PJ Haasbroek (1943–)

  • 0

Gebore en getoë

Pieter Jacobus Haasbroek is op 30 Junie 1943 in Pretoria gebore, die oudste seun van Pieter Gabriël Jacobus Haasbroek en Maria Elisabeth Mara van Wyk. Sy ouers was boermense wat deur die depressie stad toe gejaag is. Sy pa het die geld wat hy aan die Jood vir die plaas, Grootverlang, in die Reddersburgdistrik geskuld het, afbetaal en verkoop, maar, soos Pieter aan NALN vertel, “nie sý groot verlange nie.” In die stad het hy aanvanklik as hyskraanbestuurder gewerk, later by die Munt en nog later by die Vleisraad.

Die jong Pieter is na die Florida Afrikaans Medium Laerskool, vertel Pieter verder, waar hy met die “rooinekkies” baklei het – net soos sy twee oupas immers ook gedoen het!

Sy pa het toe ’n plaas, Greylingsfontein, in die Petrusburgdistrik gekoop, waar Pieter na die plaaslike skool is. “Hier het ek springbokke geskiet, Pa se Frieskoeie help melk, rugby gespeel, atletiek gedoen en in my matriekjaar hoofseun geword, die plaasmeisies gevry en uiteindelik matriek in 1961 met ’n eersteklas geslaag (amper wiskunde gedop).” (Biografiese inligting verkry vanaf ’n skets wat die skrywer vir NALN gestuur het.)

Verdere studies en werk

In 1962 is Pieter na die Leërgimnasium en in 1963 begin hy met sy akademiese opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat met Staatsleer en Ekonomie as hoofvakke. Van sy ander vakke is Wysbegeerte, Privaatreg, Staatsreg, Frans en Engels. Hy behaal sy BA-graad met agt onderskeidings. Hy slaag sy BA Honneurs in Ekonomie ook met onderskeiding.

Pieter begin in 1967 by die Departement van Beplanning werk en in 1968 voltooi hy sy MA-graad oor die rol van die plaaslike owerhede in die bestedingstroom. Hy word aangestel aan die Universiteit van Pretoria as tydelike voltydse lektor. In dieselfde jaar trou hy met Estelle van Zyl, en drie seuns, Pieter Gabriël Jacobus, Johannes Jacob en Sarel Francois, word uit die huwelik gebore.“In hierdie tyd leer ek visvang en visskiet en skilder in my leë ure. Twee uitstallings word van my skilderye gehou – een in Pretoria.”

In Desember 1968 word Pieter as lektor aan die Universiteit van Zoeloeland aangestel. In Natal ontmoet hy vir Braam de Vries en hulle word groot vriende. In die biografiese skets vertel Pieter verder oor sy vriendskap met Braam: “Ek word grootmens, drink baie rooiwyn saam en praat so af en toe oor die kunste. Ek sê eendag vir hom as jy niks het om te sê nie, kan jy skryf en wys vir hom my intussense stories.” Braam redigeer dit en stuur twee aan die letterkundige tydskrif, Standpunte, wat beide aanvaar. Dit dien as ’n groot stimulus vir die nuwe skrywer.

Hy ontvang sy doktorsgraad in 1984 aan die Universiteit van Pretoria met ’n tesis oor die rol van die owerheid in die proses van ekonomiese ontwikkeling. Hy het aan die verslaggewer van Pretoria News (31 Maart 1984) gesê dat hy tydens sy doktorale studie maar min tyd gehad het om te skryf, maar dat hy hopelik in die tyd wat volg, weer ernstig wil begin skryf.

In 1985 word hy hoogleraar in Ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, ’n pos wat hy beklee tot aan die einde van 1987 toe hy deur die universiteit gesekondeer is na die Federasie van Nywerheidskamers voordat hy in 1988 groepsekonoom by Barloworld geword het totdat hy in 2004 aftree. Hy en Estelle verhuis hierna na Franschhoek na ’n plasie wat hulle “Uithoek” noem en waar hulle self ’n huis laat bou. Hy het vroeër in sy vrye tyd geskilder en die stofomslae van sy eerste drie boeke is op sy skilderwerk gegrond. Hy gaan jaarliks jag en is ’n bedrewe diepseeduiker. 

Koos Human van Human & Rousseau Uitgewers vra vir ’n manuskrip en Pieter stuur agtien kortverhale aan hom. Vyftien word aanvaar en die bundel Heupvuur verskyn in November 1974. Die bundel word baie goed ontvang en in 1974 ontvang Pieter die Eugène Marais-prys daarvoor.

In sy huldigingswoord tydens die toekenning van die prys het professor HvdM Scholtz onder andere die volgende gesê: “Heupvuur is een van die merkwaardigste debute wat toekomsverwagtinge wek, nie alleen vanweë die voortreflikhede wat dit reeds openbaar nie, maar ook vanweë die ‘foute’ wat daarin begaan word. Haasbroek het die tematiese spektrum en ook die menslikheid en perspektief wat die leser ‘blootstel’ aan sy vertellinge.” (Die Burger, 30 Junie 1975)

Pieter self het aan die verslaggewer van Tempo (16 Mei 1975) meer oor Heupvuur vertel: “Ek wil in die bundel sekere primitiewe drange in die mens uitbeeld – onder andere simboliseer en verbeeld ek in verskeie verhale die onbewuste gevoel en neiging totgeweld in die mens. Die primitiefste drange in die mens waaronder die seksuele, die soeke na die troos, word as primitiewe stimuli in die normale optrede van mense uitgebeeld.”

Tydens die ontvangs van die Eugène Marais-prys in 1975 distansieer Pieter hom van ander skrywers en laat blyk dat hy hom nie deel voel van die "skrywers”-geselskap nie. (Rapport, 24 Oktober 1982)

Die reaksie van die kritici was oorwegend positief. In Beeld (6 Januarie 1975) het Ampie Coetzee hom as volg oor Heupvuuruitgelaat: “Dit ly geen twyfel dat Heupvuur ’n opwindende debuut is nie. Vir die leser wat vertroud is met die Afrikaanse kortverhaal, sal dit duidelik wees dat die meeste verhale hierin in groot mate verskil van die kortkuns, soos byvoorbeeld Aucamp en De Vries, en dat hulle eerder - huiwerig en soms onseker – aansluiting vind by die werk van John Miles, veral ten opsigte van tema en skryfwyse.

“Hoewel die vyftien verhale in die bundel soms hemelsbreed van mekaar verskil in die tegniek van die vertelling, is daar tog ’n aantal deurlopende motiewe waarmee die skrywer hom besig gehou het. Die belangrikste en mees algemene is die volgende: die adolessensie en die jeug met sy bewuswordings en konfrontasies, geweld, (politieke geweld soos revolusie en terrorisme; maar ook die persoonlike geweld tussen enkelinge), die seksuele (hoofsaaklik as verstilling en vertroosting; maar ook as oorsaak tot konflik). (…)

“Die opvallendste eienskappe – of hulle nou geslaag is of nie – van die bundel is die gebruik van suggestie (veral aan die slot van die verhaal), wisselende perspektiewe, verskillende werklikhede en verwarrende, deureenlopende wêrelde (wat dikwels ’n kritiek tot oorsaak het). En ’n sterk beskrywende aanslag.”

In Rapport (5 Januarie 1975) het die resensent (dalk André P Brink) sy bespreking van Heupvuur só begin: “Volledig in die teken van vernuwing in ons kortkuns staan ’n merkwaardige debuutbundel wat onlangs by Human & Rousseau verskyn het, te wete PJ Haasbroek se Heupvuur.

“Dit sluit aan by die ‘ontploffende oomblik’, surrealistiese-ekspressionisties gelade, soos wat Jan Rabie dit in Afrikaans bekend gemaak het; en by die skokkende fantasieë van Breyten Breytenbach se Katastrofes, maar ook by die skrikwekkende ontginning van die alledaagse om die gruwel en geweld daarbinne bloot te lê, soos in John Miles se Liefs nie op straat nie. Daarby vertoon dit ’n digtheid, ’n verstommende tydskompleksiteit en ’n deureenloop van innerlike en uiterlike wat dit verwant maak aan Abraham de Vries se kortverhale.

