Priscilla Queen of the Desert: ’n resensie

  • 0

Om ’n resensie te skryf oor ’n iemand se droom wat in die 1990’s ’n ikoniese film tot gevolg gehad het, is nooit maklik nie, maar mens moenie dié musiekblyspel met te veel erns benader nie – dit was immers ’n komedie-drama-film. Dis prettige, baldadige, mal vermaak, en op die openingsaand het die Kunstekaap-operahuis gesing, geklap en gefluit soos ek lanklaas ’n gehoor sien reageer het. Toe Mitzi en die divas “It’s raining men” sing, is die gehoor hul gewillige koor – en dis binne die eerste vier minute van die vertoning!

Van daar het dit net luider geword.

Dis egter nie te sê dat die temas wat daarin aangeraak word, nie ernstig is nie. Maar eers meer oor die vertoning self.

Priscilla het in Australië, Londen, Toronto, Broadway, Milaan en Spanje soveel toekennings ingepalm – nie net vir kostuums nie, maar ook vir sang en toneelspel – dat dit jou rekenaarskerm sou vul, daarom lys ek dit nie. Weet net: dis nie net gehore van Cannes tot Los Angeles wat weggevoer is deur die storie nie – ook beoordelaars kon nie terughou nie.

Goed, die storie in kort: drie fopdossers, Mitzi, Felicia en Bernadette, reis deur Australië om in Alice Springs te gaan optree. Tick (Mitzi) het sy vrou belowe hulle sal by die casino daar gaan optree, maar eintlik is dit om sy sesjarige seun te ontmoet. Boonop verklap hy nie aan Felicia en Bernadette dat hy getroud is, of ’n seun het nie. Vir hulle is die toer een van selfondersoek, maar ook van onvervulde drome, maar langs die pad ontdek hulle baie meer as waarvoor hulle kon gehoop het.

Bernadette het pas haar lewensmaat begrawe en voel verby haar fleur; en Felicia droom van glorie en sien baie daarna uit om saam met Bernadette en Mitzi op Uluru in volle kostuums in die Australiese Outback te staan en ’n vertoning te hou. Hulle pak die reis aan in ’n bus genaamd Priscilla wat hul probleme gee en hul paaie met dié van Bob die werktuigkundige laat kruis.

Die musiekblyspel ryg die musiektreffers van die afgelope bykans drie dekades in: “What’s love gotta do with it”, “Venus”, “Go West”, “I say a little prayer”, “I love the nightlife”, “True colours”, “Thank God I’m a country boy”, “Girls just wanna have fun”, “Hot stuff”, “Boogie Wonderland”, “We belong” en vele meer, maar tussen die pret deur kyk dit na heelwat sosiale dilemmas, soos oudword, gay-wees, fopdossery, verwerping, versugting, onverdraagsaamheid teenoor ander leefstyle, en vooroordeel. Dit het grondverskuiwende werk gedoen in die 1990’s om insigte te lewer oor fopdossery en transseksualiteit deur daaraan ’n komiese aanslag te gee.

Die hoofkarakters, Bernadette (David Dennis), Tick/Mitzi (Daniel Buys), Adam/Felicia (Phillip Schnetler) en Bob (James Borthwick), was van die begin af gunstelinge onder die gehoor en lewer elk puik vertonings. Veral Bernadette se karakter is met meer hartseer omgewe en mens het deernis met haar.

Die drie divas wat vir die grootste deel van die vertoning soos engele bo die verhoog hang, Candida Mosoma, Londiwe Dhlomo-Dlamini en Thembeka Mnguni, moet ook spesiale vermelding kry. Genade – stemme so sterk soos trekperde en persoonlikheid wat jou nêrens anders wil laat kyk nie, maak nie saak hoe mooi die kostuums onder hulle of die danspassies van die fopdossers is nie. Die program verklap dat hulle meer as 10 meter in die vleuels opgehys word voor hulle na die verhoog afsak.

Ek draai kort-kort effe in my sitplek om die lewende orkes se monitor dop te hou en dis duidelik dat die orkes net soveel pret as die gehoor en akteurs het.

Dis beslis elke sent werd en jy kan nie daar uitstap sonder om absoluut lig te voel nie. Maar vergewis jou van die feite van fopdossers en gay-suggestie, want daar is baie daarvan. Toe ons halftyd breek, merk een man op dat hy nie terugkom ná pouse nie, “omdat dit te gay is”. Jammer dat die vooroordeel van die Australiese Outback in die ‘90’s wat pas op die verhoog uitgebeeld is, ook só lewend te sien is in Kaapstad in 2017.

Maar alle suurpruime se vooroordeel ter syde, dit was een van my gunsteling-blyspele nog. Ek het lanklaas so lekker gelag, gehuil en my verwonder aan die pragkostuums.

’n Paar interessante feite:

Daar is 471 kostuums, 45 pruike, 120 pare skoene en 200 hoede en kopversierings wat in die vertoning gedra word.

Daar is meer as 220 kostuumruilings in elke vertoning.

40 lipstiffies in vyf verskillende skakerings word elke maand gebruik.

Priscilla Queen of the Desert

Met oa: David Dennis, Daniel Buys, Phillip Schnetler, James Borthwick
Deur: Stephan Elliott en Allan Scott
Regie: Simon Philips
Kostuums: Tim Chappel en Lizzy Gardiner
26 Maart tot 23 April by Kunstekaap-operahuis; 29 April tot 18 Junie by Teatro, Montecasino
Kaartjies deur Computicket, 0861 915 8000 of Kunstekaap Bel ’n Sitplek, 021 421 7695.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top