Plek van poue: ’n onderhoud met Henriëtte Linde-Loubser

  • 1

Plek van poue
Henriëtte Linde-Loubser
LAPA
ISBN: 9780639605296

Naomi Meyer praat met Henriëtte Linde-Loubser oor Henriëtte se Plek van poue.

Henriëtte, van jou weet ek voordat ek hierdie boek begin lees het: jou belangstelling in die ekologie, en ekokritiek. Ek verwys na sommige van jou artikels in LitNet Akademies. So toe ek besef jy het ’n storie geskryf met ’n dier/voël in die titel versteek, het dit my nie te veel verbaas nie, weens die aard van jou belangstellings. Vertel waarom die pou jou so aangryp?

Die pou was nog altyd vir my fassinerend, en alhoewel ek hom aanvanklik nie bewustelik gekies het nie, het ek gou begin verstaan hoekom hy met Stela se aankoms by die kasteel reeds vir haar op die muurtjie sit en wag het. Hy was een van die eerste karakters in die verhaal wat sy ontmoet het. Die simboliek rondom poue is eindeloos en ook teenstrydig van aard. Daar is hierdie pragtige dier, pronkerig en beeldskoon, maar met ’n aaklige roep en ’n soms venynige geaardheid. In Victoria Holt se boeke word die pou dikwels aangetref en ek dink dit is waarskynlik hoekom ek hom dan ook gekies het. Tog het ek gou besef dat hy ook wonderlik kan werk as verteenwoordigend van Robert Montrose. Flambojant, adellik, statig, ’n simbool van welvaart, maar met ’n donker kant. Die pou is simbolies van onsterflikheid, van herrysing, van sterkte en oorlewing en ook van die alsiende, derde oog. Tog is dit ook gelaai met negatiwiteit, van ongeluk, ontrouheid, hartseer, selfliefde en van die bose / die duiwel. Op sy beurt is die wit pou verteenwoordigend van beskerming en dien as waarskuwing, dus is hy die gesant van die goeie en is hy uiteindelik die “metgesel” wat Stela teen haarself en teen die boosheid wat in die kasteel se gange hang, moet beskerm.

Die hoofkarakter se naam het my met eerste oogopslag laat wonder of dit ’n spelfout is: Stela. Maar jy klaar gou enige vrae op as jy vir die leser van haar agtergrond vertel, en waar haar naam vandaan kom. Later speel ’n ander soort klip/gesteente ook ’n belangrike rol in die storie. Wil jy iets van die karakter vertel, en ook van jou kennis van klippe en gesteentes?

Stela is jonk en met min lewenservaring; veral aan die begin van die verhaal is sy dikwels hopeloos naïef. Sy is aartsnuuskierig, wat haar soms in lewensgevaarlike situasies kan laat beland. Sy is egter ’n sterk vrou, al moet sy dit nog self ontdek. Haar soeke na die geborgenheid van ’n hegte gesinslewe, na aanvaarding as deel van ’n liefdevolle familie, laat haar omgee – so intens dat dit haar lewe kompliseer. Sy het egter ’n onwrikbare vasberadenheid in haar, die krag van klip. Haar naam beteken letterlik kliptablet of grafsuil en dit was die keuse van haar ouers ter ere aan hulle passie vir hulle werk. Ek het geen argeologiese agtergrond of kennis nie en moes navorsing doen hieroor. Die ametis, ’n steen wat in die verhaal ’n belangrike rol speel, is ’n kragtige simbool van beskerming. Tydens my navorsing het ek afgekom op die amulet van pouvere, swaeltjievere en ametis wat as beskerming gedra kan word, en ek het dit dus so gebruik.

Die eksotiese met die intrapslag: Stela moet gaan tuisskoolonderrig waarneem op die Tuinroete, en beland in ’n kasteel. Hoe het jy jou omgewing gekies? Navorsing? Of wat is jou verbintenis met daardie omgewing?

