Ja, ek het net meer as twee jaar gelede ’n ernstige beroerte-aanval oorleef. Dit was nie as gevolg van ’n bloedklont nie, maar as gevolg van ’n aartjie wat gebars het, feitlik in die middel van my brein. Die oomblik wat ek die stuwing in my wange ervaar het, tesame met die onmiddelike gewaarwording dat my linkerbeen nie kan beweeg nie het ek geweet. My linkerkant was totaal verlam, maar ek was geseënd, want ek kon nog praat, sien en hoor, alhoewel die linkeroor se gehoor aangetas is, maar verder was ek totaal magteloos. My vrou het sonder versuim ons huisdokter gebel, want sy het geweet hy sal ’n ambulans die vinnigste kon reël. Ek vermoed ek was in minder as 1½ uur deur die tonnel. In minder as twee weke kon ek my linkerduim net-net beweeg, ’n heerlike bewuswording van potensiële herstel. Dit het verskeie weke geneem voordat ek die eerste keer kon regop sit sonder om na regs of agteroor te val, skynbaar ’n tipiese simptoom. Vandag kom ek redelik oor die weg met ’n spesiale kierie, ou vierpoot, asook my rolstoel, maar ek kan hom nie self aandryf nie as gevolg van my linkerhand en arm wat nog nooit regtig herstel het nie, leweloos, seer en op sy eie missie. Ek weet net waar hy is indien ek hom kan sien, kontak met die brein is skraps. En hy beweeg soos hy wil. Snags word die arm nog dikwels vasgebind sodat ek nie weereens my vrou of myself in my slaap in die gesig slaan nie. Dus is ek nog erg afhanklik van ander vir my kom en gaan. Om my motor self te bestuur is geheel-en-al buite die kwessie, so ook ’n outomatiese motor.
Hoekom skryf ek hier? Beroerte is mos iets wat met ander mense gebeur! Ek het egter met verloop van tyd my verstom oor hoe algemeen beroertes is. Daarom wil ek graag met alle mense wat in aanraking mag kom met beroerte pasiënte ’n paar gedagtes deel ‒ hoofsaaklik om dit vir jou as leser en ook vir die pasiënt maklik(er) te maak.
Die eerste uiters belangrike punt is dat elke persoon wat beroerte kry se simptome, ervaring en herstelritme totaal uniek is. Moet dit nooit vergeet nie. Geen twee beroerte persone se simptome en ervarings is dieselfde nie. Moet dus nooit vergelykings tref nie. Wat ek hier beskryf, behels dus slegs my eie persoonlike ervaring. Ek het egter ook na heelwat leeswerk agtergekom dat veel daarvan redelik algemeen voorkom by mense wat ’n beroerte ervaar het. Dus kan ’n mens breedweg binne hierdie gedagtes optree.
Dit bring my by besoekers. Die persoon stel nie belang daarin dat Piet of Sannie binne drie weke weer kon loop nie. Dit help die pasiënt op geen manier nie. Dit klink meer na ’n aanmaning dat jy jouself moet regruk, dit kan mos nie so erg wees nie. ’n Goeie vriend kon nie verstaan dat ek nie binne ’n week op was en nie kon loop nie, want “Gert” het dan so vinnig herstel.
Moenie vir die persoon sê “wees net geduldig” nie. Jy as aangetaste het geen ander keuse as om van minuut tot minuut, uur tot uur, dag tot dag te lewe en aanvanklik net met jou eie gedagtes om te gaan nie. Moenie met tienduisend rate kom nie. Wees net daar, selfs sonder om iets te sê. Dis genoeg en word baie waardeer. Hou die kuiers relatief kort en staan/sit aan dieselfde kant van die bed. Onthou die pasiënt het geen, soos in geen energie nie en kan nie drie gesprekke rondom sy gesigsveld tegelykertyd hanteer nie. Soos dit is, het hy al klaar moeite om sy kop bymekaar te hou met net een gesprek.
Jy as pasiënt is aanvanklik redeloos emosioneel, soos in baie erg. Selfs as ’n bekende net sy gesig wys verloor jy totale beheer. Gelukkig in my geval het dit na ongeveer drie maande, toe reeds in ’n ouetehuis se afdeling vir verswaktes, begin verbeter. Hou maar net die pasiënt vas. Dis al wat hy nodig het. Dit gaan verby.