“In sulke gedugte geselskap is dit nie maklik om met ’n eie stem te praat nie; juis daarom is Heupvuur so ’n besonderse verskyning – want hier is ’n geheel eiesoortige talent opmerklik. Trouens ek sou wou sê (in ag genome dat 1974’n ongelooflike arm jaar in die Afrikaanse fiksie was!) dat dit die belangrikste groeipunt in die jaar se fiksie verteenwoordig.

“Alles is natuurlik nog nie heeltemal gaaf en afgerond omtrent die bundel nie. (…) Maar die gebreke weeg nie op teen die voortreflikhede van hierdie verrassende bundel nie. (…) Myns insiens die allerbeste werk in die bundel is die héél kort verhaaltjies waar daar, met ’n dinamiet wat by John Miles s’n nie agterstaan nie, net skokkende nugterheid en eerlikheid – iets wat van die mens se gewelddadige hart onthul word. (…)

“Die gemene deler in die bundel, wat eintlik in die titel al aangedui word, is die onthulling van die byna primitiewe drif, die vuur van die heupe of hart, wat ónder die mens se alledaagse bedrywighede sy aktiwiteite, sy skoonheid én ook sy geweld motiveer: ’n vuur wat tegelyk kreatief en vernietigend kan wees. En Haasbroek se prestasie is dat hy dit telkens binne so ’n kort bestek, so dramaties saamgedronge, kan doen.”

In Desember 1974 oorhandig hy die manuskrip van Roofvis aan Koos Human en dit word in 1975 gepubliseer.

Charles Malan was die resensent van Roofvis in Volksblad van 4 November 1975: “Haasbroek se belangrikste enkele kwaliteit as skrywer is daarin geleë dat hy slegs die bowestruktuur hoef te belig om iets van die onpeilbare dieptes te laat weerkaats; sy dit dan die irrasionele, die demoniese, die instinktiewe dele van die menslike psige. (…)

“Een van die groot beswaringe teen die bundel is dat dit op dieselfde stramien (as wat by Heupvuur gevind word) voortborduur. (…) ’n Gebrek aan tematiese en selfs strukturele vernuwing is natuurlik glad nie sinoniem met stagnasie nie. Dit kom die bundel ten goede dat ou akkers met ’n veel groter genuanseerdheid herbewerk word. (…)

“Soms, helaas, lei die woordrykheid egter ook tot ’n klaaglik oordadige romantiekerigheid en selfs sierskrywery wat Haasbroek nie waardig is nie. (…) Terwyl foute opgenoem word: ewe amateuragtig is die gemaklike wit-en-swart-verdeling. (…)

“Gelukkig is daar heelwat eienskappe waarmee Haasbroek vergoed vir dié onnodig kritiese insinkings: sy gemaklike oorskakeling na die fantasmagoriese en surrealistiese, sy gevoelige hantering van potente situasies en newetone, veral sy bykans onbeteuelde vitaliteit en geesdrif. Die stem van die storieverteller is in sy kortkuns geensins dood nie.

“Laat dit dus ondubbelsinnig gesê word: Roofvis is een van die belangrikste toevoegings tot die Afrikaanse prosa wat hierdie jaar verskyn het; dit bied vooruitsigte vir ’n ‘stygende ontwikkelingslyn’ in meer as een opsig.”

In Transvaler (13 Desember 1975) het PD van der Walt die bespreking van Roofvis geskryf. Hy was van mening dat Heupvuur te veel bly steek het in die “opsetlik eksperimentele”. In Roofvis, het hy geskryf, is die titel ’n aanduiding van die belangrikste binding, naamlik van geweld, die verskrikking en die wrede en vir hom het die verhale ’n “frisse afgewisseldheid” getoon: “Maar soos die stukke in lengte en aard verskil, so is hulle ook ongelyk van gehalte.”

En dan het hy afgesluit: “PJ Haasbroek is ’n skrywer in wording; sy eiesoortigheid en vermoëns is onmiskenbaar, en dit sou ongeregverdig wees om nou reeds slegs meesterstukke van hom te verwag. Stilisties en struktureel is dié kortkuns ongelyk, tematies ook yl en ryk. Maar Roofvis bly iets besonders en ’n prikkelende leeservaring, want dit is ’n beduidende en verrykende toevoeging tot die kunsprosa van Sewentig, dui ’n groeipunt aan, is ’n ontwikkeling daarvan na aard en gehalte.”

Vir Abraham H de Vries (Beeld, 13 Oktober 1975) is Roofvis wat gehalte betref, beter as Heupvuur: “Hoewel hy kennelik in die tegniek van die kortkuns nie sonder wegwysers is nie, het hy met sy soort teks nouliks in Afrikaans iemand wat ’n mens ’n voorganger sou kon noem.”

André P Brink (Rapport, 14 September 1975) het Roofvis gesien as ’n bundel verhale wat met sekere voorbehoude die belofte van Heupvuur bevestig. Daar is vir hom heelwat ongelykhede in hierdie tweede bundel, maar, het hy verder in die resensie geskryf, “dit is danksy die beheersing en genadelose nugterheid van die styl dat sulke verskriklike oomblikke van geweld soos ‘Aardrykskunde-les’ en ‘Anatomieles’ so uitstekend is. Ek glo nie ons militêre owerheid gaan hiervan hou nie (…); ek glo nie ons politici gaan daarvan hou nie; ek glo nie ons sedebewakers gaan daarvan hou nie; ek is trouens nie so seker dat ek sélf daarvan ‘hou’ nie. Maar om van ‘iets te hou’ het met gehalte niks te doen nie; en dat Haasbroek hier waaragtig met ‘klein brokkies dinamiet van die gees’ werk en so dodelik akkuraat daarmee omgaan, is louter wins vir ons prosa. (…)

“As ’n mens van die benadering uitgaan dat wat ’n skrywer sê nie belangrik is nie, maar wel hoe hy dit sê, is Haasbroek ’n uitmuntende skrywer. Benader jy egter sy werk op die ewe geldige werktransendentale wyse, waar wat gesê word aan belangrikheid wen, is daar heelwat bedenkinge. Kwessie van benadering dus of ’n mens van Haasbroek hou of nie!”

André P Brink was toe nie so ver van die waarheid in sy resensie van Roofvis nie, want in 1976 was daar klagtes oor die verhalebundel en is dit by die Direktoraat van Publikasies (sensuurraad) aangekla. Hierop was PJ Haasbroek se kommentaar: “Ek kan goed raai waaroor die bohaai nou gaan. Dit is mos goed as mense dié dinge daagliks in hulle koerante lees, maar as ’n skrywer durf waag om oor dieselfde dinge te skryf, is dit skielik nie meer goed nie. Amptelik weet ek van die hele saak nog niks. Ek het ook maar by vriende gehoor wat dit in die Sondagkoerant gelees het.

“As daar ’n bohaai is, sal dit waarskynlik gaan oor die een kortverhaal, ‘Die begeerlikheid van die vlees’. Sy tema daarin – ’n Bybelse tema – is van ’n man wat met sy suster bloedskande pleeg.” (Oggendblad, 30 Augustus 1976)

In ’n onderhoud met Otto Krause (Rapport, 5 September 1966) beskryf Pieter verder sy gevoel oor dié gebeure: “Aanvanklik dink jy: Laat hulle die boek net sensureer, dan is daar pêre. Maar by nabetragting weet jy dat die sensuurraad maar net die produk is van ’n gemeenskap, met al sy waardes en vooroordele. Dit is dan wanneer jy besef dat jy die gemeenskap wat mag het om hul wense op die res van die gemeenskap af te dwing, in jou visier moet kry.”

Die Direktoraat het later besluit om nie Roofvis te verbied nie.

