
As jy lief is vir boeke, lees en die wonder van woorde, beplan sommer nou al jou besoek aan Prins Albert in die Groot-Karoo. Die eerste naweek in November bied die dorp sy vyfde Leesfees aan.
Dit was nog altyd 'n geleentheid vir almal, maar vanjaar is die buitengewone verskeidenheid op die program beter as ooit, sê Linda Jaquet, voorsitter van die Leesfees-komitee.
Die tema van vanjaar se fees is “Gister, Vandag, Môre – Yesterday, Today, Tomorrow”, met bekendes soos Sally Andrew – skrywer van die “Tannie Maria Mysteries” - en C Johan Bakkes, die ewige reisiger, met sy boek Openbaring op die program. Martin Steyn en Carla van der Spuy praat oor die toename in die gewildheid van Afrikaanse spanningsromans, en die digters-kletsrymers Yoma en Die Hooflig, oftewel Claudia Britz en Robin-Dean Fourie, vra: “Hoe ver moet 'n vers gaan?”
Die fees open op Vrydag (4 November) met 'n optrede deur drie plaaslike skrywers, David Piedt, Hannes Visser en Suzanne Ongansie, wat gaan vertel hoe 'n groot invloed hul jeugjare op hul skryfwerk gehad het.
Koskenners soos die Huisgenoot-kosredakteur Carmen Niehaus gaan haar “beste resepte” verklap, met Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker wat oor hul “vars” resepteboek, Kook saam Kaaps, gaan gesels met die man agter die boek – Japie Gouws, uitvoerende hoof van die ATKV.
'n Splinternuwe kortverhaalbundel wat pas verskyn het, Tjieng, Tjang, Tjerries, deur Jolyn Phillips, kom in die kollig, en Don Pinnock (Gang Town) en Marianne Thamm (Hitler, Verwoerd, Mandela and Me: A Memoir of Sorts) plaas Suid-Afrika se gemeenskappe, asook sy verlede, hede en toekoms in perspektief.
Liefhebbers van die poësie kan hulle klaarmaak vir 'n fees van woorde wanneer die digters Gaireyah Fredericks (Kaaps is Hollands), Daniel Hugo (Takelwerk), Shirmoney Rhode (Nomme 20, Delphistraat) en Diana Ferrus (Ons Komvandaan), asook die radiopersoonlikheid Margot Luyt – aanbieder van Vers en Klank op RSG – hul liefde vir en insigte oor die digkuns met gaste gaan deel.
Wium van Zyl, voormalige hoogleraar aan die Universiteit van die Wes-Kaap, en vertaler van die boek Ontdekkingsreisiger of Soldaat (deur die Nederlander Luc Panhuysen), gaan jou terugneem na 1778 toe Robert Jacob Gordon aangekom het op die stuk grond wat vandag as die dorp Prins Albert bekend staan.
Twee hoogtepunte van die fees is die eenmanstuk Pay back the Curry, die dramaturg Mike van Graan se jongste polities-satiriese beskouing van ons land, met Daniel Mpilo Richards in die hoofrol, asook die Karoo-bekendstelling van die top- Suid-Afrikaanse fliek Sink, wat deur die filmresensent Leon van Nierop as 'n “meesterstuk” en “een van die beste tien Suid-Afrikaanse flieks ooit” bestempel word.
Leon se jongste boek, Daar doer in die fliek, word ook uitgehaal wanneer hy met die akteursegpaar Johan en Lida Botha van De Rust en die bekende filmmaker Koos Roets van Klaarstroom gesels oor die Afrikaanse filmbedryf se suksesse ... en mislukkings.
Leesfees 2016 het ook 'n uitgebreide program vir leerders, wat aanbiedings deur die rymkletsers Yoma en Die Hooflig insluit, sowel as vertellings en voorlesings deur die jeugskrywers Suzanne Ongansie en Anzil Kulsen.
Daarby gaan die dorp se rieldansgroep, die Prins Albert Vastrappers, gaste by die openingsgeleentheid trakteer op passies wat die stof gaan laat staan. Die Leesfees bied ook 'n boekelokaal waar die besoekende skrywers se boeke aangeskaf kan word.
Jaquet sê Leesfees 2016 is 'n fees wat niemand mag misloop nie.
Die volledige program is op die webblad van Prins Albert se toerisme-webblad:
www.princealbert.org.za en die Facebook-blad: www.facebook.com/princealbertleesfees.
Die Facebook-blad bied daaglikse nuus oor die mense, boeke, digkuns, woordkuns en ervarings wat jy te wagte kan wees by een van Suid-Afrika se beste literêre feeste.
Koop kaartjies aanlyn by paonline.biz of by die Prins Albert-biblioteek, Kerkstraat, Tel 023 5411 036.