Sommige welmenende vriende en familie het ook gedurig raad en aanwysings en weet dikwels beter as die fisioterapeute en arbeidsterapeute en wil vir jou voorskryf hoe dié professionele mense dan nou éintlik met jou herstelproses te werk moet gaan, en watter nuwe ontwikkelings daar is. Ek moet dit dan net vir hulle noem. Feit is, die terapeute is uitstekend ingelig en weet wat hulle doen.
Al wat die pasiënt soek is ’n sagte hand wat vashou, of ’n drukkie. Asseblief nie ’n klap op die skouer nie. Dit is só seer dat dit voel of jy in die vloer kan insink. Onthou, alles is super sensitief, selfs jou vel. My klere maak my nou na twee jaar steeds dikwels seer as ek beweeg. Dit voel of die hare op jou vel getrek word al is daar nie eens hare nie. Daarom nog steeds, as ek in die son kan sit, trek ek my hemp uit om van die irritasie te kan ontsnap.
Die swartgatsindroom: Soos genoem, was ek uiters gelukkig en het nie werklik kognitiewe skade opgedoen nie – hoop ek. In die ambulans het die paramedikus my ID-nommer en ander besonderhede vir my vrou gevra en ek het dit self vir hulle kon gee. Ongelukkig het ek ’n swartgatsindroom soos ek dit noem, ontwikkel. Ten spyte daarvan dat ek binne drie weke in die eerste hersteloord (twee maande verblyf feitlik pal op my rug) reeds weer redelik gevorderde tegniese boeke en artikels begin lees het, kon ek soms die mees klaarblyklike nie onthou nie. Byvoorbeeld: My vrou sê vir my dat Deon gebel om te hoor hoe dit gaan. Wie is Deon? Ek ken nie so ’n persoon nie. Hoe sy ookal verduidelik dat dit my pensioenfondsmakelaar is, kon ek hom glad nie onthou nie. Daar is net niks, niks, niks. Die brein voel leeg. Meer as 24 uur later het dit stadig begin deurskemer, ja, ek weet hoe hy lyk, ek ken hom goed. Sulke voorvalle het verskeie kere voorgekom. Gelukkig gebeur dit deesdae nie meer dikwels nie. ’n Aangetroude familielid het eenkeer vir my gesê: “dis onsin, ek sal wag tot jy onthou”. Ek het hom net geïgnoreer, want dit was duidelik dat hy het geen idee het wat aangaan nie. Sommige mense het net geen begrip nie.
My senuweestelsel het erge skade gekry met die gevolg dat ek baie gou koud kry. My linkerarm en hand voel feitlik altyd of dit in ’n vrieskas op ys lê. Die brein interpreteer dit soms as pyn, soms as koue. Dis nie ’n grap nie, al dink sommiges ek is laf, want ek kry soms koud al is dit 26 grade buite. Na amper 18 maande het ek erge spookpyne begin ontwikkel. Weer is ek gelukkig. Sekere pynmedikasie help matig daarvoor, ongelukkig nie altyd nie. Die pynsentrum in die brein het skade opgedoen en is verward. Effekte soos hierdie kan baie lank na die beroerte opduik. Sommige pasiënte se pyn is baie, baie erg en medikasie help nie altyd nie.
Dit is ongelukkig ook so dat sekere simptome baie lank ná die tyd eers begin ontwikkel, soos my spookpyne. ’n Paar maande gelede het die linkerkant van my gesig ’n klein spier spasmatjie getoon. Tans is die hele linkerkant van my gesig tot by my oor dood en dit sprei geleidelik verder. Dit tas die sig in my linkeroog aan en veroorsaak dat my spraak soms erg onduidelik is. Waar dit gaan eindig weet ek natuurlik nie, maar dis maar hoe dit is.
Vra vir die persoon self hoe hy/sy voel, nie vir die derde party nie. Dis net sekere dele van my brein wat beskadig is, maar ek is nog ek en ’n persoon in eie reg. Dit bring my by ’n verdere punt. Moenie die pasiënt se mening ignoreer en bo-oor hom/haar praat as daar besluite geneem moet word wat hom/haar raak nie. Op ’n stadium was daar welmenendes wat vir my vertel het wat ek móét doen, nie wat gemeen word raadsaam is nie, grotendeels met my vrou as klankbord. Gelukkig het sy saam met my viervoet vasgesteek en dit geïgnoreer. Die druk kan egter groot en werklik onaangenaam word. Jy móét jou huis dadelik verkoop, jy móét jou voertuie verkoop en ’n outomatiese voertuig koop! Jy móét dit, jy móét dat, meer as wat ’n mens kan dink. As jy in totaal vir 4 maande feitlik net lê, het jy baie tyd om te dink en te wik en te weeg. Dít wat diesulkes aan my voorgehou is, is by daardie tyd al lankal bedink.