In 1976 is Pieter gevra om uit die redaksie van die letterkundige tydskrif Donga te bedank omdat sy beskouinge, volgens die redaksie, nie met die doelstellings van die blad strook nie. Hy het glo in ’n televisie-onderhoud die indruk geskep dat die blad met die Afrikaanse Skrywersgilde, waarvan Pieter ’n lid was, verbind is. (Rapport, 28 November 1976)

Pieter se volgende bundel kortverhale verskyn in 1977 by Human & Rousseau onder die titel Skrikbewind. Hilda Grobler is dieresensent in Hoofstad (1 April 1977) en sy skryf as volg: “In sy derde bundel kortverhale is die afgesaagde beelding gewysig, maar nie die tema nie, sodat die oordrewe beheptheid met alle aspekte van geweld nou vanweë die oordadige opgaan in ’n byna kunsmatige plastieke geweld, sat van klein herhaal geword het. Van die belofte op die flapteks dat dié bundel ’n aantal verhale bevat ‘wat nog klassiek sal word in Afrikaans’, sal min kom. (…)

“Blykbaar het Haasbroek sy beheptheid met geweld en seksualiteit uitgeput. Nêrens in die bundel bereik die hantering van die seksualiteit (spesifiek die perversiteit van afwykende seksualiteit) die spits wat Hennie Aucamp herhaaldelik bereik nie. In sy geheel is Skrikbewind ’n teleurstellende bundel.”

Ook Anita Lindenberg (Oggendblad, 28 April 1977) was nie baie positief oor Skrikbewind nie. Sy het as volg geskryf: “Onafhanklik. Dit is Haasbroek gewis. Hierin lê héélwat meriete; sy beste kortverhale is ’n bydrae tot die Afrikaanse prosa omdat hy ’n onmiskenbare eie stempel op hulle kon afdruk. Eenselwigheid is ook nie ’n tekortkoming van Haasbroek nie. Voortdurende tematiese en tegniese afwisseling getuig van ’n driftige vernuwings- en verruimingsywer.

“Maar gaandeweg begin die ‘onafhanklikheid’ nadele openbaar: dit wil deesdae voorkom asof Haasbroek in sy eie werk sy eie Sestigerfase van stapel stuur. Skrikbewind bevestig die indruk dat Haasbroek in sy swakker oomblikke op eie houtjie en van voor af aan slinger deur die groeiprosesse wat die Afrikaanse prosa die afgelope 15 jaar deurworstel het.”

Pieter is al die Hemingway van Suid-Afrika genoem, skryf Irna van Zyl in ’n onderhoud met hom in De Kat (Maart 1987). “Miskien is dit vanweë sy konserwatiewe beeld, of miskien vanweë sy manlike wêreld wat deur sy stories weerspieël word.”

“Ek is die strange animal van die literêre wêreld, en ook nie altyd so beleef nie”, vertel hy verder aan Van Zyl. “Ek pas nie in nie – ek het nie Afrikaans-Nederlands III gestudeer nie; eintlik het ek nog nooit letterkunde gestudeer nie. Maar ek lees baie en wyd. Ek laat nie goed by my verbygaan nie.”

Hy is een van die eerste Afrikaanse skrywers wat die wêreld van die grensoorlog in sy kortverhale uitbeeld. Beide sy eerste twee bogenoemde bundels, asook die volgende twee, Skrikbewind en Verby die vlakte, is goeie voorbeelde van die genre wat later bekend sou staan as grensliteratuur.

Na sy kortverhale volg twee jeugverhale (Op soek na die Johanna en Die pad na Maputzi), wat albei vir skole voorgeskryf is.

Op soek na die Johanna (1977) vertel die verhaal van oom Ieg, oom Beesjaap, Kleinjaap en Plaatjie wat besluit om na die wrak van die ou handelskip van die HOIK wat naby Amanzamnyama gesink het, te gaan soek. Die volgende gebeure volg vinnig opmekaar en die een spannende insident na die ander sal jong lesers deurentyd boei.

Hilda Grobler (Hoofstad, 8 September 1977) beskryf Op soek na die Johanna as ’n verhaal wat vlot en baie spannend geskryf is: “Die seuns beleef talle avonture behalwe die hoofavontuur, wat natuurlik die soektog na die Johanna is. Haasbroek het vir ’n goeie jeugboek gesorg (…).”

Pieter se volgende jeugverhaal, Die pad na Maputzi, is in 1981 gepubliseer en is ’n vervolg op Op soek na die Johanna in soverre dieselfde karakters daarin voorkom. Daar word ook baie ongemerk na die gebeure van die eerste boek verwys, maar nie so dat dit hinderlik is nie, skryf Peet van der Merwe in Hoofstad (6 April 1981).

Van der Merwe gaan voort: “Anders as in Op soek na die Johanna en ander avontuurverhale is die kinders nie in ’n stryd gewikkel met ’n paar gewetenlose skurke wat hulle planne in die wiele ry nie, maar ondervind hulle teenstand van die natuur: Son en reën, onbegaanbare heuwels en kranse en ook van hulle eie vrese.

“Wat veral in dié verhaal opval, is die goeie menseverhoudings. Van almal met wie hulle in aanraking kom, leer hulle iets van die lewe, leer hulle om mens te word. (…) Die hoogtepunt van die boek is Kleinjaap se hardlopery na Mtakatye om hulp te gaan soek, waar hy al hardlopende sy gedagtes in alle rigtings stuur om aan die gang te bly en sy vrees te bowe te kom.

“Die pad Maputzi toe lyk dus vir elke kind anders, maar wat werklik saak maak, is dat hulle dáár kom, dat elkeen op sy eie manier ’n sekere mate van volwassenheid bereik. (…) Die pad na Maputzi is ’n besonderse verhaal én goed geskryf.”

In 1979 wend PJ Haasbroek hom na die gebied van die satanisme met die publikasie van Die duiwel is los by HAUM. Hy het die boek in drie vlakke geskryf, naamlik die historiese wat die feitlike agtergrond van satanisme bied en dan die bykomende fiktiewe beskrywings en die analitiese, skryf JC Lamprecht in Beeld (18 Junie 1979). Vir hom is die aanbieding van die historiese faset die mees geslaagde: “Daarin word geredelik krities ontledende bevindinge gemaak wat vir die geïnteresseerde leser rigtinggewend kan wees. Of die geknelde leser sy akute duiwel-probleem aan die hand van Haasbroek se publikasie suksesvol sal peil, bly oop vir gesprek.”

In 1982, vyf jaar ná die publikasie van Skrikbewind, verskyn Pieter se volgende kortverhaalbundel by Human & Rousseau onder die titel Verby die vlakte. En Hennie Aucamp was heel beïndruk met hierdie nuwe bundel. Hy het in Vaderland (30 September 1982) geskryf: “Haasbroek op sy beste skryf opwindende Afrikaans, maar energieke prosa is nog nie ’n goeie verhaal nie. ’n Mens wens dit was die geval met die verhaal ‘Die ander helfte’, wat van die sterkste prosa van die jonger jare bevat. Dis ’n teks vol reuke – reuke van groei, ontbinding en die dood; reuke wat seksualiteit en dood verbind. Die plaastonele is van die oortuigendste in Afrikaans, soos dié waar die swartmense melk en teen die flanke van die koeie sit ‘asof hulle bid’. Maar Haasbroek slaag nie daarin om die begrippe ‘oersonde’ en ‘oer-onskuld’ oortuigend te integreer nie, sodat hy sy bedoeling teen die einde moet uitspel (…).

Verby die vlakte sou met strenger redigering gebaat het. Dit bevestig nietemin, ná ’n nogal langerige swye, dat Haasbroek gesond en lewendig en bowenal kreatief is.”

In Rapport (24 Oktober 1982) was André P Brink die resensent en hy was van mening dat Haasbroek, ná sy swye van ses jaar – “kort en klaar sy beste werk tot op datum gelewer het”.

Brink het verder geskryf: “’n Skerp ontwikkelde sintuig vir die dramatiese bly steeds kenmerkend van Haasbroek se werk; maar in die jare wat verloop het sedert sy vroeë werk, het ’n ryper en groter subtiliteit bygekom wat die draagwydte, die ‘menslike’ dimensie van sy verhale vergroot.

