Plaashuis – ’n onderhoud met Dian Weys

  • 0

Tydens 2017 se Silwerskermfees palm Dian Weys die toekennings vir beste kortfilm en draaiboek vir sy rolprent, Versnel, in. Dié film het ook by 15 filmfeeste vertoon, insluitend lande soos Amerika, België, Brittanje en Oostenryk. In die nadraai van verskeie onlangse plaasmoorde het hy onlangs ’n skarebefondsingsveldtog van stapel gestuur om geld in te samel vir sy nuutste kortfilmprojek, Plaashuis, waarmee hy poog om plaasmoorde onder die soeklig te plaas.  

Martin Laubscher het met hom oor hierdie projek gesels.

Vertel my kortliks van jou projek. Waaroor handel Plaashuis en wat poog jy om met die film te bereik?

Plaashuis handel oor ’n vrou wat skoonmaakdienste aan inwoners van haar dorp verskaf. Sy ontvang ’n oproep om ’n moordtoneel op ’n plaas skoon te maak en vra haar vriendin om haar te help. Tydens die skoonmaakproses word die twee vroue nie net gekonfronteer met die stille getuienis van ’n plaasmoord nie, maar ook met wat dit werklik beteken om verantwoordelikheid vir hul medemens te neem. 

Die idee is om die toeskouer uit te nooi om ’n getuie van die verhaal te word, om die spieël óm te draai sodat hulle hulself kan afvra wat hulle in so ’n situasie sou doen.

Dian Weys (foto: verskaf)

Waarom wil jy juis hierdie tema aanspreek?

Ek stel in films belang wat oor die vraagstuk van verantwoordelikheid handel, omdat ek myself gereeld afvra: Wat behels my verantwoordelikheid teenoor my medemens, veral nadat geweld plaasgevind het? Wat word van my verwag wanneer my naaste swaarkry of seergekry het? En is ek bereid om myself op die spel te plaas met die opneem van só ’n verantwoordelikheid?  

Met Versnel, jou vorige kortfilm, het jy ook ’n omstrede, en hedendaags-relevante, tema, naamlik ambulansaanvalle, aangespreek. Is daar ooreenkomste in die manier waarop jy met plaasmoorde in gesprek wil tree?

Beide kortfilms se inhoud fokus op die nadraai van geweld en die karakters se reaksie daarop, terwyl die tegniese aanslag poog om gehoordeelname aan te moedig. Ek dink dat geweld in Suid-Afrika simptomaties is van ’n komplekse stel politieke en sosio-ekonomiese faktore wat in beide die onreg van die hede en die verlede gewortel is. Ek is baie lief vir ons land en daarom poog hierdie kortfilms om ’n gesprek te begin rondom ons verantwoordelikheid teenoor hierdie uiteenlopende en komplekse kwessies. 

Plaasmoorde is uiteraard ’n polariserende onderwerp in Suid-Afrika. Een van die teenkantingsrefreine wat ’n mens dikwels hoor is dat alle geweld in alle sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing hoogty vier en dat plaasmoorde statisities nie noodwendig noemenswaardig uitstyg nie. Wat is jou antwoord op daardie argument en waarom voel jy dat jy persoonlik spesiaal aandag aan die verskynsel wil gee?

Ek neem nie statistiek in ag of stel ’n hierargie van swaarkry op om te besluit waarop ek wil fokus nie, maar stel eerder belang in die tematiek van verantwoordelikheid. Vier jaar gelede het ek gelees van hoe mense se bure ’n bloedige plaasmoordtoneel gaan skoonmaak het sodat die gesin na ’n skoon huis kan terugkeer. Die idee dat mense bereid was om só iets vir hul naaste te doen was vir my ontsettend aangrypend. Ek het met die skoonmakers gaan gesels en die kortfilmdraaiboek het uit daardie gesprekke ontwikkel. Daarom sal ek antwoord dat hierdie eerder ’n film is wat handel oor die nadraai van geweld en die mense in die onmiddellike omgewing se reaksie daarop.

Ek werk tans aan nog twee kortfilms: Bergie handel oor ’n polisiebeampte wat haweloses moet verwyder sodat ’n 5km pretdraf kan plaasvind en Aasvoëls handel oor twee insleepvoertuigbestuurders wat eerste op ’n ongelukstoneel opdaag. Al verskil hierdie omstandighede, spreek dit dieselfde tema aan, naamlik die oproep van my verantwoordelikheid ten opsigte van iemand anders se kwesbaarheid, afhanklikheid en menslikheid.