Verder, ek is nie doof nie. My brein is beskadig en is maar net stadig om die boodskap te verwerk voordat ek sinvol kan reageer. Dit het vir my gelukkig redelik gou herstel.
Ek moet tot my skaamte erken dat ek twee keer op my vrou geskree het oor iets onbenulligs. Dié humeurontploffings vind plaas in ’n breukdeel van ’n sekonde. Ek het baie sleg gevoel daaroor en geweier om’n humeurige beroerte pasiënt te wees. Die volgende keer wat die opborreling plaasgevind het, het ek dit gelukkig betyds herken vir wat dit was en kon dit in die kiem smoor. Daarna was daar nie weer so ’n probleem nie. Omdat elkeen uniek is, glo ek daar is mense wat nie so gelukkig is om dit betyds te kan onderdruk nie. Ek glo dis baie erg vir die teiken persoon. Besef net die pasiënt wil dit self nie so hê nie. Hy het net min beheer daaroor, indien enige.
Onthou dat ’n persoon wat beroerte gehad het nie noodwendig sy/haar verlangens en behoeftes verloor het nie, om te kan oefen, stap, mense te onthaal, ens. Dit mag dalk ’n tydjie neem voor dit weer na vore kom, maar jy is nog altyd jy wat jy was. Natuurlik is fisiese aanpassings nodig. Die ou lyf is nie meer in staat tot wat hy was vóór die trauma nie. Die gees is gewillig, maar die vlees… . Die beste medisyne is steeds sagte aanraking, ’n drukkie. Om vasgehou te word is ongelooflik belangrik, altans vir my, om geliefd en gewaardeer te voel in die algemeen.
’n Interessante waarneming was dat my huisdokter wat ek al vir baie jare ken, en ander medici wat ek goed ken, ook maar sukkel met ’n beroerte pasiënt se probleme, en allerhande medikasies en raad word gegee. Weereens omdat elke geval uniek is. Gelukkig het ek toe by ’n neuroloog beland wat vir ons gesê het dat baie weinig aan al hierdie dinge gedoen kan word. Die behandeling is grotendeels simptomaties en dis net soos dit is. Ingryping in die brein self waar die skade is, is net eenvoudig te riskant.
Onthou dat my lewe in ’n groot mate daaruit bestaan om weer te herwin wat normaal was vir my. Om my maandelikse administrasie per internet te kan doen, myself aan te trek, self badkamer toe te gaan, om te kan stap, ’n konsert te kan bywoon, alleen in ’n koffiewinkel te sit en lees, is alles uitdagings. Moet my nie daarvan weerhou om dit aan te pak nie. Om hierdie uitdagings die hoof te bied is almal oorwinnings. Ek weet ek kan misluk, maar ek kan weer probeer. Klein oorwinnings is baie goed vir die selfbeeld en herstel. Ek kan nie wen as ek nie probeer nie. Gelukkig ondersteun my wederhelf my geweldig, maar welmenendes is lief daarvoor om my af te raai om dinge aan te pak, omdat dit dan te moeilik sou wees.
’n Finale gedagte: Ek sien myself nie as gestrem nie. Ek is net nie wat ek voor die oorlog was nie en leef daarmee saam so goed ek kan. Wanneer het ek besef ek is ok? Gedurende my verblyf in die hersteloord is ek een Sondag huis toe geneem. My skoonseun het gebraai. Ek het in die kamer gelê en dommel toe ek bewus raak van iets wat langs en teen my bene lê. My een kleindogter van 6 jaar oud het haarself vas teen my bene tuisgemaak en feitlik onmiddelik aan die slaap geraak. Oupa was ok.
(Van groot waarde is ’n webblad https://www.flintrehab.com/. Hulle stuur weekliks ’n nuusbrief uit wat baie inligting en oefeninge bevat. Hulle bemark ook hulpmiddels wat ongelukkig buite my finansiële vemoë is, maar as jy nie daarin belangstel nie, hoef jy jou nie daaraan te steur nie. Ek het gekommunikeer en gevind dat daar ook nou ’n tak in Kaapstad oopgemaak het met e-posadres: Juan Pienaar jpienaar@htherapy.co.za)



Kommentaar
Jacobus,
Baie dankie vir jou baie insiggewende skrywe.