“Hierdie subtiliteit spreek onder andere al uit die titel en die deurwerk daarvan deur die elftal verhale in die bundel: telkens gaan dit om die voorstelling van ’n vlakte, hetsy geografies of geestelik, wat oor-of verbygesteek word na ’n ‘anderkant’, maar voortdurend met nuwe nuanses. (…)

“Onbevredigende verhale is daar ook, (…) maar danksy die stewige werk (waarop Brink in sy volledige resensie verwys het), is Verby die vlakte ’n voortreflike bundel waarmee Haasbroek van nuuts af bevestig dat daar wel terdeë in ons kortkuns met hom rekening gehou moet word.”

JP Smuts (Beeld, 24 Februarie 1983) het sy bespreking afgesluit: “Tog boei die bundel deurentyd, veral op grond van Haasbroek se meesterskap van die taal, sy vertroudheid met die soort wêreld wat hy kies, en bowenal in sy vermoë om situasies te skep.

“Min skrywers kan hom in dié opsigte ewenaar, en as ’n mens sy bundel stel teenoor ’n paar ander wat onlangs verskyn het, besef jy dat nie een van hierdie outeurs, en trouens die meeste gevestigde prosaïste in Afrikaans, hom in dié verband benader nie.”

Pieter se eerste roman word in die vorm van ’n novelle in 1986 by HAUM-Literêr onder die titel Die jaar nul gepubliseer. Tydens die eerste Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat in 1987 is dié novelle bespreek. Die verhaal speel af in Kambodja in 1975 toe die Khmer Rouge die land gewelddadig oorgeneem het en die kalender teruggedraai het tot “die jaar nul” sodat ’n nuwe era kan begin waarin die land heropgebou kan word. Die storie se hoofkarakter is Ton Ion Jin, ’n onderwyser in die skrifkuns, wat van sy gesin geskei word en in ’n arbeiderskamp beland waar hy die mees onmenslike toestande beleef. Ná ’n skrikwekkende tog deur ’n woud bevind hy hom in ’n vlugtelingkamp in ’n stad waar die hongersnood en siektetoestande net vererger.

Irna van Zyl skryf in ’n onderhoud met Pieter dat Ton Ion Jin net sowel ’n Afrikaner kon gewees het en hierop antwoord hy haar (De Kat, Maart 1987): “Ek glo mos basies alle mense is dieselfde, dit is net die lewenshouding en filosofieë wat verskil. Daarom kon ek ’n karakter skep waarmee goed gebeur wat vir my verstaanbaar is, al is hy ’n Oosterling.”

“In hierdie algehele chaos simboliseer Ton Ion Jin se soektog na sy voormalige student, die danseres Khrismi, die soeke na betekenis en sin,” skryf Gunther Pakendorf in Die Burger (2 April 1987).

Pakendorf gaan voort: “Die jaar nul berus op een van die oudste motiewe van die Europese letterkunde, naamlik die ‘vlug uit die stad wat brand’ en die daaropvolgende reis deur die onbekende as ’n allegorie vir die menslike bestaan.

“Die skrywer hanteer hierdie tema op ’n subtiele manier, sonder om die onderliggende simboliek té sterk te beklemtoon, en deur ’n knap ontplooiing van die konfrontasie tussen die holistiese lewensbeskouing wat die onderwyser se lewe bepaal en die barbaarse nihilisme van die Khmer Rouge.

“Haasbroek slaag daarin om feitlik deurgaans ’n ewewigtige verhouding te handhaaf tussen ’n realistiese weergawe van sintuiglike waarnemings, van kleurskakerings, van die tekstuur van geluid en reliëf en ’n meer gedistansieerde beskrywing van die karakters en hul onderlinge verhoudings. Om dié rede is Die jaar nul dus nie ’n gewone oorlogs- of liefdesverhaal nie.”

In Die Suid-Afrikaan van Mei 1987 het Elize Botha haar resensie as volg afgesluit: “Is dit ’n nuwe begin vir PJ Haasbroek, wie se aard as skrywer dikwels gelykgestel is aan sy bundeltitels van die sewentigerjare – Heupvuur, Roofvis, Skrikbewind? ’n Sekere poëtiese kwaliteit was daar nog altyd in sy kortverhale; die woord moes nie altyd dien tot skokkende en kliniese ver-beelding nie; sy woorde kon ook skoonheid aandui sonder om te versier. Dit is ’n vermoë wat blom in hierdie boek.

“Haasbroek bly in vele opsigte aan homself gelyk; hy sien so sekuur soos altyd die waansin van geweld raak, maar eis sy boodskap van die onverganklike in die mens se gees die groter ruimte en die langsamer, sierliker beweging van hierdie novelle op.

“Aan sekere gevare van hierdie soort transmutasie van die aktualiteit ontkom Haasbroek nie altyd nie – oorvereenvoudiging, soms; te weinig geleentheid vir konflik vir sy hoofkarakter, sodat hy werklik kan toon dat sy waarhede verwerf is; soms, ’n neiging om té verduidelikend in te tree en daarmee die selfgenoegsaamheid van sy woordwêreld aan te tas.

“In sy geheel vorm hierdie novelle egter ’n onmisbare bydrae tot die artistieke kroniek van ons tyd.”

André P Brink was egter nie heeltemal só positief oor Die jaar nul nie. In Rapport (14 Junie 1987) het hy, wat hy genoem het “die kerngebrek van Die jaar nul” as volg opgesom: “’It is hard to grasp the sense of a revolution,” skryf François Ponchaud in Cambodia Year Zero, ‘without relocating it in the historical, social and political context in which it arose; and it is virtually impossible to write its history if one is looking at it from outside.’

Brink het voortgeskryf: “Haasbroek is ’n gesoute storieverteller; en veral in die relaas van die kamplewe is daar sterk dramatiese momente wat onder meer omrede hul understatement, oortuig. Maar in die geheel is daar ’n eienaardige afgetrokkenheid in die verhaal. (…) Werklike peiling van óf ’n historiese situasie óf ’n individuele gemoed is daar beswaarlik. Daarom is die ‘toepaslikheid op die Suid-Afrikaanse situasie bedenklik en in ieder geval oorvereenvoudig. (…)

“Een van die kernprobleme lê in die feit dat die hooffiguur se lewe vóór die revolusie so vaag-romanties en yl voorgestel word. Dit het geen historiese, sosiale, politieke of ekonomiese substansie nie; en eintlik word daar met romantiese clichés volstaan.”

En dan eindig Brink sy resensie: “Ná die hoogtepunt van Verby die vlakte lyk Die jaar nul vir my, tot my groot spyt, na Haasbroek op sy swakste; mens wil baie opreg hoop dat die insinking net tydelik is.”

Hierdie negatiewe resensie het Pieter Haasbroek genoop om daarop te reageer deur middel van ’n ope brief wat in Rapport van 21 Junie 1987 gepubliseer is: “Beste André, Jou resensie van my novelle, Die jaar nul, het my laat wonder hoekom jy nie die punt van die verhaaltjie kon insien nie. Jy behoort tog genoeg insig te hê, André. Jy is tog immers nie net Rapport se kitsresensent nie, maar ook die geëerde, geleerde en welbelese professor-doktor wat die letterkunde deskundig moet hanteer.

“Weliswaar, kollega, laat jy die lesers ’n pant van jou akademiese toga in die resensie sien. (…) Die akademiese toga is egter net daar om onkundige lesers van jou letterkundige bona fides te oortuig en hopelik, paslik te beïndruk. Kyk hulle daarby verby, is dit maar net weer jy, die tipiese Rapport-Brink wat ek in jou vorige vier resensies van my werk leer ken het. En in die veiligheid van jou beskutte posisie by Rapport, geniepsig snedig.

“Jy behoort tog ook genoeg begrip te hê, André. Jy is mos self ’n skrywer; waarskynlik die produktiefste skrywer in Afrikaans. (…) Met so ’n almintige biblioteek van jou werk agter jou, het ek verwag dat jy beslis my verhaaltjie sou verstaan. Dit is nie moeilik nie, jy verwys self na die ‘baie enkelvoudige storielyn’. Waarom lyk dit dan asof jy dit glad nie begryp nie.”

