Nog gedagtes van ’n beroerte-oorlewende

  • 3

 

Jacobus Uys ('n skuilnaam) het onlangs sy gedagtes rondom sy beroerte met LitNet se lesers gedeel. Hier onder skryf hy weer oor sy ervaringe.


Ná my vorige skrywe het ek gewonder of dit nie dalk nodig is om uit ’n ander hoek na my ervaring as ’n beroerte-oorlewende te kyk nie. Die vorige artikel was meer gemik op ’n soeke na begrip en moets en moenies vir die persone rondom die betrokke persoon wat ek gereken het nodig is om aan die lig te bring. Ná oordenking voel ek net dat ek na die positiewe sy van die trauma ook moet kyk.

Die vraag is: Is daar enige positiewe dinge te neem uit so ’n traumatiese ingryp in jou lewe? Want dat dit traumaties is, is nie te ontken nie.  Die antwoord is dat daar tog wel so iets is. Ek wil net ’n paar gedagtes met u deel, weereens my persoonlike en, wil ek graag beklemtoon, unieke waarnemings aangesien mense en interpretasies verskil.

Met  die skrywe wat volg het ek besef dat baie van die positiewe ervarings eerstens deur mense geskep word, deur mense wat omgee, mense wat jou dikwels nie eens ken nie. Soos die vrou wat die vloer in ’n winkelsentrum vee my ’n paar dae gelede, nadat sy my deur ’n halstarrige deur gehelp het, gegroet het met ’n “meneer moet ’n mooi dag het.” Nou wat wil jy meer in die lewe hê as om deel te voel van en tuis te voel in jou omgewing? In die tweede plek reken ek dat dit deels toegeskryf kan word aan my godsdienstige oortuigings en my siening van die lewe. Niemand skuld my iets nie, en daarby is dit my oortuiging dat jy moet doen aan ander soos jy aan jouself gedoen sou wou hê. 

Die gedagtes gaan half tydlynagtig gegee word, anders mag dit ietwat deurmekaar oorkom.

Die oomblik wat die aanval plaasvind, weet jy onmiddellik dat dit wat seker een van jou grootste vrese is wel plaasvind. Die vraag is net, hoe erg is dit? Daarna is jy oorgelewer en het jy geen keuse as om dinge te aanvaar net soos dit is nie.  Jy het geen beheer oor wat verder met jou gebeur nie. Dit was goed om die ambulanspersoneel se professionaliteit waar te neem, asook die van die hospitaalpersoneel tydens die hospitaalopname. 

Oorgeplaas na die herstelhospitaal lê ’n mens aanvanklik net en word geleidelik bewus van jou omgewing, asook die ander pasiënte in die agtbedsaal. Ons was ’n gemengde groep pasiënte in die sin dat ons net drie beroerte-gevalle was. Die res het kom herstel ná ander ingrepe in hulle lewe. Dit was vir my ’n skok om agter te kom hoeveel van hulle diabete is wat kom herstel ná amputasies, sommige ná ’n tweede een. Twee maal is van hulle weg vir verdere amputasies. Dán begin jy jou seëninge tel. Ek het geweet diabetes is nie ’n siekte om mee te speel nie, want ander mense ly mos daaraan en dit het my dus nooit regtig aangegaan nie. Ek het nie besef watse erge toestand diabetes kan wees nie. Dis afgryslik. Ek het rede tot groot dankbaarheid.

Gedurende my tydperk by versorgingseenhede het ek meer duidelikheid begin kry oor ander mense se swaarkry. Die versorging deur die versorgers was ongelooflik. As jy met hulle begin gesels, word jy ook bewus van hulle probleme. Ná tien weke in die hersteloord is ek oorgeplaas na die afdeling vir verswakte bejaardes in ’n ouetehuis, bid jou dit aan, 69 jaar oud, bejaarde? Hier, waar ek twee maande gebly het, was die personeel iets om oor huis toe te skryf. Ek het soos deel van ’n gesin geword en het werklik gevoel hulle bederf my. Ons het baie gesels en so het hulle my vertel van hoe baie van hulle familie, ouers, broers, susters, vriende, ensovoorts ook beroerte gehad het en baie erger probleme, mense wat hulle eers moet versorg voordat hulle in die vroeë môre-ure die lang pad moet aanpak om mý en andere te kom versorg. Op daardie stadium was die waterbeperkings op sy kwaaiste en die taxibedryf het gestaak. Veral laasgenoemde het veroorsaak dat hulle dikwels laat gekom het vir werk, of glad nie opgedaag het nie, met ’n gevolglike verlies aan inkomste. Hulle het graag foto’s van hulle kinders gewys, die kinders se prestasies uitgewys en sommer net gesels, synde oor godsdiens, lewenswyse of wat ook al. Dit was mense wat ook hulle bekommernisse en swaarkry ervaar en met baie minder, indien enige,  ondersteuning as ek oor die weg moet kom, maar altyd positief oor die lewe bly. Dit laat ’n mens weer dink oor jou eie omstandighede en jy besef net al hoe meer hoe gelukkig jy is en dat jou eie probleme ’n vulletjie is teenoor wat baie ander mense moet deurmaak. Die terapeute wat my weer moes leer om te kan regop sit, te kan regop staan en uiteindelik self beweeg, hoe effe ook al, is almal engele en het vir my soveel as mens beteken.