Die puik Afrikaans wat jy gebruik en glashelder skryfstyl toon dat jou verstand steeds vlymskerp is al is ander dele van jou aangetas. Eerder so om as andersom. Ek kon my indink dat so 'n ingrypende ervaring jou selfs meer waardering verskaf vir jou helder verstand.
Baie dankie jy is die "expert" op jou lewe & dankie dat jy dit deel. Ek is 'n berader meestal vrywillig en jy het so baie info gegee wat verskriklik baie vir ander mense kan help. Al is dit net om die baldadiges bietjie in die bek te ruk om mense wat herstel.
Jacobus baie dankie vir hierdie waardevolle skrywe......dit spreek boekdele....... my man het in 2010 beroerte gehad.......fisiek redelik herstel maar het totaal antisosiaal geword hy sukkel om te loop kla oor erge rugpyn en dooie gevoel in linkerbeen wat gewoonlik yskoud is.....hy wil nerens heen gaan nie wil nie mense ontvang nie......raak onbeskof as sy familie bel hy wil nie met hulle praat nie.... ..so is hy tevrede dat dit net ek en hy is.....hy lees baie.....gaan op die internet in ens ens......ry oefenfiets wat ek dankbaar oor is.....selfs ons 2 dogters irriteer hom en soek gedurig fout met skoonseuns en se goed wat nie is nie.....hulle is die dierbaarheid self.....baie dinge word nou vir my duidelik en kan ek dit op n ander manier aanpak......baie dankie ......seënwense vir jou....
Baie dankie vir die bydrae. Dit is net soos jy daar skryf. Niemand weet wat jy ervaar nie. Elke geval is uniek. Dit is soos om kanker te hê. Daar is mos maar altyd die allerwyses onder ons. Iemand ken kos altyd iemand wat een of ander traumatiese ervaring of siektetoestand deurstaan het. Die mens is die mees onsenstiewe wese onder die son. As jy siek is soek jy nie kwaksalwers en lekepredikers om jou nie. Jy soek ondersteuning en empatie. Sterkte vir jou.
Dankie. Baie insiggewend en goed geskryf.
Baie dankie. As fisioterapeut leer ek baie deur en van my pasiënte.
Ek het op 46 ’n betoerte gehad en het baie goed herstel. Na rehab kon ek bykans alles doen. Was ook aan my linkerkant verlam en het bykans geen gevoel van kop tot voet aan die linkerkant nie. Ek kry dieselfde simptome as jy. Die koue, pyn in die been – spookpyn, maar ek raak vinnig moeg, veral in die middag. Gaan lê dan op die bank en is binne 5 minute aan die slaap vir 2 – 3 ure. Gelukkig is my brein baie skerp en het ek baie gevind deur lumosity.com. Loop soms effens mank as my been te moeg raak; bestuur nou ’n outomatiese motor. Ek is regtig geseënd. Dankie vir jou storie.
Beste Louisa, Baie dankie vir die raad re lumosity.com. Ek het daarop ingegaan en sal dit in die toekoms gereeld doen. 'n Baie waardevolle wenk. Baie dankie weereens. Jou opmerkings oor slaap is baie waar. Na 'n kuiersessie is ek soms doodmoeg en raak net weg. Jou waarneming oor jou brein se vermoe is waar. Ek sou graag wou weet of dit redelik algemeen voorkom. Ek self ervaar dat ek komplekse deesdae vinniger snap as voorheen, en dan praat ek van moeilike begrippe wat ekvoorheen slegs met moeite kon ontsyfer. Dis asof iets losgekom het in die denke areas in die brein. Baie, baie vreemd. Sterkte met jou verdere herstel.
Ek wil graag weet van beroerte waar die regterkant beskadig is. Lê al 3 weke waarvan die persoon 12 dae toetententaal gekoppel was aan resperator. Sy het wel met haar oë geknip en haar kop geknik as n mens haar vra of sy hoor. Sy was ook onder sidasie gesit want sy het longontstekking gekry. Sy kon nie self aasem haal nie. Daar is 29 Sept in traggie ingesit en word resperator geleidelik gespeen. Daar is geen reaksie van haar arm, hand en been nie. Wat is die kans om te herstel. Sy is onder ’n internis se behandeling sal daar voorgestel word dat sy by ’n neuroloog moet uitkom. ’n Antword sal opreg waardeer word.
