Pyn – die onderskatte moordenaar

  • 1

Fotobron: Pixabay.com

Hei’land [i] s.nw …

UITDR.
Jou Heiland leer ken (profaan), op onaangename wyse ondervind wat jy nooit verwag het nie; swaarkry.

Trefwoorde: pyn, begrip, genadedood, selfdood

Die beskrywing wat hier volg, spruit uit persoonlike ervaring. Die sneller is getrek deur ’n berig wat ek pas al dartelend, ligweg en terloops in ’n tydskrif gelees het. Dit handel oor ’n bekende akteur se vrou wat aan ’n chroniese pynlike kwaal ly, asook ’n kort reeks op RSG, Die tronk van pyn. Dit het my laat besef dat baie mense, ten spyte van hulle positiewe houdings eintlik al so ’n bietjie van hel op aarde ervaar. En ons deursneemense weet dit nie en ons maak nie in ons daaglikse handel en wandel daarvoor voorsiening nie. Ek bedoel die volgende met alle erns en respek as ek dit sê: Baie mense het hul Heiland agv wil-nie-ophou-nie-pyn soos ek leer ken, letterlik en figuurlik. Hoeveel mense weet wat chroniese pyn is, van daardie hel wat nooit ophou nie en alles oorneem, hoe dit ervaar word, wat dit aan jou lewenslus doen, wat dit aan jou psige doen, wat dit aan jou humeur doen? Jy praat nie daaroor nie, want jy wil nie ander met jou jeremiades pla nie. Dit gaan dus meestal onbewustelik by hulle verby. Ons is mos stoïsyns. “Hoe gaan dit?” “Nee, dit gaan goed. Kan nie kla nie.” Mens wil nie as ’n klakous gesien word nie, dus is ons so ’n bietjie oneerlik. “Nee, dit gaan goed!” Nogals met ’n uitroepteken. Hoe groter daardie uitroepteken, hoe meer moet jy daaroor wonder. Ek dink die meeste mense het nie die vaagste benul van waardeur baie gaan nie. En dis deels ons eie skuld, omdat dit nie oukei is om daaroor te praat nie.

Ek self het nog altyd ’n positiewe houding in die lewe gehad en het nog altyd gevoel ek is geseënd en dat dit beter met my gaan as met die meerderheid van die samelewing – onverdiend, want ek glo vas dat niemand my iets skuld nie. Inteendeel, ek skuld die samelewing, my eie mense, my familie ’n positiewe bydrae deur my lewenswyse. Ek wil egter my ervaring met jou deel, nie om te kla nie, verre daarvan, maar om ’n yslike probleem onder jou aandag te bring. Dit wat ek ervaar (het), val seer sekerlik verreweg nie in dieselfde klas as diegene waarna in die eerste paragraaf verwys word nie, maar hulle verwoord dit in gesproke taal, wat ek nie kan doen nie, weens ’n spraakaantasting ná my beroerte, maar ek kan wel skryf oor my eie ervaring om so ’n ietsie daarvan oor te dra.

Wat is mense se reaksie as jy sê jy ervaar pyn? Mense bedoel dit werklik goed en sal jou vinnig raad/rate gee, ipv om liewer niks te sê nie en miskien net ’n begrypende hand op jou te lê.

“Man, drink ’n pil of kapsule en alles is weer reg. Indien die pyn erger is, laat jou inspuit.”

“Wat is jou probleem? Kry vir jou magnesiumolie, smeer dit aan en al jou pyne verdwyn soos mis voor die son.”

“Hier is vir jou ’n bietjie dagga-olie. Gebruik elke dag ’n druppel onder die tong en jy’s ’n nuwe mens.”

“Het jy al van hierdie XYZ nuwe medikasie vir pyn gehoor?”

“Wat van iets soos Trepiline?”

“Fisioterapie werk goed. Probeer dit gerus. Dis goedkoop en werk soos ’n bom. Dit het vir ’n vriend van my se ma se vriendin se dogter wondere verrig. Probeer dit gerus.”