Ek dink die eksotiese omgewing van die Tuinroete was vir my die ideale omgewing en ek het dit gekies nadat ons vinnig in daardie omgewing was toe ek aan die verhaal moes skryf. Dit is ook daar waar ek die Noetziekasteel gesien het, wat my inspirasie vir Kasteel Pavo was. Ek is van die Klein Karoo, dus fassineer die andersheid van groen, geil plekke my, waarskynlik omdat ek dit as totaal anders, verleidelik en misterieus ervaar.

Die kasteel het sy onverwagshede. ’n Dwerg. Vinnig word dit sprokiesagtig, op ’n donker manier. Ek sien jy verwys na ’n Gotiese inspirasie voorin die boek. Wil jy hierop uitbrei?

Terwyl ek aan die verhaal geskryf het, was die bedoeling dat dit ’n “Victoria Holt” moet wees (ek het hierdie boeke verslind toe ek ’n jong meisie was). Dit was bedoel as ’n soort speletjie, ’n tong-in-die-kies-draaksteek en ’n take op hierdie tipe verhaal – in Afrikaans! Dit moes ’n genotvolle ervaring wees en my plesier verskaf terwyl ek werk aan ’n manuskrip van 60 000 woorde binne ’n bestek van 30 dae. Want dit was ’n opdrag tydens ’n manuskripontwikkelingskursus, en ek wou iets skryf wat ek sou geniet om self te lees. Terwyl ek dit geskryf het, het die woord “Goties” nooit by my opgekom nie. Eers later het ek besef dat dit presies is wat dit is – ’n Gotiese roman.

Die musiek en die atmosfeer van die aand. En dan ’n aankondiging. Die master se vrou is oorlede. Wat onderskei die Gotiese verhaal van ’n spookstorie?

Alhoewel daar spokerige elemente in die Gotiese verhaal is, is dit nie ’n blatante spookstorie nie. Dis eerder ’n spel met suggestie, met die onverklaarbare, met die onwerklike, met die droom en die verbeelding, van die onderbewuste en van onheil. Die karakter(s) sien nooit werklik ’n spook nie. ’n Gotiese verhaal hoef ook nie noodwendig die bonatuurlike in te sluit nie. Dit gaan eerder oor die skep van ’n ontstellende, broeiende, geheimsinnige en donker of selfs makabere atmosfeer.

’n Stram verhouding tussen kind en ouer – hier moet sy kom skoolhou. Mens sou kon praat van werkspolitiek met die intrapslag. Wat het jou hieraan laat dink? Het jy tieners in jou huis …? (Noudat ek daaroor dink: Eintlik skep geen karakter soveel onvoorspelbaarheid en intrige soos ’n tienerkarakter nie. 😉 )

Tieners ontlok dikwels intrige, ja, en vanuit eie ervaring beskou ek hulle as moeilik voorspelbaar. Tog het ek ’n diep deernis met hierdie ontwikkelingsfase in die menslike lewe en ek dink my liefde vir kinders en vir jongmense maak dit makliker om so ’n karakter in my werk te akkommodeer. Daar moes ’n rede wees hoekom Stela haar in die kasteel sou bevind, en die skep van die tienerkarakter van Margaret Montrose was die gevolg daarvan.

Met elke bospaadjie is daar meer geheime, hoe dieper mens inkronkel. Daar is ’n paar mense van hierdie kasteel wat gesterf het, en geen van die verhale word openlik vertel nie. Het jy die geheime vooraf ontrafel, of was dit vir jou ook geheimsinnig, en moes jy antwoorde saam met jou hoofkarakter vind?

Dit was so ’n bietjie van albei. Aanvanklik het ek die manuskrip net geskryf. Alles wat in my kop opgekom het, het ek neergepen, want daar was nie veel tyd vir beplan en bepeins en navors nie. Tog het ek so ’n idee gehad dat die verhaal vol geheimsinnighede sou wees. Dus het die meeste van die geheime tydens die aanvanklike onbevange skryfproses hulle oorsprong gekry en het ek hulle saam met die karakter ontdek. Ek het egter by voorbaat geweet dat daar bewegende skaduwees en fluisterende stemme gaan wees!