Daar is ander Suid-Afrikaanse films wat reeds dieselfde tema van plaasmoorde aanspreek. In watter mate verskil die projek wat jy aandurf van daardie films?

Ja, plaasmoorde is natuurlik reeds in Suid-Afrikaanse films uitgebeeld, maar daar is nog nie gefokus op wat direk daarna gebeur nie. Behalwe dat Plaashuis op die nadraai fokus, stel hierdie aanslag ook gehore in staat om hul verbeelding in te span, beide oor wat tydens die plaasaanval gebeur het en hoe hulle self sou reageer. Hoe sou jy te werk gaan indien jy gevra word om só ’n toneel skoon te maak? Dit is ook uit respek vir diegene wat werklik op ’n plaas aangeval is dat hierdie kortfilm weier om ’n aanval voor te stel en eerder fokus op wat ná ’n plaasmoord gebeur.   

Op daardie noot. As filmkritikus – en maker, het jy al telkens melding gemaak van geweld in films. Kan jy kortliks jou mening oor die aanwending van geweld uiteensit?

Meeste films wys gewoonlik die sigbare en skouspelagtige aspekte van geweld, maar selde wat daarna gebeur. Verder word geweld gereeld as ’n vorm van vermaak aangewend. Aangesien ons daagliks met verskeie media oorweldig word, kan daar geargumenteer word dat ons houvas op die werklikheid van geweld stelselmatig verswak, omdat ons begrip van geweld met die media se uitbeelding daarvan vervang word. ’n Vriendin van my het eenkeer gesê dat sy nie kon glo dat haar vriend, wat in ’n grusame ongeluk was, weer moes leer loop nadat hy drie maande in die intensiewe sorgeenheid was nie. Ek dink dat die media se uitbeelding van geweld bydra tot ons wanpersepsie daarvan; dat dit met fisiese, psigologiese en emosionele trauma gepaard gaan en dat die gevolge soms erger as die geweld self is.   

Wie is die res van die span en rolverdeling wat jy ontplooi om die projek saam met jou aan te pak?

Ek is dankbaar om ’n baie talentvolle filmspan aan boord te hê. Martelize Kolver en Nicola Hanekom sal die twee vriendinne vertolk en Albert Pretorius die rol van die boer van die aangrensende plaas. Chris Lotz is die kinematograaf (The Endless River, Sara se Geheim, Kokkedoor en Jan); Bathoni Robinson is die produksie-ontwerper (Vir Die Voëls, Ellen: Die Storie van Ellen Pakkies en Modder en Bloed).; en Charlene (Bolla) Goliath Green is die kostumier, haar- en grimeerkunstenaar (Boekklub, Boland Moorde, Suidooster en Vallei van Sluiers).

Foto’s van Nicola Hanekom, Albert Pretorius en Martelize Kolver: verskaf

Vertel my meer van die skarebefondsing. Waarom verkies jy die medium van geldinsamel en waarvoor alles benodig jy die fooie?

Skarebefondsing is ’n manier van geldinsameling wat ten volle op donasies van die publiek staatmaak. Ek het die afgelope drie jaar tradisionele roetes gevolg om die kortfilm te befonds, maar talle instansies wou nie eintlik daaraan raak nie, omdat plaasmoorde so ’n sensitiewe en verpolitiseerde kwessie is. 

Ek glo dat skarebefondsing meer effektief sal wees. Die begroting van R208 200 sluit in die produksie-ontwerp; die huur van kamera-, klank- en beligtingstoerusting; die huur van die perseel; die vervoer na die plaas; die verblyf en etes vir die skietperiode van drie dae; video- en klankredigering; versekeringskoste en BTW.

Ek en my vervaardigers sal geen vergoeding ontvang nie. Aangesien die koronavirus ’n groot impak op die kunsbedryf gehad het, sal die res van die span wel vir hul onderskeie talente en dienste vergoed word.

Hoe kan mense betrokke raak?

Ondersteuners van die projek kan ons webwerf besoek by www.plaashuis-kortfilm.com. Daar is ’n skakel na die skarebefondsingsblad waar donasies gemaak kan word. As alternatief is die projek se bankbesonderhede ook op die webwerf, sodat ondersteuners ’n bankoorbetaling kan maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top