My man het 'n bloedklont gehad na die brein. Sy ore kan hul niks aan doen nie. Toe kry hy 'n beroerte. Sy linkerkant ruk so sy skouer en sy been. Ons slaap niks.
Volgens dr 2 ligte beroertes gehad laaste 5 weke. Tans in bed. Weier staat hosp. Bp bly hoog. Skielik horde meds. Werk onmoontlik. Praat aangetas, sig, soms sinne ens. Baie nie verstaanbare dinge wat gebeur. Op verpligte bed-rus, maar lyf so seer. Soveel onduidelikheid . Altyd aktief. Nou skielik op hold. Wonder wat vorentoe.
Baie dankie aan almal se insette. My man het 3 weke terug 'n beroerte gehad. Slegs sy spraak is op hierdie stadium aangetas. Hy ken sekere woorde glad nie en gebruik voornaamwoorde heel verkeerd. (ons en hy ens.) Enige raad asb.?
Hello Linda van Mosselbaai. My broer het beroerte gehad en sou so graag met iemand wou praat. Ek weet nie regtig hoe om hom te bemoedig nie.
Hello, dis Cathy hier van die Oos-Rand. Ek het dringend raad nodig. My suster het 7 jaar terug 'n beroerte gehad op die ouderdom van 29. Tans kyk ek en my ma na haar. Wat ek wil weet is, sy is baie siek op die oomblik. Sy lê al vir die laaste 5 dae al in die bed en kreun van haar maag. Sy weier om na 'n dokter toe te gaan of selfs hospitaal toe. Volgens haar sê sy wil sy net daar lê en doodgaan. Kan ek as haar ouer suster of my ma namens haar besluite neem waar dit haar gesondheid betref sonder 'n hofbevel? Dit begin nou ernstig raak en ons worry oor haar.
Goeiemiddag, my ouma het n beroerte gehad. Sy is lam aan die een kant maar tog het sy gevoel in haar linkerbeen. Sy kan dit net nie beweeg nie. Is daar dalk iets wat ons kan doen om te help dat die gevoel in haar een arm en hand kan terugkom?
Baie dankie vir die raad. My man nou amper sy 6de maand na 5 x hartomleining. 2 dae later erge beroerte wat hom lam laat, als links. Arm en hand is baie sleg. Ek kronies in pyn.
Marlene Roux - onthou net dat almal jou broer menswaardig moet behandel. Behou oogkontak as jy met hom praat. As hy moeilik kommunnikeer & jy verstaan nie sy antwoorde - gee dan altyd EK sinne! Ek hoor jy probeer Ek hoor dis moeilik vir jou Ek sien jy is kwaad. Probeer maar om die gemoed te kalmeer met musiek waarvan hy hou. Buite in die tuin onder skadubome is ook lekker. Diere is die beste terapeute. Ek het 1 maal met 'n man na 'n beroerte gesels - hy vertel wat vir hom moeilik is - hy kan vir homself sag lees en elke woord is perfek & hy verstaan dit - maar dit kom nie so uit as hy hardop dit lees nie. So die oupa kon nie meer vir sy kleinkind waarvoor hy so lief is lees nie ... Wees asb versigtig & spreek ander maar kwaai aan - die persoon hoor altyd heel duidelik & moet nie voor hom bespreek of afgekraak word nie. Sterkte aan almal wat herstel van 'n beroerte, asook aan die versorgers.
Ek sien myself in baie van jou beskrywings, jy is in die kol met wat jy beskyf en die nagevolge. Dankie vir 'n eerlike artikel oor jou ervarings.
Hierdie is slegs algemene kommentaar op vrae wat hierbo gevra word. My dogter het my daarop gewys dat hier nog vele navrae en kommentaar oor tyd bygekom het. Gevolglik is my reaksie 'n bietjie laat.
Kortliks: My hart gaan uit na elkeen van u. Die gedeelte wat ek aanvanklik geskryf het, is egter my persoonlike ervaring en soos u sal agterkom, het ek nog lig daarvan afgekom. Daar is baie hartseer en swaar in hierdie situasies. Ek is egter geen kenner nie en het net geweldig baie nagelees oor beroerte. Elkeen se ervaring is uniek. My eie situasie het ook baie verander oor die laaste paar jaar en ek ag my self gelukkig (?) (dit voel nie altyd so nie) om na vyf jaar nog te leef – die oorlewingskoers vir my eie tipe beroerte na vyf jaar is minder as 30%. Vir my om raad te gee en voor te skryf wat 'n mens te doen staan, sal uiters voorbarig en onvanpas wees. 'n Neuroloog is eintlik die enigste wat "dalk" kan help. Hulle hande is ook in 'n groot mate afgekap. Ek ervaar dit persoonlik. Die brein is in jou kop, maar hy's niemand se maat nie, self die neuroloë weet nie aldag wat om te doen nie.