Die motvrou wat met poue praat. Wie is sy? Hoe het die karakter haar by jou aangemeld?

Leto se naam is afgelei van ’n wetenskaplike naam vir motte. Toe die eerste voorspellings van dreigende onheil in die verhaal moes manifesteer, het sy met haar kapjas kom aanmeld as die een wat vir Stela sou waarsku en haar sou probeer beskerm. Sy was vir my die karakter wat geheimsinnig sou bly en verteenwoordigend van die onverklaarbare sou wees. Leto is liewer vir diere as vir mense; sy omring haar met motte en poue. Tydens navorsing het ek heelwat opgelees oor legendes en die geskiedenis van daardie geweste en die sywurmbedryf van vroeër jare, en die storie (soos ook in Dalene Matthee se Toorbos) van die Italiaanse immigrante, van wie Leto ’n afstammeling is, was vir my aangrypend.

Hoe dieper ek in jou storie inlees, hoe meer dink ek (steeds) oor wat ek reeds van jou belangstellings weet. Jou storie wemel van diere: rooikatte, vlermuise, motte, jagluiperds, en natuurlik die poue. Hoe het jou daaglikse akademiese navorsing toe ’n fiksieboek geword, na al die jare? Hoe lank broei hierdie storie al en wat was jou werkswyse? Organies, beplan, tydsduur?

Diere en die natuurlike omgewing is ’n belangrike deel van my skryfwerk en sal dit altyd wees. Ek het na aan die natuur grootgeword en my liefde vir, my begogeling deur, die natuurlike omgewing, plante en diere spruit daaruit. Ek het nie ’n spesifieke voorkeur as dit by diere kom nie, maar daar is tog vir my ’n besondere liefde vir diere in hulle natuurlike omgewing.

Die mooi pouvere is toe ’n teken van ongeluk en nie om welkom te heet nie. Om dop te hou. Sy is die inkommer, die een van buite af. Die outsider-figuur. Hier begin dit voel na Beauty and the Beast, die gevangenskap-element. Was sprokies ook vir jou ’n inspirasie? Jy wat so baie van jeugverhale af weet?

My muse was/is Freda Linde, wat haar liefde vir die natuur in haar skryfwerk laat voortleef, en dit is hier waar ook my bemoeienis daarmee beslag gekry het. Tydens die skryfproses meld diere, riviere, die see, woude en die natuur in al haar vorms net eenvoudig aan en ek kan nie anders as om gehoor te gee nie! Plek van Poue het nie in my gedagtes gebroei nie; dit is ’n verhaal waarvan die ruwe vorm baie vinnig gestalte moes kry. Dit is eers veel later en oor jare heen dat ek daaraan geskaaf het. Die manuskrip het vir bykans agt jaar op my rekenaar gewag voordat dit by die drukpers uitgekom het. Oorlede Cecilia Brits, van Lapa, het die bal aan die rol gesit en ons was besig om saam aan Plek van poue te werk ten tye van haar dood. Haar opvolger, Madri Victor, het vir die eindresultaat gesorg en ek is haar oneindig dankbaar daarvoor.

Ek is baie lief vir sprokies, waarskynlik ook vanweë my passie vir kinderverhale, en toe ’n kasteel dan nou in die manuskrip opdoem, moes die verwysing na die magic van sprokies noodwendig volg. Tydens my akademiese navorsing van die afgelope jare, veral dan ook met betrekking tot kinder- en jeugverhale, het ek my dikwels besig gehou met literatuur bedoel vir jong lesers, en sprokies vorm deel hiervan. Ek het tydens my nagraadse studie die moontlikheid van omgewingsbewusmaking en ’n liefde vir die natuur deur middel van kinder- en jeugliteratuur ondersoek, en hierdie ontdekkingstog was vir my absoluut heerlik en net weer ’n bevestiging van my liefde vir letterkunde en vir die natuurlike omgewing.