En dan sluit Pieter sy relaas af: “Ag nee wat, ek dink jy moet maar weer Die jaar nul gaan lees. Moenie so haastig wees die keer nie. Lees dit rustig. En vergeet in hemelsnaam jou hang-ups, dit kom in die pad van jou goeie oordeel.” (Die hele brief kan verkry word vanaf NALN se knipselversameling.)

André P Brink het nie op hom laat wag nie en geantwoord (Rapport, 21 Augustus 1987): “Jou bedoeling met Die jaar nul was lofwaardig en ook deursigtig. Ongelukkig gaan dit in die literatuur nie om die wonderlike bedoelings van skrywers nie, maar om hoe daardie bedoelings in die skryfpraktyk verwesenlik word. En soos ek met voorbeelde geïllustreer het, het jou novelle helaas meestalin soet tydskrif-clichés bly steek.

“Ná my geesdriftige resensie oor jou vorige bundel het jy byna nie woorde gehad om jou lof en dank aan my te betuig nie: dis jammer dat jy nou na die oorkant toe oorboord moet gaan.

“Vir jou beste werk het ek nog altyd respek gehad en dit sou jammer wees as jy regtig van my verwag om oneerlik te wees en ’n swak teks goed te praat. Ek verseker jou ek sal positief reageer as jy weer iets produseer wat dit myns insiens verdien. En ek sal my by die teks bepaal, nie by die man daaragter nie.”

Met die publikasie van Voornagvlug: ’n Keur uit die verhale van PJ Haasbroek (en ’n inleiding deur Abraham H de Vries) in 1988 bespiegel die resensente of dit nie te gou na Haasbroek se debuut en sy volgende drie bundels uitgegee is nie, aangesien só ’n bundel gewoonlik uitgegee word as ’n tipe huldiging – óf ’n verjaardag, óf ’n terugkyk op dertig of veertig jaar se skrywerskap, en so meer, skryf Gunther Pakendorf in Die Burger van 23 Maart 1989.

Pakendorf skryf verder: “Haasbroek se verhale handel dan ook keer op keer oor drumpels en grense en oortredings – sy dit die politieke grens tussen lande of die drumpel van seksuele ontwaking of die onderskeid tussen wit en swart: dit word steeds tot ’n ander teenstelling teruggevoer, naamlik dié van die sterker teenoor die swakker, die geweldenaar teenoor sy slagoffer. Daar is inderdaad ’n dieper laag in hierdie bundel wat die basis van die skrywer se wêreld beeld en sy poëtika vorm: dit is die teenstelling van werklikheid en illusie.”

In Volksblad (29 April 1989) is HP van Coller die resensent en hy sluit sy bespreking só af: “Vanweë die feit dat die vroeë bundels vir latere Haasbroek in embrio bevat, word daar verhoudingsgewys veel meer van hul opgeneem as van die latere werk. Op sy beste is Haasbroek ’n skrywer wat hoort by die grotes onder die Afrikaanse kortverhaalskrywer: Van Melle, De Vries, Aucamp, Grové, Barnard …

“Hierdie bundel gee nie alleen ’n beeld van die werk van ’n baie belangrike skrywer nie, maar bied vir die leser nuttige wenke vir die lees van komplekse verhale. Ek wil hierdie teks sterk aanbeveel.”

In 1993 word Pieter Haasbroek se eerste vollengteroman by Human & Rousseau gepubliseer onder die titel Lem. Haasbroek vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 2 Februarie 2002) dat hy Lem geskryf het nadat sy seun, ’n reccie, in ’n valskermongeluk oorlede is: “Dit was ’n reaksie op die militêre establishment. Ek was aggressief en strydlustig. Maar ek het later agtergekom as jy ’n windmeul bloot as ’n windmeul identifiseer, wil jy dit nie meer aanval nie.”

Hennie van Coller het Lem vir Volksblad van 1 November 1993 geresenseer: “Die verbinding van geweld en die seksuele bekend uit sy vroeëre werk, kom steeds onverswak voor in Lem naas die swoel, tropiese Natal wat dikwels ook ’n aktiewe deel van sy werk vorm.

Lem vertel die storie van Izak Kock, dosent in geskiedenis aan die Universiteit van Zoeloeland op Empangeni wat met ’n bykans naïewe geloof in die wetenskap beweer dat daar vaste patrone in die geskiedenis bestaan. Ken jy die patrone, behoort jy die toekoms te kan voorspel (bladsy 11). Sy ontnugtering word later duidelik wanneer hy sy verhandeling opskeur (bladsy 113). Hiermee word geïmpliseer dat Toynbee se waarskuwing in vervulling tree – ’n mens kan maklik verkeerde antwoorde in die geskiedenis kry. Nie net is alle revolusie onvoorspelbaar nie, maar boonop kan geen mens onbetrokke bly in ’n situasie van geweld nie.

“Ook Izak self ontwikkel in die geweldsituasie wat in hierdie roman as toekomsprojeksie aangebied word, van ’n afstandelike en apatiese wetenskaplike in ’n ‘geslypte lem’ en ‘bloot iemand anders se wapen’. (bladsy 239). Die titel van die roman kom op talle plekke direk en indirek ter sprake en belig veral twee aspekte van ’n lem – die vernietigingsaspek daarvan, maar tewens die weerbaarheid wat dit verskaf. (…)

“Haasbroek se prosawerk is al herhaardelik bestempel as ‘surrealisties’. Dit beklemtoon die oppermagtigheid van die onbewuste en is daarom ook ’n verset teen die rede, die intellek en die beskawings. Surrealistiese beskrywings oorheers in Lem in die oorvloed van warm kleure soos rooi en groen wat op bykans elke bladsy aangetref kan word. Maar dit is ook sigbaar in die talle personifiërings van lewelose dinge. (…)

“Abraham H de Vries bestempel Haasbroek as behorende tot die ekstreme romantici wat gekenmerk word deur ‘skerp, kontrasterende kleure …, smake en reuke en teksture wat heftig en dramaties en sinlik oorweldigend is.’ In die eerste helfte van die roman is die oordaad ten opsigte van styl en beskrywing funksioneel; in die tweede gedeelte raak die roman se blus op en word dit blote vermaak. Dié werk kan daarom beskryf word as ’n belofteryke roman wat helaas nie in vervulling gegaan het nie.”

Eduan Swanepoel (Die Kat, Januarie 1993) som PJ Haasbroek se vorige werk as volg op: “Hy is een van die prominentste oorlogsverhaalskrywers in Afrikaans. Sedert die verskyning van sy eerste kortverhaalbundels in die jare sewentig word sy prosa in ’n groot mate gekenmerk deur die tematiek van geweld. Dikwels, soos in sy twee bekendste verhale, ‘Anatomieles’ en ‘Aardrykskundeles’, word dié tematiek deur grafiese beskrywings gedramatiseer.

“In Lem, sy jongste prosawerk, is dit meer as ooit die geval. Die verhaal speel af in die toekoms. Na die demokratiese verkiesings (wat vir ons in hierdie stadium nog voorlê) volg ’n periode van groot onstabiliteit sodat ’n staatsgreep uitgevoer word. Hierdie wending kan die toenemende terreur en geweld nie bedwing nie. Binne dié gegewe word die hoofkarakter, Koch, aanvanklik dosent in geskiedenis aan die Universiteit van Zoeloeland – later fabriekwerker en uiteindelik soldaat – aan die leser bekend gestel. Teenoor hom word die sub-hoofkarakter, Xamca, leier van ’n guerrillagroep, opgestel.

“Vir my is dié roman een van die mees problematiese tekste wat ek nog in Afrikaans gelees het. Dis die soort teks waar literêre meriete en moraliteit in so ’n mate verstrengel raak dat die een medebepalend ten opsigte van die ander funksioneer.”

