Post-Mandeladag: jou 67 taalminute

  • 0
michaellecordeur_menanvanheerden

Michael le Cordeur (foto: Menán van Heerden)

Post-Mandeladag gesels Michael le Cordeur met Naomi Meyer oor sy artikel wat onlangs in Die Burger verskyn het en oor ons elkeen se 67 minute.

Michael, jy skryf in jou artikel oor Mandela oor sy vermoë om Afrikaans te kon praat – en die redes daarvoor. Jy noem twee motiverings: hy het geweet ‘n moedertaal is ‘n hartstaal, maar ook besef hoeveel mag dit iemand gee wat ‘n ander se taal kan praat. Wil jy jou eie gedagtes hieroor deel?

Meneer Mandela het goed besef dat as jy nader wil kennis maak met iemand, moet jy sy taal aanleer. Vandaar sy bekende gesegde: “As jy met iemand praat in ‘n taal wat hy verstaan, praat jy met sy verstand; as jy met hom praat in sy moedertaal, praat jy met sy hart.” Na sy tyd in gevangenskap het Madiba besef dat daar ‘n groot taak op hom wag om hierdie land – vroeër so verdeeld deur apartheid – te verenig. Een van die groepe na wie Madiba spesifiek wou uitreik, was die Afrikaner. Die Afrikaners dra swaar aan hulle skuldgevoel en oor wat hulle aan Madiba gedoen het. Daar was dus vrees dat Madiba sou wraak neem deur die Afrikaner te marginaliseer. Deur juis hulle taal aan te leer en met hulle in hul eie taal te kommunikeer, het Madiba die hand van vriendskap uitgesteek met die doel om ook hulle in te lyf by die demokrasie. Maar om ‘n ander se taal aan te leer beklee jou met mag, want nie alleen verstaan jy wat hy praat nie, deur sy taal te verstaan, leer jy ook hoe sy kop werk, en wat sy hartsbegeertes is. En as jy daardie kennis het, weet jy ook watter strategieë om te gebruik om die persoon te kry dat hulle inkoop by jou idees. Sodoende het Madiba die Afrikaner se lojaliteit aan sy land gebruik tot voordeel van die demokrasie.

Ons 67 minute – in taal. Jy skryf in jou artikel dat ons almal wat Afrikaans kan praat, ons deel kan doen deur nie net in Engels te publiseer nie, maar ook in Afrikaans. Waarom dit as opoffering beskou – wat gee ons daardeur prys?

Ek skryf hier vanuit die perspektief van ‘n akademikus. ‘n Akademikus se prestasie, en dus ook sy bevordering, word gemeet aan die aantal publikasies wat hy publiseer. Spesifiek word ‘n baie hoe premie geplaas op artikels vir die internasionale gehoor. Ons almal weet die internasionale taal vir publikasies is Engels. Hoe meer jy in Engels publiseer, hoe groter is die kans dat jy internasionaal gelees sal word, met die gepaardgaande sitasies. Met ander woorde, hoe meer die akademikus se publikasies in ander artikels en tesisse aangehaal word, des te groter is jou kans op internasionale erkenning en dus ook bevordering in jou eie land. Deur dus te kies om in Afrikaans te publiseer, ontneem jy jouself van al daardie geleenthede. Akademici soos ek wat nog in Afrikaans publiseer, moet dus ekstra hard werk om erkenning of bevordering te kry. Dit spreek daarom boekdele as sulke akademici wel daarin slaag om uit te styg. Maar soos ek in die artikel noem, is dit ‘n geringe opoffering in vergelyking met wat Madiba moes prysgee. Ons is geneig om te vergeet dat hy nie sy kinders sien grootword het nie, nie sy kinders se verjaarsdae of matriekafskeide kon meemaak nie, nie sy kleinkinders kon sien toe hulle gebore is nie. En toe sy seun sterf, het die apartheidsregering hom selfs verbied (toe hy gevra het) om sy eie kind se begrafnis by te woon.

As Madiba ‘n taal kon aanleer en daardie taal se letterkunde leer verstaan, behoort ons nie almal ‘n streekstaal van ons omgewing aan te leer nie? Vraag is ook: Wat is ‘n praktiese manier om dit te doen? Ons het nie onbeperkte tyd en geld nie, en dis nie maklik om as volwassene ‘n nuwe taal aan te leer nie – wat dink jy hieromtrent, en het jy dalk praktiese wenke?

Ja, jy’s reg. Dis ‘n skande dat mense alles leer van ‘n selfoon af, of alles weet van die koningin en haar familie, maar nie die moeite wil doen om een van ons swart streekstale te leer praat nie. Suid-Afrika is ‘n diverse land met baie kulture en baie tale. Ek is van mening dat ons almal in hierdie land drietalig moet wees (soos in Europa) naamlik: jou huistaal (in my geval Afrikaans), Engels (want dis nodig in hierdie globale wêreld waarin ons leef) en die swart taal van jou streek. Ek het Xhosa aangeleer toe ek 20 jaar oud was en ‘n student op die UWK. Iemand soos Jakes Gerwel, wat op daardie stadium my Afrikaans-professor was, was saam met my in die klas. Kan ek sommer uit die staanspoor noem dat dit nie so moeilik is om ‘n swart taal aan te leer nie. Daar is baie wanpersepsies daaroor. Mense is byvoorbeeld bereid om Mandaryns aan te leer, maar nie een van ons eie inheemse tale nie. Dit getuig van ’n totale disrespek teenoor die grootste deel van ons samelewing. As Mandela ons taal kon aanleer, is dit soveel gevra om sy taal (Xhosa) aan te leer?

En daar is geen verskonings waarom jy dit nie kan doen nie. Die moderne mens sit ure, dae en weke om voor ‘n televisiestel en staar dikwels net na ‘n klomp advertensies wat hulle al tot vervelens toe gesien het. Of hulle kyk dieselfde wedstryd oor en oor. Dis tyd wat baie vrugbaar gebruik kan word om ‘n derde taal aan te leer. In daardie opsig moet ek die regering krediet gee wat nou daarmee wil begin.

Ek kan getuig dat my eie aanleer van Xhosa dalk die mees bemagtigende geskenk was wat ek vir myself gegee het. Weet jy hoe bevrydend voel jy as jy swart mense in hul eie taal kan aanspreek? Ek doen dit dikwels, en dan sien ek hoe dat mense se hele gesindheid verander. Om in hul eie taal met hulle te praat is die mees geloofwaardige manier om te wys dat jy mense respekteer en hul belange op die hart dra. As ons werklik wil sien dat ons land vorentoe gaan, sal ons almal daardie kopskuif moet maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top