Ek raai een groot raakpunt tussen jou hoofkarakter en jou is dat die natuur vir albei van julle wonderlik is. Maar jy weet meer van die natuur af as sy; jy weet alles wat al die ander karakters vir haar vertel as sy daaroor uitvra. Waar het jou belangstelling begin? Noem van jou gunstelinge in die natuur, en in jou storie: cheetahs, perde, diere, plante?

My grootwordjare in die Klein Karoo en by my grootouers op die plaas het my liefde vir ’n lewe na aan die grond gevorm. Ek dink as ek weer ’n studierigting moes kies, sou ek waarskynlik ’n bewaringsekoloog geword het. Nou hoop ek om deur my skryfwerk ’n omgewingsaktivis te wees en ’n stem te gee aan die natuur waaraan ons as mense soveel verskuldig is. Ek hoop dat my werk lesers bewus sal maak van ons afhanklikheid van die natuurlike omgewing, van ons diepe verknogtheid aan die natuur en van ons onlosmaaklike verbintenis daaraan.

Die pou se onheilspellende gille in die nag, die feit dat Stela nie weet wie sy kan vertrou nie. Ek begin die titel van die boek verstaan. Hoe het jy die titel uitgedink en wanneer? Was die storie reeds geskryf, of was dit ’n andersom proses: eers die titel en toe die storie?

Ek is vreeslik sleg met die kies van titels. Plek van poue het verskeie name gehad, want terwyl jy aan ’n manuskrip werk, moet daar tog reeds ’n werkstitel wees. Plek van poue was onder andere Kasteel Montrose, Pavo, Die pou, Pouveer ... en uiteindelik is daar op die finale titel besluit.

Eers is die kos heerlik; later is dit deel van die onheil (en dit dui op ’n ander probleem, om dit so te stel). Ek wil nie te veel verder uitbrei nie, maar the plot thickens. Nou kan sy nie weg nie. Die kos wat haar ingelok het, het nou sy smaak verloor. Watter elemente was alles vir jou belangrik in die storie?

Die koselement in die verhaal is vir my verteenwoordigend van die sensuele. Van die genotlike verleiding van die sinne. Om lekker te eet, om goeie kookvernuf en wonderlike bestanddele te waardeer, is ’n sensuele ervaring, en een van die elemente van die Gotiese roman is juis die beklemtoning van sensualiteit en seksualiteit in die menslike natuur.

Henriëtte Linde-Loubser (foto: verskaf)

Het jy die verhaal enduit beplan? Die einde vooraf geweet? Plotgedrewe of karaktergedrewe geskryf? ’n Donker sprokie? 

Die verhaal het vir my ’n paar moontlike eindes gehad. Ek het, soos reeds genoem, geweet dit gaan ’n “Victoria Holt” wees (en ek het steeds ’n liefde vir die Gotiese roman) alhoewel ek nie die verhaal as sulks benoem het tydens die skryfproses nie. Die einde van die verhaal, watter een ek ook al sou kies, het egter van die begin af ’n “oop” einde gehad en dit sou steeds ’n element van misterie bevat. Ek het geweet dit gaan ’n einde wees waaroor die leser sal wonder, sal bespiegel en uiteindelik tot sy/haar eie slotsom oor sal kom.

En nou? Skryf jy aan ’n volgende boek? En wat lees jy, of het jy onlangs gelees?

Ja, ek is reeds besig met ’n volgende manuskrip. Ek verplig myself om beurtelings Engels en Afrikaans te lees. Ek lees baie en het nie ’n taalvoorkeur nie. Ek is egter baie ondersteunend van Afrikaanse fiksieskrywers en dink ons skrywers kan met die beste ter wêreld meeding. Op die oomblik is ek pas klaar gelees aan Rudie van Rensburg se Merk, en voor dit het ek in vervoering gelees aan Song of the jade lily van Kirsty Manning. Die stapel nuwe Afrikaanse boeke op my bedkassie is reeds weer hoog.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir plasing van die onderhoud. Ek het opnuut respek vir die skryfproses en die skrywer se drif, verbeelding en vaardigheid wat vir ons so 'n genotvolle en boeiende storie uit haar kop gaan haal het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top