Vir Swanepoel is Lem ’n herskrywing van die reeks grensoorloë gedurende die 19de eeu in Suid-Afrika, asook van Bloedrivier en Bloukrans: “Om in ’n roman ons huidige situasie op die toekoms te projekteer vanuit ’n historiese visie wat teen hierdie tyd darem al grondig gediskrediteer is, lyk vir my na ’n bedenklike literêre en morele aksie.

Swanepoel ondervind ook probleme met die uitbeelding van Koch, die hoofkarakter. “Hy word as intellektueel gesofistikeerd en as fisiek kragtig uitgebeeld. Die problematiek wat Haasbroek rondom hierdie karakter probeer opstel, is die kwessie dat sy weiering om kant te kies in ideologies-moralistiese kwessies hom al dieper in die geweldspiraal aftrek. (…)

“In die derde instansie lyk die abdikasie van narratiewe en morele verantwoordbaarheid in hierdie teks vir my na die regverdiging om geweld ter wille van geweld uit te beeld: die verheerliking van geweld as doel op sigself, as lewenswyse en as die enigste sosiaal gangbare stramien. (…)

“Haasbroek se roman gooi ’n donker skaduwee oor ’n groot deel van sy oeuvre. Dit is met nuwe oë dat ek sy drie kortverhaalbundels uit die 1970’s weer bekyk het. En begin wonder oor ’n literatuur wat sulke werke in sy kanon institusionaliseer.”

Fanie Olivier (Beeld, 26 Julie 1993) is baie beïndruk met die eerste helfte van die boek. Haasbroek slaag daarin om “op ’n aangrypende wyse die spanning tussen ’n passiewe historikus, ’n begeesterde jong guerrilla en die oorwoekerende subtropiese landskap vas te vang.”

Olivier kan egter nie verstaan wat later met die roman gebeur nie, en hy kan aan geen ander teks dink waarin twee helftes so verskillend is en ’n “roman so teleurstellend verskraal nie”.

Hy sluit af: “Die dramatiese verloop uiteindelik in flou melodrama, ook wat die vertelling self betref. Deur die keuse van ’n geskiedkundige as hooffiguur in ’n tydsgewrig waarin ‘die geskiedenis’ al hoe minder vanselfsprekend word, het Piet Haasbroek ’n boeiende gegewe geskep. Koch se dilemma is ook eie (en dit staan so), en juis daarom is dit so jammer dat hy uiteindelik van ons weggeskryf word.”

“’n Verhaal wat voorgee om die gewelddadige werklikheid te weerspieël, sal misluk omdat die werklikheid altyd meer tragies is. Geweld laat nie sy aaklige gesig agter eufemismes wegsteek nie. Geweld is banaal. Dit is melodramaties,” het Pieter Haasbroek inOktober 1993 in ’n lesing getiteld “Geweld in die samelewing en die skrywer” tydens die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom gesê.

“Geweld bevestig, soos die oorlewingsdrang, die voortbestaan van ’n natuurstaat in moderne samelewings,” het hy voortgegaan. “Dit wys terug na die primitiewe herkoms en is wesenlik in konflik met kultuur en beskawing. Kunstenaars is bewus van die geweld in hulle samewewing. As groep is hulle waarskynlik meer bewus daarvan as enige ander groep – kerkvaders en politici ingesluit. Kunstenaars word aangegryp deur die menslike onmenslikheid van die geweld. Dit inspireer hulle tot ’n kreatiewe reaksie.

“Die geweldtema stel besondere eise aan die skrywer. Omdat geweld ‘verskriklik’ kan wees, kan dit ook sensasioneel wees. Die eerlikste hantering van die tema kan lyk of dit op ’n skokeffek gemik is.”

Geweld is dan ook die tema van sy tweede roman Oemkontoe van die nasie (2002) en daar is al geskryf “uiteindelik is geweld min of meer die wapen op die literêre uniform van PJ Haasbroek”. (Die Suid-Afrikaan, Desember 1987)

Daar is kritiek op hom dat Oemkontoe rassistiese ondertone het, maar volgens Pieter stel hierdie boek die vrae wat ons tyd aan hom opdwing (Beeld, 2 Februarie 2002). “En daar is geen maklike antwoorde nie,” sê hy aan Stephanie Nieuwoudt. “As daarna gekyk word as bloot ’n rassistiese reaksie op die bestel, is dit ’n vereenvoudiging wat met minagting verwerp moet word.

“My boek is ook in ’n mate kritiek op die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Die WVK het deels antwoorde gebied op vrae oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Maar ek besef al hoe meer die proses het net ’n gedeeltelike perspektief gebied. My slotsom is dat as jy alles saamgooi, soos in die uiteindelike verslag van die WVK, sien jy baie leemtes. Die leemtes gaan op in die kollektiewe geheue en verdwyn. Al wat oorbly, is ’n gevoel van onvergenoegdheid. Dit word nie deel van die historiese bewussyn nie.”

Nasboek-uitgewers wou nie Oemkontoe van die nasie uitgee nie, maar Protea Boekhuis in Pretoria het die geleentheid aangegryp en dit gepubliseer. Die roman het ook aanvanklike negatiewe keurdersverslae gekry, of “oorweldigend negatief”, soos Pieter dit aan Annemarie Mischke in Rapport van 14 April 2002, beskryf.

Vir hom was dit negatief om die verkeerde redes: “Om die verkeerde nie-literêre redes, negatief op ’n manier wat ná daaraan kom om vryheid van mening aan bande te lê, wat wil voorskryf hoe en waaroor die boek moet gaan.”

Een keurder was van mening dat Oemkontoe nie gelees moet word nie en ’n ander dat dit nie uitgegee moet word nie: “NadatOemkontoe afgekeur is, het ek die keurdersverslae net so in die boek ingewerk, want die hoofkarakter is ook ’n politiek onkorrekte skrywer.”

Een van die keurdersverslae het geskryf dat dit baie duidelik gestel moet word dat die boek nie ’n korrekte politiese beeld van die nuwe Suid-Afrika voorhou nie. Daar is ook gewaarsku dat die boek dalk regse lesers sal aantrek.

Hierop sê Pieter aan Mischke: “Ek sóék daardie keurders. Hulle wat agter anonimiteit skuil. Hulle en ander wat hul kritiek op die boek vervlak tot blote verwyte oor politieke onkorrektheid sonder om met literêre maatstawwe te meet. Sonder om aandag te gee aan belangrike filosofiese en ontwikkelingskwessies wat ek in die boek aanraak.”

“Uiteindelik gaan mense hulle nie laat intimideer deur ’n oproep om patriotisme as dit beteken moenie kritiseer nie. As ’n skrywer gedwonge voel om politiek korrek te skyf, gaan hy soos die hoofkarakter in die boek vasgedraai raak in vrae oor wat vir lesers en uitgewers aanvaarbaar is.

“Ek was net eerlik. En die boek is nie sommer ondeurdag in ’n vlaag van negatiwiteit aan mekaar gesit nie. Ek het agt jaar daaraan gewerk, elke paragraaf, elke sin, met sorg gekonstrueer.”

Die skrywer vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 2 Februarie 2002) dat Oemkontoe van die nasie ’n “satiriese reaksie is op die institusionele geweld wat ek waarneem in Suid-Afrika. Apartheid, waar geleenthede van mense weggehou en hul menswaardigheid aangetas is, was institusionele geweld. Politiek is institusionele geweld. Institusionele geweld kan ook in godsdienste voorkom: teen die Islam of teen die Christendom. Of in die ekonomie. Met Oemkontoe word apartheid omgedraai en uit ’n ander hoek bekyk.

“Die gewone mens is kwalik opgewasse teen institusionele geweld, want dis só groot en só sterk. Maar al kan jy nie die stelsel oorwin nie, kan jy op persoonlike vlak vir ander goed wees. Soos om vir straatkinders klas te gee.”

Die gelykheidsdogma is die een ding in Suid-Afrika waarteen hy dit het, sê Pieter aan Nieuwoudt: “Ek vermoed die oorsprong van die dogma lê in die demokratiese sosialisme, waar een van die uitgangspunte dié van gelykheid is. Ek glo nie dat mense – benewens voor die Regbank en die Skepper – gelyk is nie. As skrywer het ek nie die vermoë van ’n Marquez nie. En as rugbyslot het ek nie die vermoëns van ’n Frik du Preez gehad nie.