My volgende groot seëning: My spraak was op daardie stadium nog nie aangetas nie (die las van my gesig se senuweestelsel het eers agtien maande later sy kop begin uitsteek), en die bloeding was wel in die regterbrein, maar die werking van die gedagtes in die algemeen is nog redelik in orde, hoop en glo ek. Hopelik darem nie soos my ma wat op 91-jarige ouderdom vir my gesê het: "Ek is maar lekker deurmekaar, gelukkig kom die ander mense dit nie agter nie." Dít nadat sy my afgestry het oor hoeveel dogters ek het. Ek het maar toegee dat sy wel reg is, dat daar wel een is van wie ek nie bewus is nie! Dus kan ek darem nog gesels en lees en kommunikeer. Gesels is maar net moeilik in ’n groep, aangesien ek nie meer my stem kan projekteer nie.

Geleidelik het twee baie belangrike dinge by my opgekom. Eerstens dat my vrou nie ’n enkele dag oorgeslaan het om vir my te kom kuier nie, stormweer of snikheet warm, sy was daar vir my.  In die ouetehuis het sy tot twee uur of langer kom kuier. Dan het sy gesit en lees of brei en ek myself doenig gehou met die dag se koerant wat sy sonder uitsondering saamgebring het, my  wiskunde-artikels of boeke of ons het saam kriptiese blokkiesraaisels ingevul, ’n getroudelewelange liefde wat ons deel. Sy het dikwels as die weer dit toelaat vir my in my rolstoel in die omgewing met sy mooi tuine gaan rondstoot en ons het ’n hond uit ’n bos gesels. Sy moes alles net so oorneem, die maandelikse administratiewe werk by die huis, sleurwerk tuis, ensovoorts. Tog was sy elke dag daar vir my. Dán begin jy jou vrou waardeer en begin jy eers besef hoeveel sy omgee. ’n Mens is so geneig om sekere konstantes in jou lewe sommer as gegewe te aanvaar. Dis die grootste fout wat ’n mens kan maak. Ons verhouding het ’n totaal nuwe dimensie binnegegaan, veral met meer insig en waardering van my kant af.

Die tweede wete wat by my opgekom het is dat ek op ’n stadium begin besef het, en ek weet nie of dit die norm is nie, dat ek nooit kwaad was oor wat met my gebeur het nie en ek is baie dankbaar daarvoor. Die teendeel sou in elk geval net die lewe vir my en my mense rondom my onaangenaam gemaak het. Wat sou dit in elk geval help? Ek het ook nooit myself afgevra hoekom, waarom, hoekom ek, of enige iets van daardie aard nie. Ek is wel redelik seker van wat dit veroorsaak het, maar nou is daar niks aan te doen nie. Ander mense het dit wel vir my gevra, maar ek wou nie daaroor bespiegel nie. Dit is wel so dat my lewensuitkyk nog altyd positief was. Dit is miskien wat my baie gehelp het. Nuttelose sirkelargumente het in elk geval geen nut nie. Die lewe is net eenvoudig wat dit is en daar is niks wat ’n mens aan die omstandighede kan doen anders as om net vorentoe te beur nie. Op ’n manier het dit my laat goed voel dat ek nie kwaad was nie, waarvandaan hierdie positiewe houding ook al gekom het.