Sterkte aan al diegene wat hierby betrokke is.
Ek het hierdie skrywe al ’n paar keer kom lees nadat my swaer ’n beroerte gehad het op 15 Desember 2022. Baie dankie vir alles wat jy gedeel het. Ek hoop dat dit nog goed gaan onder omstandighede.
Dankie vir waardevolle inligting. My man het 18 maande terug beroerte gehad. Baie humeurig, maar nou verstaan ek beter.
My man het op 9 September 2025 'n beroerte, gehad: bloedklont op brein. Tans in rehabilitasiesentrum. Hy doen baie goed, maar na 20 dae is hy met tye nog baie moeg. Soos vandag. Hy sien met tye goed wat nie daar is nie. Is dit normaal?
Beste Tina, ek kan net uit eie ondervinding praat en dan moet 'n mens nooit vergeet nie, elke beroerte oorlewende se ervaring is uniek. Ek het wel nie 'n bloedklont gehad nie, maar wel erge bloeding. Neem ook in ag dat ek nie 'n medikus is nie. Ek het wel baie, baie nagelees. Die moegheid sal daar wees - vir my in elk geval - vir my wat dit in 2017 gehad het, ja, slaap nog feitlik elke middag en dikwels in die oggende - 8 jaar later. Die moegheid is altyd met my - soms tot die dood toe. Jy voel of jy net kan omval en bly lê - dis nou maar ekke. Ongelukkig verstaan mense dit nie altyd nie, die ding dat ek moeg wakker word en onmiddellik na ontbyt weer wil gaan lê nie, maar dis nou maar deel van die mees algemene nagevolge. My vrou verstaan dit. As ons by familie gaan kuier, het dit al gebeur dat ek vra vir 'n plekkie om te lê en dan slaap ek heerlik. Hulle leer later dat dit nou maar so is. Uit-en-gedaan.
Wat die dinge wat hy sien wat nie daar is nie betref: Ja, ek ervaar dikwels iets beweeg uit die hoek van my oog en dan is daar niks nie. Die brein is maar goed geklits en die oorlewende se normaal is nie ander mense se normaal nie. Dis maar moeilik. Ek het "lig" daarvan afgekom. Ander word regtig erg getref. Sekere "groot" woorde het al deel van my woordeskat geword. Dit help vir die verstaan van myself en deur my vrou, maar dit bly maar lastig. Om maar net 'n paar te noem waarvan ek erge effekte ervaar, maar dit help as jy darem dit weet, want dan verstaan jy beter: apathy after stroke, adynamia ('n regte bogger), allodynia (hou verband met post stroke brain pain sowel as peripheral neuropatie - hierdie twee is my persoonlike hel, want selfs die opioids help nie meer nie), proprioception - as u man sê hy kan nie in skemerlig loop nie - dis hy daardie. Jy kan nie loop as jy nie kan sien waar jou voete is nie, want jy weet nie waar jou voete is nie en dan loop jy krom soos ekke - sien is essensieel, want jy weet nie waar jou ledemate is nie, ek hou soms my vrou se hand vas in die nag tot ek besef iets is nie reg nie - dan is dit my eie hand wat ek vashou. Ons lag maar daaroor, wat anders kan jy doen), hyperacusis - ek haat blaffende honde en koppies wat in pierings geplaas word. Daardie klanke slaan reg deur jou brein. Hiper sensitief vir normale daaglikse klanke.
Die ergste is die feit dat vir jou vertel word terapie help, waarop ek antwoord: ek raak nie beter nie EN jou mediese kostes raak onbetaalbaar. As voorbeeld, die oipioids wat ek gebruik kos R2000 per maand en die groot ontdekkers mediese fonds betaal nie 'n sent uit nie en erken dit ook nie vir selfbetaling in my selfbetalingsgaping nie.
Jy en jou man verdien almal se simpatie en begrip en gebede. Dis moeilik. sterkte vir julle.