Ja, ek het ál daardies wel probeer, soms met feitlik dramatiese rampspoedige gevolge. Ek kan ’n mooi lysie van verslawende en nieverslawende medikasiemiddels wat ek die afgelope ongeveer 24 maande gebruik het, maak. Noem maar op, die kans is goed dat ek dit al probeer het. Regte chroniese pyn lag uit sy maag uit vir al hierdie standaard pynpille en kapsules en rate, want hulle spreek normaalweg nie die senuweestelsel aan nie, en dis waar die probleem lê. Die medikasie wat ek tans gebruik, stel die werking van die neurone wat die waarnemings na die brein in die senuweestelsel vervoer, gedeeltelik buite werking. ’n Mens kan ook nie te veel van hierdie medikasie neem nie, want dan verloor jy totaal beheer. Die liggaam benodig daardie konneksies om jou te laat funksioneer. Die gevolg is dat pyn verlig kan word, maar nooit heeltemal kan verdwyn nie, want dan is jy in ander opsigte in die moeilikheid.

Waarop stuur ek af?

Ek is in die posisie dat ek tot ongeveer 18 maande na ’n redelik ernstige beroerte goed aangegaan het en ’n redelik goeie herstel beleef het. Ek was bewus van pyne wat soms kop uitsteek, maar dit was nie te erg nie en van verbygaande aard. Tot op daardie stadium het ek regtigwaar niks gehad om oor te kla nie. Daar was wel tye wat ek gesit en vir myself gesê het: “Moet net nie dink nie, moet net nie dink nie. Dit sal nou-nou verby wees ...” Die nou-nou het ongelukkig egter al hoe langer geduur. Ek kon altyd in alle eerlikheid sê “Dit gaan goed!”, want alles hét goed gegaan. Aanvanklik was die pyne soms effens, en soms intens maar van korte duur. Dit het egter ongelukkig stelselmatig in felheid toegeneem. Dit sluip op jou af soos ’n dief in die nag. Voor jy jou kom kry, oorheers dit jou lewe. Die huisdokter het gesê my houding in my rystoel is verkeerd en dis dan die oorsaak van die pyn. Ek het geweet dis nie dit nie, want posisie en houding in die rystoel is iets waaraan ek nogal aandag gegee het en wat meer is, die aanvalle was meestal snags op sy ergste. Hy het ook maar na strooihalms gegryp en nie van beter geweet nie. Nadat ek oor ’n tydperk die derde of vierde keer by hom was, en twee maal X-strale geneem is ens, het hy steeds gedink ek verbeel my die graad/werklikheid van die pyn en as ek my dit nie verbeel nie, is dit daar danksy my eie toedoen, op een of ander manier, maar hy het my uiteindelik tog op my aandrang na ’n neuroloog verwys. Die neuroloog het ’n MRI-skandering laat doen met geen uitsluitsel nie.

Die uiteinde van hierdie oefening was, nadat hy ook oor ’n tydperk verskeie middels probeer het, oa hoë dosisse vitamine B12, trepiline ens, dat hy die oordeel gevel het. Ek glo hy het die heeltyd geweet wat my probleem is, maar dat hy net wou seker maak. Dit staan bekend as SBPS, oftewel sentralebreinpynsindroom. As jy nog nie daarvan gehoor het nie, moenie sleg voel nie. Dit was vir my ook ’n nuwe ding. My algemene praktisyn het dit dan nie eens oorweeg nie. Dit kan selfs so lank as vyf jaar na die beroerte – lees breinskade – sy tande begin wys. En wys hy dit nie! Met groot genot en oorgawe, ja! Die area in die brein wat impulse, en in die besonder pyn, interpreteer en hanteer, is met die bloeding in die brein beskadig en dié weet nie wat om met die impulse te maak nie. Hy interpreteer doodgewone impulse, soos om aan iemand te raak, of om ’n boek op te tel, totaal weg van die waarheid af en dit kan soos ekstreme pyn of ekstreme koue voel. Soms kom dit in sonder enige impulse. Dit is ook soms deel van my waarnemings. Op die warmste tyd van ’n warm dag kry die hand en/of voet geweldig koud al is hy warm. Dis nou te sê as hy nie seer is nie. Die probleem is tweërlei van aard. Alle medikasies en rate het newe-effekte en ’n beskadigde brein vererger jou moontlikheid om van hierdie newe-effekte te ervaar. En as jy dit ervaar, gebeur dit in die oortreffende trap.