Die bydrae en optrede van bekendes en familie laat jou weer dink oor menseverhoudinge. Ons dogters en hul mans was onmiddellik op alle vlakke beskikbaar met hulp van watter aard ook al. Die een dogter in Namibië was die dag ná die beroerte al by my. So het my een broer en sy vrou, my eie vrou se tweelingsuster, ook onmiddellik ingeklim met hulp en so ook hulle derde suster en haar man ─ gelukkig almal binne trefafstand van ons af. Hulle het ons net tot diepe dankbaarheid gestem. En dis nie asof dit geëindig het nie. Hulle is steeds daar vir ons indien nodig.

Die mansbybelstudiegroeplede, ’n groepie wat al meer as 35 jaar saam loop, wat gereeld saam of as individue kom kuier het, was ’n riem onder die hart en het my baie opgebeur. Vriende en ook mense wat ’n mens net as terloopse kennisse beskou het wat kom kuier het, is positief ervaar.  Dit alles het tot diep vriendskappe gelei met mense wat dikwels voorheen net kennisse was.

Die eerste keer wat ek in die rolstoel in die openbaar verskyn het, was ’n besoek by ’n erediens by ons kerk kort voor Kersfees. Dit was baie erg. Jy voel so ontsettend blootgestel. Ek wat bekend was in ons gemeenskap as ’n langafstandhardloper, marathons, ultras, Twee Oseane, Comrades, Die Voet, noem dit maar op, hier kom ek in só ’n toestand weer na vore. Ek het glad nie daarna uitgesien nie, maar geweet daar moet ’n eerste keer wees. Hoe wonderlik was dit om te ervaar hoe almal my verwelkom. Dit was soos ’n groot partytjie, heeltemal anders as wat ek my dit voorgestel het.

Ek en my vrou is baie lief vir die Donderdagaand-seisoenkonserte in Kaapstad se stadsaal, asook konserte wat in Stellenbosch se Endlersaal opgevoer word. Wat ’n hoogtepunt was dit nie toe ’n goeie vriend, Tertius, en sy vrou, Lynette ons, kort nadat ek uit die versorgingsoord gekom het, na ’n uitvoering in die Endlersaal saamgenooi het nie. Toe kon ek darem al met moeite met die spesiale kierie oor die weg kom. Dit was ongelooflik. Dit was die eerste keer wat ek die konsertweergawe van Arvo Pärt se Fratres, uitmuntend uitgevoer deur die Uuniversiteit Stellenbosch se simfonie-orkes, gehoor het. Dis ook die eerste keer in my lewe dat ek ’n gehoor so stomgeslaan vir enkele sekondes doodstil sien sit het, voordat die groot applous losgebars het. Dit was ’n belewenis! Ons het net besef hoe bevoorreg ons is om sulke vriende te hê en om so iets besonders te kon beleef. Om die kroon hierop te span, het hulle hierdie oefening enkele weke later herhaal met die uitvoering van Mahler se Vyfde Simfonie in die  Kaapstadse stadsaal met ’n uitvoering soos net die Kaapse filharmoniese orkes kan lewer. Wat meer kon ek vra?  Niks meer as dit nie.

So is ons ook baie lief vir toneel en gaan al van die einde van die vorige eeu af gereeld KKNK toe. My vrou het gesê as ek kans sien, kan ons probeer. Hoë trappe of te nie, ons het gegaan. Heerlik is die voorreg om ’n week lank toneel, onder meer, Katvoet en Koningin Lear te kon sien en nie net dit nie, maar ook die Libertaskoor en ander vertonings ─ nie minder nie as 21 van hulle tussen ons twee. Ons was vodde ná ’n week, maar wat ’n bederf!

Mense en hul optrede is ’n bron van vreugde en dankbaarheid. En wat ons betref, die soggenaamde Reënboognasie leef wél. Hoeveel keer het mense in die openbaar, ongeag kleur, ras, geslag of ouderdom, ons nie al te hulp gesnel nie, so ook die personeel by KKNK. ’n Rolstoel is niemand se maat as dit by draaideure of swaaideure met stywe vere kom nie. Maar voor jy kan dink hoe ’n mens hierdie hindernis gaan oorkom, het iemand al ongevraagd verby gespring en die deur oopgemaak. Ek kan male sonder tal sulke gevalle herroep. As my vrou ’n aantal draaie in ons gereelde winkelsentrum moet loop, los sy my by ’n koffiewinkel met ’n boek of so iets (op my versoek). ’n Aantal kere het ek al iets bestel wat ek met my afwesige linkerhand nie kan hanteer nie. Dan is die kelner(in) heeltemal bereid om die smeer- en/of snywerk vir my te doen. Ek het later by die eienaar gehoor dat ek onder hulle as “oupa” bekendstaan, wat ek waardeer.  Ek beskou dit as ’n naam van respek en dis nogal baie spesiaal vir my. Ons ken mekaar al by die naam.