“Wanneer mense ingedwing word in die dwangbuis van gelykheid, kry jy equality of misery. Maar hier is ook sommige wat minder misery as ander ervaar. Die mense wat die orde in stand moet hou, is eenvoudig meer bevoorreg.”

Oemkontoe van die nasie vertel die verhaal van Faan Starck, ’n onderwyser, wat afgedank word nadat hy ’n rubriek in ’n Nylstroomse streekkoerant skryf wat nie baie gewild by mense in belangrike posisies is nie. Ná sy afdanking trek hy saam met ’n groep mense terug Kaapland toe waar hy hom later in die Paarl in ’n losieshuis met die naam Huis Gavok bevind. Hier woon hy saam met ’n “versameling karakters wie se lewe deur die omwenteling van die onlangse verlede op losse skroewe geplaas is. Die sfeer waarin hierdie karakters leef, kan ten beste beskryf word as (Robert) Altmanesk, soos in die rolprente Brewster McCloud, Nashville en Shortcuts,” skryf Philip John in Beeld (4 Februarie 2002).

Philip John beskou Oemkontoe van die nasie as ’n welkome verrassing, asook as ’n “intelligente roman met ’n stewige dosis humor, iets waarna baie Afrikaanse lesers al lankal smag. (…)

“In die roman word die ’nuwe’ Suid-Afrika (soos dit in 2005 daar uitsien) onverskrokke en genadeloos aan die kaak gestel, met spesiale aandag aan die triomfantilistiese chauvinisme, domorigheid, rassisme en outoritêre logika van die nuwe elite.

“Lesers wat simpatiek staan teenoor die nuwe orde sal sekerlik nie positief reageer op die voorstelling in die boek nie en sal miskien nie so uitbundig saamlag nie, maar hulle gaan moeilik oortuigend kan wys dat daar iets met die roman skort, qua roman. Dit is ’n roman wat uiteenlopende reaksies gaan uitlok, grootliks bepaal deur lesers se politieke simpatieë.”

Dan sluit John sy bespreking af: “Met die verskyning van Oemkontoe kan daar nie meer twyfel wees nie dat Haasbroek een van Afrikaans se veelsydigste en mees bedrewe prosateurs is, en sy prosa nader beweeg aan die hoogtemerk gestel deur JM Coetzee en Karel Schoeman.”

Louise Viljoen is Die Burger (25 Maart 2002) se resensent en sy sluit haar resensie só af: “Hoewel ’n mens moeilik die twee vorme met mekaar kan vergelyk, mis hierdie roman die skerp fokus en ekonomiese taalgebruik wat so kenmerkend van Haasbroek se kortverhale was. Uiteindelik voel ’n mens ook dat hierdie satire min ruimte laat vir morele kompleksiteit en vir ’n analise van die geskiedenis wat voorafgegaan het aan die toestand wat in die roman geteken word. Geen leser of lesing is ‘onskuldig’ nie het Roland Barthes ons geleer (in dieselfde asem as wat hy ons daaraan herinner het dat die literêre teks dikwels polities inkorrek is).

Oemkontoe van die nasie is ’n teks wat die resensent dwing om noukeurig na te dink in welke mate die literêre maatstawwe wat sy of hy hanteer, ooit vry kan wees van politieke sentiment of ander vooroordele. Selfs met Barthes se vermanende woorde in my gedagte, moet ek bely dat Haasbroek se satire my nie werklik oortuig het nie.”

In Rapport van 13 Januarie 2002 sluit Fernel Abrahams sy resensie as volg af: “Miskien sou die skrywer beter daarin geslaag het om sinryk oor die maatskaplike omwenteling in Suid-Afrika te skryf as hy toegelaat het dat die gedeelde verantwoordelikheid van al die karakters aan die land se verlede en hede na vore kom.”

Hierop skryf Dan Roodt in ’n brief in Rapport van 20 Januarie 2002: “Oemkontoe is ’n onverskrokkke roman en Haasbroek ’n formidabele stilis wat dikwels die sublieme met die vulgêre rym om ons hedendaagse Afrikaners uit te beeld in hul erbarmlike uitgelewerdheid aan ’n irrasionele bestel, een en almal inwoners van Gavok.”

Haasbroek se volgende roman, Die ander vennoot, is in 2008, voor publikasie, met die Afrikanerbond se “300 jaar Africander”-prys vir gevestigde skrywers bekroon. Oor die uitgewers, Human & Rousseau, se besluit om nie op die omslag van die boek te verwys na hierdie prys nie, vertel PJ Haasbroek meer aan Riette Rust (Rapport, 13 September 2009): “Al was dit lekker om so ’n groot prys te kry vir iets wat ek nie spesifiek oor die Afrikaners geskryf het nie, wonder ek tog hoe die roman ontvang gaan word.

“Mense kan dit dalk aan my Afrikanerskap, wat hulle as ’n uitgediende stamverbintenis beskou, verbind. Hulle kan sê die roman is ’n uitdrukking van my lotsverbondenheid aan die ongelukkige geskiedenis van die Afrikaners. Omdat my skryfwerk daardeur etnies gekleur is, kan hulle ook dink dit is verdag: die gegrom van ’n rockspider.”

Die agtergrond vir Die ander vennoot is die ou Suidwes-Afrika (vandag Namibië) vanaf 1985 tot ná 1994. Die hoofkarakters is Herklaas Pretorius en John Heckroodt, twee vennote, wat avontuurtoere deur Suidwes begelei. Hulle boer ook met beeste en is die eienaars van ’n ametismyn. Maar hulle hele lewe verander toe hulle Suid-Afrikaanse ministers betrap toe hulle wild steel in ’n wildbewaringsgebied. Hulle word gedwing om ’n nuwe heenkome in Suid-Afrika te gaan soek.

In Suid-Afrika spekuleer hulle met eiendom en raak weer deurmekaar met die mynbou. “Swart ekonomiese bemagtigings stel nuwe uitdagings,” skryf Riette Rust. “John sien die geleentheid vir suksesvolle entrepreneurskap raak. Herklaas, wie se naam verwys na die mitiese halfgod Herakles, pak uitdagings een vir een aan, maar loop hom vas in onverwagte gevare. Hy verteenwoordig die post-kolonis in Afrika, vasgevang in sy vreemdelingskap – in sy geval sy verlange na sy plaaswortels. Gelukkig red sy verhouding met die aantreklike Kartia hom van algehele moedeloosheid.”

Haasbroek se beroep as ekonoom maak hom uiters bevoeg om kundig te skryf oor frontmaatskappye, oornames, bemagtigingsaksies en ‘oorlog’ in die raadsaal: “Heelwat in die verhaal is waar,” sê hy aan Rust, “die res het ek my verbeel. Ek het gesien hoe mense hul daaglikse brood verdien en hul lot probeer verbeter. Omdat hulle dikwels nie verstaan wat om hulle gebeur nie, neem hulle besluite wat hulle skade berokken.”

Hy beskryf Die ander vennoot as ’n “verhaal van oorlewing en ondergang in ’n land wat deur misdadige geweld geteister word”.

Vir Willem de Vries (Beeld, 6 Julie 2009) is Die ander vennoot ’n verhaal met baie oorgange. Pieter Haasbroek verduidelik verder wat hy beoog het met die verhaal: “Ek het ’n klein geskiedenis probeer uitbeeld, die geskiedenis van twee sakevennote uit die ou Suidwes-Afrika. Hul ondernemings verander van aard en word al hoe groter, ingewikkelder en, gelukkig vir hulle, ook ryker. Dit laat hulle in ’n omgewing beland wat al hoe moeiliker eise aan hulle stel: nie net ekonomies nie, maar ook maatskaplik en polities.