Tweedens, daar is weinig wat daaraan gedoen kan word. Gewone pynmedikasie help nie vir ’n breindisfunksie nie. In ekstreme gevalle word ’n inplanting in die rugmurg gedoen sodat jy self elektriese impulse soos benodig daarheen kan stuur wat dan die pyn sou verlig. Hierdie prosedure se sukseskoers is egter só laag dat ek net eenvoudig besluit het dis nie die moeite werd om dit te oorweeg nie. En les bes, wat ook al gedoen word, behandeling van watter aard ook al ruk jou beursie aan flarde. Die mediese fonds raak uitgeput voor jy kan sê “eina”. Die goedbedoelde raad en rate wat mense graag met jou deel, kan ’n mens probeer, maar dit kos jou. Ek het meer as een maal medikasie van verskeie honderde rande weggegooi omdat die newe-effekte te erg was om daarmee saam te leef.

Wat ek hier beskryf, is my persoonlike ervaring en sal beslis van persoon tot persoon verskil. Trek ’n hemp aan en die aanraking van die materiaal op my arms word geïnterpreteer as iemand wat my armhare moedswillig trek, nie speel-speel nie, maar met die doel om seer te maak. Wanneer my ega saans my voete was en afdroog (ja, dis hoe dit hier aan huis maar gaan), is haar hantering van my voete uiters pynlik. Die ou linkervoet pyn permanent, wat natuurlik vererger word as ek “stap”. As sy in die nag aan my linkerarm sou vat soos ’n mens mos maar doen – mens raak mos graag aan mekaar, dis soos dit moet wees – is dit soos ’n elektriese skok wat ek ervaar. ’n Hemp op my lyf teen my vel brand soms soos vuur en daarom sal jy my meestal sonder ’n hemp aan by die huis kry. Dit het al meermale gebeur dat ek in die middel van die nag as ek opgestaan het, my vrou moes roep om my te kom help beweeg. Dan is my heup so seer dat ek nie vorentoe of agtertoe kan beweeg nie. ’n Mens is behoorlik gestonk. Soggens as ek wil opstaan, moet sy dikwels my bene stadig, met verdrag, uit die bed swaai, want ek kan dit nie self doen nie.

Gelukkig het my huisdokter my nou op ’n nuwe kombinasie pille wat my weer laat lewe. In plaas van ’n minimum van 8+ sterk pynstillers per dag neem ek nou net twee keer per dag medikasie, en al neem dit nie die pyn altyd heeltemal weg nie, is ek weer mens en kan aangaan met dit wat ek voorheen gedoen het. Om die waarheid te sê, as ek in die nag wakker word, is die gevoel van “pynloosheid” so heerlik dat ek dit net wil lê en ervaar en eerder lê en lees. Dis so lekker dat ek nie die heerlike gevoel wil vermors deur aan die slaap te raak nie.

Hoekom lewer ek nou hierdie lang betoog? Die probleem met pyn is dieselfde as om swaksiende te wees, of hardhorend te wees, of klankverwarring te ervaar, of as die brein soms sukkel om gesproke woorde onmiddellik te kan interpreteer, sodat mense dink jy verstaan nie of luister nie. Daardie ervaring dat ek nie kan verstaan wat iemand sê as iemand ander terselfdertyd praat nie. Mense sien dit nie raak nie en neem nie jou probleem in ag in hulle optrede teenoor jou nie. Hulle verstaan nie hoekom jy jou lus om te lewe verloor of sommer net dinge los wat jy altyd gedoen het nie. Ek is uiters bevoorreg. Voor my beroerte, na aftrede, was ek besig met ’n projek waarmee ek steeds besig is. Ek geniet dit. Hierbenewens het ’n engel, deur ’n sameloop van omstandighede, iets waargeneem en sonder dat sy my persoonlik ken, my gekontak en ’n projek in my skoot gelê waarop ek glad nie bedag was nie. Dit was ’n verrassing en vir my ’n besonder gewaardeerde geskenk. Die projek behels iets waarop ek versot is, wat my besig hou en ook my brein terselfdertyd gedurig toets. Dit het die hoogtepunt van my lewe geword. Dit hou my daagliks besig en ek geniet dit verskriklik om hiermee bedrywig te wees. Daarsonder sou ek nie meer geweet het wat om met myself te doen nie. My pynlas het egter teen einde 2020 alles so begin oorheers dat ek vir twee maande feitlik niks aan hierdie twee projekte gedoen het nie, heeltemal teen my normale ingesteldheid in. Gelukkig kon ek van middel-Januarie 2021 af weer volstoom aan die gang kom nadat my pynvlakke onder beheer gekom het.