By meer as een geleentheid het vreemdelinge ons heeltemal uit die bloute gestop om ’n gebed vir ons te doen, mense wat ons van geen kant af ken nie, gewoonlik jong mense. Dis beslis ’n positiewe ervaring en laat jou goed voel oor die lewe.

Daar is nog meer sulke positiewe ervarings wat ek kan noem, maar ek dink dis nou genoeg gesê. Laaste maar nie die minste nie, sien ek die opvoeding wat ek in ons kleinkinders ervaar. ’n Rolstoel hou nie meer vir hulle ’n verskrikking in nie. Dis vir hulle ’n tipe normaal. Die eerste tien weke was dit vir hulle ’n verskrikking dat ek net lê en absoluut niks vir my self kon doen nie. Nou is gestremdheid vir hulle geensins vreemd nie en aanvaar hulle dit ook as deel van die lewe. Hulle sien die persoon raak en nie sy gestremdheid nie. Ek het dit by die kleinkinders wat fisies naby is waargeneem, maar ook by die twee in Namibië wat ons uit die aard van die saak baie minder sien. Hoe het ons een kleinseun (toe agt) gevra, “Oupa, watse siekte het Oupa, dis mos nie griep nie?”  Hy is ’n skerp mannetjie en ek het vir hom mooi verduidelik van die linker- en regterbrein en die fisies liggaamlik-omgekeerde effek. Hy was dood tevrede en het dit toe vir sy sussies gaan verduidelik. Die onderwysgene is maar in die bloed.

In totaliteit kan ek net sê, baie dankie. Dit gaan goed met my. Effe gekrok en stadig oor die weg, maar nie afgeskryf nie en ek kan nog die lewe geniet, my familie, vriendekring, leesgoed, musiek en wat ook al. Ja, natuurlik is daar slegte dae, maar ’n mens leef net daardeur. Môre skyn die son weer, of ook net so goed, dan reën dit weer. Baie dankie daarvoor. 

Wat het ek geleer? Mense is inherent goed. Mense wil graag help. Hulle weet nie altyd mooi hoe nie, maar die wil is daar. Die Here is goed vir my. Al wat ek kan doen is om dankbaar te wees en om my beste te doen om die lewe vir ander makliker te maak, en nie te sit en mor nie. En is daar nie baie om voor dankbaar te wees nie!

  • 3

Kommentaar

  • Marianne de Swardt

    Wat ’n pragtige stukkie van ’n wêreld wat ons soms sien, maar nie ken nie so positief beskryf. Sterkte en mag daar wel dra beterskap intrek.

  • 'n Pragtige beskrywing van iemand wat so moes ly as 't ware en tog kom die woorde 'dankbaar en dankbaarheid byna ontelbaar voort uit sy mond.
    Lank gelede 'n boek wat my so getref het, gelees oor a thousand things to be thankful for. Het dit begin toepas om elke dag vir 3 dinge dankbaar te wees en hierdie nuwe ontdekking met mense soos die tellers in die bank en groot kettingwinkels begin deel en glo my dit het vinnig vrugte begin afwerp. Daar het selfs nuwe vriendskappe daaruit voortgespruit.
    "Oupa" soos hy naderhand genoem was, het dié betekenis van die woord dankbaarheid, goed verstaan en hierdeur kon hy nog voluit gelewe het met al die tekortkominge wat die beroerte mee gebring het. Ek het sy skrywerstalent terdeë geniet en wens vir Oupa vir 2020 nuwe vriendskapsbande wat sy lewe sal verryk toe en dat ons Hemelse Vader mense oor sy pad sal stuur sodat hy hulle met sy opbouende en bemoedigende woorde sal kan seën.
    Al ken ek hom glad nie, het dié Oupa sommer stilletjies diep in my hart kom kruip en mens kan nie help om hom lief te kry nie.

  • Dankbaarheid straal uit hierdie pragtig geskrewe stuk. Baie dankie vir die plasing. Dit was baie insiggewend. Sterkte vorentoe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top