tergende geheim, ’n raaisel wat hulle móét oplos om te oorleef ...

Alhoewel jou beskrywing in die kol is, sal ek Raaiselster sommer as ’n raaiselstorie beskryf. Om die waarheid te sê, dit is die tweede boek in ’n reeks waarvan Raaiselklip (2018) die eerste was. Raaiselsee, die derde boek, verskyn in 2020. Al drie stories speel in die negentiende eeu in die Kaap en omgewing af.

As kind was ek mal oor oudtydse stories en aangesien daar tans nie veel historiese jeugromans in Afrikaans beskikbaar is nie, het ek besluit om my hand daaraan te waag.

Die tydperk en omgewing waarteen jy jou boek laat afspeel, is interessant. Dis die tyd van die Diamantstormloop, mense begin in die res van die land praat van elektrisiteit (dis amper so ‘n groot gesprek soos wat elektrisiteit op die oomblik in die land is). Daar is ’n seun wat sy ouers verloor het, en ook ’n oerding wat hom bang maak. Wat was vir jou die inspirasie vir die storie? 

Gewoonlik besluit ek heel eerste wáár ’n storie gaan afspeel. Daarna skep ek die karakters en besluit dan wat met hulle gaan gebeur. Met Raaiselster was my inspirasie die tolhuis in Michellspas. Die huisie lê my na aan die hart omdat my pa, JP Venter, in 1971 die hoof van Laerskool Gericke, hom daartoe beywer het om dit tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar te kry. Vandag is dit die enigste van Ceres se ou geboue wat bewaar gebly het.

Die tolhuis is opgerig kort nadat Michellspas in 1848 deur Andrew Geddes Bain en 240 gevangenis voltooi is. Na die ontdekking van diamante was dit op die hoofroete van die Kaap, deur Ceres en tot in Kimberley. Vinnige poskoetse met hul vars perde en swaargelaaide togwaens het dus hier deur die tol gegaan op pad verby Ceres en deur die gevaarlike Tankwa-Karoo wat met wit doodsbeendere besaai lê.

Watter heerlike, avontuurlike tyd vir ’n storie om af te speel! Ek het besluit die jaar 1880 is nommerpas en was verras om te lees dat daar juis in daardie jaar ’n groot diamantroof by die poskantoor in die Kaap plaasgevind het. Al dié lekker brokkies geskiedenis het ’n plek in die storie gekry.

Die hoofkarakter is die veertienjarige Leopold, skatryk, aantreklik en gewild. Toe sterf sy ma aan tering en kom hy agter dat daar niks oor is van die geld waarop hulle so rojaal geleef het nie. Oom Barend, ’n boggelrugtogryer met sy hond, Asem, bied aan dat hy saam met hom na die Diamantvelde reis om sy fortuin te maak. Leopold aanvaar die aanbod en pak die gevaarlike tog aan. Sy enigste geselskap op pad is die bitsige touleiertjie, Sarel. Maar is Sarel regtig wie hy voorgee om te wees?

In Michellspas gaan hulle deur die tol en maak hy kennis met die geheimsinnige tollenaar, oom Arius. Op Ceres gekom, laat die beeldskone Emily sy hart vinniger klop, al kan hy nie help om te wonder of sy nie dalk ’n spook is nie.

Maar dan begin alles verkeerd loop ...

Ek het ’n hele paar van Raaiselster se karakters “ontmoet” toe ek by die Tolhus Bistro aan roosterkoek gesmul het. Cathy, een van die baksters, het my vertel van die vreemde verskynsels wat daar rondhang. Van die man in die swart jas wat soms inkom en voor die vuurherd gaan staan. Van die blonde vrou/meisie met haar wit hondjie wat uit die bloute verskyn en verdwyn. En van die skrikwekkende gesig wat ’n personeellid eendag op ’n klip agter die huis gesien het, iets tussen ’n mens en ’n bobbejaan.

Wat is vir jou lekker daaraan om boeke vir jong lesers te skryf – en wat is uitdagend?

Alhoewel baie mense kinder-en jeugboeke as minderwaardig teenoor volwasse lektuur beskou, sien ek dit as is ongelooflik belangrik. Ek sal die boeke wat ek as kind gelees het, net nooit vergeet nie. Dit speel só ’n belangrike rol in die vorming van jong lewens en kweek die lesers van die toekoms. Maar dis veral kinders se wonderlike verbeelding wat my fassineer. In ’n jeugboek is alles moontlik!

Wat vir my uitdagend is, is die feit dat die wêreld waarin die kinders van vandag leef hemelsbreed verskil van die een waarin ek grootgeword het.

Jou boek handel oor die Diamantstormloop, maar daar is ook ’n stuk geskiedenis waaroor jy skryf waarvan meer mense behoort te lees. Ek praat van die sterrereën en van ontdekkings in die Bokkeveld. Hoe het jy jou navorsing hieromtrent gedoen? En wil jy hierop uitbrei, sonder om te veel van die storie te verklap?

Die meeste van my storieidees het ek tydens ’n besoek aan die Togryersmuseum op Ceres gekry. Daar het ek gesien hoe oom Barend se bokwa en juffrou Estrelita se lykswa lyk. Daar het ek gelees van die sterrereën en van die rooi hand van Sara se voormense wat so ’n belangrike rol in die ontrafeling van die geheim speel. Verder het my man ’n heerlike versameling ou boeke en is hy altyd behulpsaam om relevante inligting te soek.

Vir skole wat Raaiselster wil gebruik, is daar talle fassinerende feite wat nagevors kan word. (In 2020 gaan daar ook ’n gratis onderwysgids beskikbaar gestel word.) Sommige feite is in die kol – soos byvoorbeeld die diamantroof wat ek beskryf nes dit gebeur het, ander bewimpel ek effens om die storie te pas. Ek impliseer byvoorbeeld dat die meteoriet in die nag geval het deur van ’n sterrereën te praat, maar volgens wat ek kon navors, het dit in die dag gebeur.

Raaiselster is ’n boek wat vir my hadel oor hoe die mense van hierdie land dalk tog ’n geskiedenis en ’n verlede deel. Hoe het die skeppingsproses daarvan vir jou gewerk? Baie geluk daarmee, en met die manier hoe al die drade geknoop het.

Deur my Raaiselstories wil ek die kinders van ons land inspireer om Suid-Afrika lief te hê, om te voel hulle behóórt – aan ons land én aan mekaar. Ons deel ’n geskiedenis en ’n toekoms. In ons geskiedenis was baie trane, maar saam kan ons ’n nuwe, positiewe toekoms bou.

Ek doen wel vooraf beplanning. Ek weet byvoorbeeld waar die storie gaan afspeel, wie die karakters gaan wees en breedweg hoe die storie gaan verloop - die navorsing wat ek doen, speel ook ’n rol hierin – maar hierdie beplanning beslaan gewoonlik nie meer as ’n bladsy nie. Wanneer ek begin skryf, is daar ook organiese ontwikkeling.

Dit het my so ses maande geneem om Raaiselster te skryf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top