Dit bring my by die eintlike doel van hierdie skrywe. Ek en my vrou het al baie oor depressie en die kwessie van genadedood of ook selfdood gepraat. Soos ek by die dood omgedraai het en weet daar is nie meer veel jare vir my oor nie, loop sy self ook nou ’n potjie met wat algemeen bekend staan as die groot K. Ons is ook al oud genoeg en genoeg deur die meule om gemaklik oor die dood te kan gesels, want ons weet dis ’n gegewe. Dis baie maklik om ’n oordeel te vel. Mense kan skerp veroordelend wees tov. menings oor selfdood en genadedood. As jy egter nie weet waarvan jy praat as lyding ter sprake is nie, is dit beter om liewer stil te bly. Ek en sy ken nie depressie nie, maar ons ken mense wat daarmee sukkel. Dit moet iets verskrikliks wees. Pyn kan soos blits tot depressie lei. Dit het ek ervaar. Wees in die algemeen simpatiek en dink aan jou naaste wat bitter swaar kry met dinge waarvan jy niks weet nie. Maak ruimte vir mense as hulle vreemd optree om redes onbekend aan jou. Wees simpatiek, hoor en luister wat mense sê as hulle begin praat van selfdood. Dis nie om dowe neute dat so iemand dit noem nie. Hy/sy wil graag gehoor word. Jy weet nie waardeur die persoon gaan nie. Wees bewus daarvan dat daar daagliks baie “lyers” tussen ons beweeg van wie ons nie bewus is mbt waardeur hulle gaan nie. My ervaring was al dat ek in die nag vir ure wakker lê en die vreeslikste goed dink. Soos ek vir my dokter op ’n stadium toe dit baie sleg gegaan het, gesê het: ”As jy my nie kan help nie sal ’n produk wat my aan die slaap sit sodat ek net nie weer wakker word nie, nie ’n slegte oplossing wees nie”, terwyl ek geweet het dat hy dit nooit sou oorweeg nie. Dit het ook al gebeur dat ek gewonder het of dit nie beter sou wees om aan die slaap te raak en net nie weer wakker te word nie. Geen pyn nie, geen vrees nie, geen spanning nie en vrede en rus vir my vrou, groot maat, huisgenoot en hulp wat alles moet verdra en magteloos moet toekyk. Daar is ook ’n ander aspek. Jy kry jou maat jammer, want dié is magteloos en kry net so swaar soos jy, indien nie meer as jy nie. Dan gaan sy tans ook soos in ons geval deur haar eie trauma, nl ’n reeks uitputtende K-behandelingsessies. Ons praat natuurlik nie eens van die nimmereindigende warmgloede nie. Dan is daar mense wat vir haar vra: “Wat doen jy die heeldag met jou tyd?” Geen begrip nie.

