Politieke vs kriminele vs morele aanspreeklikheid en die ANC-effek

  • 2

James-Brent Styan se nuwe boek, The Bosasa Billions, is hierdie naweek bekendgestel.

In die komende weke gaan ons nog heelwat te wete kom oor die onthullings wat uit sy en sy medeskrywer se ondersoek voortspruit. Ek was gelukkig genoeg om ʼn vooruit kopie van die boek te ontvang. Dit lees soos die heel beste spioenasieverhale. Volgepropte sakke geld. Peperduur drank, kratte vol. Vleis in grootmaat. Luukse geskenke. Dis als voorbeelde van wat onder andere aan politici gelewer word met die doel om later voordelige behandeling by die toeken van tenders te ontvang. Bewerings van geldwassery, ʼn uitgebreide netwerk van staatsamptenare, politici en besigheidsmense, maatskappye versteek agter ander maatskappye – die omvang en die moeite wat gedoen is met hierdie aspek van staatskaping is verstommend.

Dis natuurlik nie die enigste boek hieroor nie. Gangster State, Ministry of Crime en Tobacco Wars is drie boeke wat ek nou lees in voorbereiding op ʼn gesprek by die South African Book Fair. Voor dit was daar ander boeke, waarvan The President’s Keepers dalk die eerste was wat regtig die Suid-Afrikaanse leserspubliek bewus gemaak het van die omvang van korrupsie en staatskaping.

Al hierdie boeke, en nog ander wat ek nie eens noem nie, het ʼn paar dinge gemeen. Dis deeglik nagevors. Daar is stawende getuienis vir wat beskryf word. Daar is miljarde rande ter sprake. En nie een van die regtig groot name is tot nou toe aanspreeklik gehou nie. Nie polities nie, nie krimineel nie, ook nie regtig moreel nie. Dit is die skokkendste deel van die grootskaalse stroping van die Suid-Afrikaanse fiskus.

Zuma is nie meer die president van die land nie, maar sy netwerk van medestropers sit nog grootliks intakt en in staat om sy projek te voltooi.

Ramaphosa se Nuwe Dagbreek lyk maar donker. Die openbare beskermer beskerm net mooi niks. Shamila Batohi huff en sy puff, maar g’n enkele strooihuis is nog omgeblaas nie. ʼn Paar stropers is geskuif na departemente waar hulle minder kan stroop. ʼn Paar LP’s het bedank. Die besonderhede van wat hulle aangebied is in ruil vir hul bedanking, is nog maar skraal. Maar niemand glo vir een oomblik dat hulle uit die goedheid van hul harte bedank het nie.

Hoekom het Ramaphosa tot nou toe so stadig beweeg om die land reg te ruk? #CR17 kan tog nie die enigste rede wees nie? Vir iemand wat die reputasie van ʼn meesteronderhandelaar het, lyk dit nie asof hy veel hond haaraf maak agter die skerms nie.

Wat ons sien, en wat in soveel ondersoeke uitkom, is dat daar ʼn geveg in die ANC aan die gang is. Verskillende faksies teen mekaar. Die geveg is nie eens meer om behoud van die siel van die party nie. Dis nutteloos om te probeer identifiseer watter faksie goed en watter een sleg is. Zuma was tog nie die uitvinder van korrupsie nie. Hy het nie staatskaping uitgevind nie. Een persoon kan nie miljarde steel sonder dat ander weet en aktief meewerk om dit te laat gebeur nie. ʼn Groep kan nie so gevestig raak binne ʼn party dat hulle in staat is om beheer van die land te verkry sonder dat al die ander lede van die party weet wie hulle is en wat hulle voorstaan nie.

Zuma en sy trawante en die besigheidsmense met wie hulle hulself omring het, was tog bekend vir hul streke. Zuma was problematies nog voor hy aan bewind gekom het. Die groter kollektiewe besluit van die ANC was nog steeds om hom op die publiek los te laat.

Iewers het iemand, of meer waarskynlik ʼn groep iemande, besluit dat dit nie in die party se beste belang is om huis skoon te maak nie. En die Nuwe Dagbreek-mense was deel van daardie besluit, of hulle was ten minste bewus daarvan. Hulle móés gewees het. En die land word nou gyselaar gehou in die magstryd wat woed.

Daar is destyds gespot met Bathabile Dlamini toe sy haar smallnyana-opmerking gemaak het. “We all have our smallnyana skeletons, and if it all comes out, all hell will break loose.” Of woorde tot dien effek.

Dit was waarskynlik die naaste wat iemand uit die binnekring nog gekom het daaraan om die gees wat binne die ANC heers, te beskryf, maar sy is geïgnoreer.

Daar is geen politieke aanspreeklikheid vir persone wat besig is om ons land te stroop nie, omdat hulle beskerm word. Daar was tot dusver nog geen kriminele aanspreeklikheid nie. Kostebevele in persoonlike hoedanigheid is die naaste wat enige persoon in beheer nog gekom het daaraan om aanspreeklikheid te ervaar. En selfs dan word daar getrou fondsinsameling namens hulle gedoen sodat hulle nie regtig die gevolge aan eie bas ervaar nie.

Almal gaan rustig voort met hul lewens en hul bedrywighede. Hoekom is daar geen gevolge nie? Smallnyana skeletons. Want niemand se hande is skoon nie. Niemand kan dus die vinger na ander wys, of hulle teregwys nie.

Dis die ANC-effek.

  • 2

Kommentaar

  • Me Wyngaard, die praktyk van korrupsie is so oud soos die mens self. In ons situasie in die land is dit die WMC (White Minority Capitalists) wat die varke in die verhaal is. Neef Jan het hier met sy skuide aangesit gekom en die "korrupshion" het begin. Soos alles is daar mos maklik om die een groep as die skuldiges uit te sonder. Die ou storie, jy krap my rug en ek krap jou rug. Noem dit wat jy wil.

  • Die vraag wat beantwoord moet word is:"Waarom moet die gewone burger wat nie deel was of voordeel getrek het uit die korrupsie,nou belas word om die gevolge daarvan,te herstel? Moet diegene wat Zuma en sy korrrupte bewind beskerm het nie nou pa staan vir die gemors en eerste daarvoor betaal tesame met diegene wat daarby gebaat het nie."

    Is dit werklik moreel geregverdig om diegene wat getrou hul deel bygedra het nou te belas om dit te herstel waarvoor hul reeds betaal het? Daar word mos gedurig gepreek "that the user must pay" laat dit dan ook hier geld en toegepas word en die korruptes en voordeeltrekkers betaal vir die gemors.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top