Wat ek eintlik aan die man wil bring, is die volgende: Indien jy ooit in ’n argument oor selfdood of genadedood betrokke raak, vra vir so ’n persoon of hy/sy al ooit in ’n dal van pynskaduwee was. ’n Mens kan nie ’n oordeel vel as jy dit nie al self beleef het nie. Ek self het dit nog nie so erg ervaar nie, maar het al wel by die poorte van twyfel gestaan. Hierbenewens was ek, dank die Vader, maar nog altyd ’n aartsoptimis en het maar nog altyd geglo dat dit môre dalk beter sal gaan, en dan byt ek maar weer vas. Soos egter hier bo gesê, gaan dit tans baie beter, maar ek weet daar is baie mense wat bitter swaar kry en my hart gaan na hulle uit. Ons moet net onthou: Dinge gebeur nie net met die alombekende “hulle” nie. Jy kan binne ’n oogwink een van “hulle” word en dit nie eens besef nie. Ek het gisternag om 03:30 toe ek my medikasie neem, na drie en ’n halfjaar eers eensklaps besef ek is ook nou een van “hulle”. Ek het ’n breinbesering opgedoen, maar dit nooit as sulks besef nie en is dus ook nou een “hulle”. Dit het in my geval binne sekondes gebeur. Ek sê maar net. Ons almal kan getref word, enige oomblik.

Ek wens ek kon my beter uitdruk oor my simpatie met mense wat ly saam met hulle naasbestaandes en helpers, sowel as my beroep op begrip by diegene wat nié so ’n probleem het nie vir hulle naaste. Dis nietemin my beskeie poging om begrip te skep. Wie sê gereeld “Wees goed vir jou naaste”? Ek wil byvoeg: En wees simpatiek teenoor jou naaste. Maak ruimte vir sy optrede wat jy nie noodwendig verstaan nie.

[i] Woordeboek van die Afrikaanse Taal. http://www.woordeboek.co.za.ez.sun.ac.za.  

Lees ook:

Nog gedagtes van ’n beroerte-oorlewende

Gedagtes van ’n beroerte-oorlewende

  • 1

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    Vanuit Karel Schoeman se 'Slot van die Dag' kan ek sin in die volgende sien:

    “Om ʼn boek te skryf is nie, volgens my, genoeg om sin aan die lewe te gee nie, maar dit kan sin of ʼn skyn daarvan aan ʼn individuele bestaan verleen, of in elk geval ʼn voorlopige doel verskaf.

    ...

    “As ʼn mens besluit om jou lewe te beëindig, moet dit ʼn oorwoë besluit wees, nie oorhaastig of in ʼn opwelling van emosie nie, en behoorlik beplan: jou sake moet georden wees, die omstandighede moet so min moontlik ongerief of onaangenaamheid vir andere inhou, en bowenal meen ek dat mens niemand oor die besluit moet inlig nie, wat maar net te maklik in ʼn opwelling van onoorwoë goeie bedoelings sou wil probeer ingryp en keer.

    Nie in ʼn gees van verslaenheid, moedeloosheid, vertwyfeling, verbittering, woede of wanhoop nie, en sonder verwyte, maar rustig, oorwoë, besonne en bowe alles verantwoordelik; met ligte weemoed miskien oor alles waarvan daar afskeid geneem moet word en wat agtergelaat word, soos daar aan die einde van die lewe meestal seker is, maar daarby met dankbaarheid daarvoor ‒ in ʼn gees wat ek bowenal graag met die woord ‘sereen’ sou wil saamvat. Miskien is dit ʼn ideaal; maar ʼn ideaal wat mens te minste kan probeer nastrewe.

    ...

    “Die sin van die lewe is die lééf daarvan. Maar as ook dit sy aantoonbare sin verloor het, wat dan? Dit moet elkeen self besluit.

    ...

    “Dat jy wil óphou lewe omrede jy nie wil áánhou lewe nie, is vir my ʼn geldige motief, maar een wat deeglik en rustig deurdink moet word voordat enige besluit aan die hand daarvan geneem word.

    ...

    “Tot betreklik onlangs nog sou ek behoefte gevoel het aan ʼn gebed, ʼn formule, een of ander klein, geïmproviseerde plegtigheid of gebaar om my handeling in te klee, maar nie meer nie. Die handeling moet sy eie sin, waarde en gewig hê en homself kan dra, en inkleding sou oorbodig wees.”

    When lilacs last in the dooryard bloom’d (Whitman)
    Come lovely and soothing death,
    Undulate round the world, serenely arriving, arriving,
    In the day, in the night, to all, to each,
    Sooner or later delicate death ...
    (1865), reëls 135 -138

    In volle erns, ten volle bewus van die erns van die besluit en van die stap: satis. (Latyn vir: genoeg.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top