“Die laaste 20 jaar van die vennootskap se lewe val in die dramatiese oorgangsjare van Namibië en Suid-Afrika, ja, maar wys terug op die ganse geskiedenis van die Afrikaners in Suider-Afrika. So weerspieël die vennote se verhuising na die stad byvoorbeeld die verstedeliking van die Afrikaners, en die sprong van boerdery en mynbou na eiendomsontwikkeling en ander ondernemings in die stad verg net sulke moeilike aanpassings van die twee as wat ons volkie eens in die gesig gestaar het.

“Hulle raak ook in al die oorgange vasgevang. Selfs globalisering. Van hul relatief vrye klein ondernemings in die platteland beweeg die vennote na ’n stadsgesentreerde wêreld van groot ondernemings wat toenemend aan staatsinmenging blootgestel is.”

Oor die feit dat daar gedurende die tyd wat Die ander vennoot gepubliseer is, ook ander romans met die Suid-Afrikaanse sakewêreld as tema verskyn het, laat Pieter hom as volg teenoor De Vries uit: “Dit lyk of ons nou meteens ’n baie interessante en relevante nuwe wêrelddeel ontdek het om oor te skryf. Lesers kan met reg vra hoekom nie lank gelede al nie? Miskien omdat ons skrywers begin besef het dat dit die deel van ons moderne lewe is waarom alles toenemend draai, die ekonomiese dinamo van ons hedendaagse geskiedenis.

“In hierdie wêreld werk dryfvere wat net so oorweldigend sterk is as die seksdrang, magshonger, patriotisme, broederliefde of religieuse passie. (…)

“Dit is regtig nodig dat die sakewêreld verbeeldend aan almal verduidelik word; dat dit as’t ware oopgeskryf word. In fiksie kan ons die uitwerking van die sterk ekonomiese kragte op ons daaglikse lewe meer aangrypend illustreer as in ekonomiese handboeke.”

In Volksblad (22 Junie 2009) skryf Nelia Grobbelaar dat ’n mens nie kan help om van Herklaas Pretorius te hou nie: “Hy is die stil, sterk soort wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Daarom dan dat die laaste bladsy van Die ander vennoot my redelik onvergenoeg laat voel het. Maar dit daar gelaat.

“Haasbroek se jongste boek is die een intrige op die ander. En vir die oningewyde in die sakewêreld is dit ’n hele nuwe manier van dink oor geldmaak en hoe ’n entrepreneur se kop werk. (…)

“Die plesier van die boek het vir my gelê in Haasbroek se gawe om landskappe en beelde vir die leser vas te lê en as’t ware daarin te plaas. Van die dorheid van Namibië tot die ruigtes van die Laeveld. As ek die boek weer moet lees, sal dit daarvoor wees.

“Haasbroek het al gesê hy pas nie in die literêre wêreld in nie. Wel, hy hoef nie. Hy kan maar net agter sy rekenaar inskuif en skryf.

“Ek het weer die laaste twee bladsye van Die ander vennoot gaan lees. En nog ’n keer. En toe voel ek ’n bietjie meer tevrede.”

In Tydskrif vir Letterkunde (2010) skryf Salomi Louw: “Die roman bied ’n insiggewende, alhoewel reeds bekende, siening van politieke betrokkenheid in die sakewêreld, die onmag waarteen eerlike sakemanne te staan kom wanneer hulle gewoon hul werk wil doen, en die belaglike omvang van Swart bemagtiging binne die omvang van werk wat wel gedoen word en transaksies wat beklink word binne die BEE-voorskrifte.

“Geskryf met insig in die politieke en teenswoordige ekonomiese klimaat in Suider-Afrika, gaan hierdie roman egter mank aan karakterisering, inlewing en oortuiging. Geen van die karakters word ‘mens’ nie en ’n leser verwonder hom/haar aan die flinke manier waarop ’n karakter – tekenend hier die hoofkarakter of ‘ander’ vennoot, Herklaas Pretorius – van standpunt/karakteristieke eienskap/waardes kan verander. Dit kom net nie as geloofwaardig oor nie. Dit is asof alles opsommend weergegee word; om die leser in te lig oor die ingryping van politieke bestelle in die ekonomie; van probleme en oneerlike optrede binne ekonomiese samewerking; selfs die politici en weermag se wildstroping kom oor as ’n tweedehandse weergawe. (…)

“Haasbroek maak gebruik, soos in vorige skrywes en veral tekenend in ‘Bruin hings’ (Roofvis, 1975) aan tydversponsing: teenwoordige, verlede, toekomende en nultyd spring deurmekaar en word lukraak aangewend sodat die leser nie altyd die kloutjie by die oor kan bring nie. Wel ook: die leser moet betrokke raak en help meeskryf aan die gebeure; maar dit kom voor asof té lukraak of gedwonge en op die duur onbevredigend. Die ekonomiese en politieke insigte is reeds algemeen bekend vir die ingeligte leser; die politieke krampsinnigheid (Namibië sowel as Suid-Afrika) uit ‘de oude doos’ – en voos; seks omslagtig beskrywe, maar nie opwindend of prikkelend nie; en bowenal bly die personasies slegs dit: nie karakters met wie ’n mens jou kan vereenselwig of wie jy empatie kan voel nie.”

In 2010, 28 jaar ná die publikasie van Verby die vlakte in 1982, word PJ Haasbroek se volgende bundel kortverhale gepubliseer onder die titel Kruispunt.

In Volksblad van 22 Mei 2010 skryf Stoffel Cilliers dat Haasbroek in die veertien verhale wat in Kruispunt voorkom, ’n ander rigting inslaan: “Steeds bedrewe as kortverhaalskrywer, ontgin hy nou met veel meer empatie die broosheid van die moderne man te midde van geweld. Dit doen hy veral deur subtiele karakterbeelding en sensitiwiteit van styl. Slegs een van die 14 verhale speel tydens die oorlog af. Vyf ander belig die letsels van die oorlog.

“Haasbroek se verhale voldoen aan die tradisionele vereistes van die kortverhaal, is toeganklik en boeiend. Meestal is daar ’n ek-verteller. Die skrywer gebruik dikwels enkelvoudige sinne, wat hy dramaties inspan wanneer nodig. Opvallend is egter die besonder knap natuurbeskrywings wat telkens inherent deel van die verhaalgegewe is. (…)

“Dit is verfrissend dat Haasbroek in sy bundel die kruispunt van sy kortverhaal-visier op die weerloosheid eerder as die onverskrokkenheid van moderne mans rig. Dit bring ’n nuwe, werklik bevredigende dimensie in die mondering van hierdie veelsydige skrywer na vore.”

Pieter-Louis Myburgh is die resensent van Kruispunt in Rapport van 23 Mei 2010: “Haasbroek stel in Kruispunt byna ongenaakbaar die leser bloot aan die skadukant van die menslike psige. Die verwoesting wat oorloë meebring, asook die beweegredes wat mense dryf om mekaar uit te roei, word in van die bundel se 14 verhale aangeroer.

“Daar is ook stories wat die kompleksiteite en paradokse vaspen wat dikwels tydens en ná konfliksituasies voorkom. In die openingsverhaal ‘Ahmo se perd’ prober ’n seun in die na-oorlogse Bosnië ’n perd se lewe red, maar ontdek in die proses ’n gesneuwelde soldaat se lyk in ’n woud. Só word rou en verlies teenoor ’n betrokke generasie se hoop en optimisme gestel.

Kruispunt is allermins ligte leesstof, maar eerder ’n diepsinnige selfondersoek na die mens se mees brutale handelinge.”

Een van die voorste kortverhaalskrywers in Afrikaans, Chris Barnard, was die resensent van Kruispunt in Die Burger (21 Mei 2010). Vir hom vertel die titel van die bundel, Kruispunt, waaroor dit in dié verhale gaan – “daardie dun kruis in die visier van ’n geweer wat op die prooi gerig word. En dit kry ons weer hier, letterlik en figuurlik. Die jag, in sy vele gedaantes, op mens en dier.

“Dit is nie voorkamerstories nie. Dit word nooit deur hom versag nie. Dit probeer nooit slim wees nie. Dit ruik na sweet en is brutaal. (…)

“Soos ’n mens reeds van Haasbroek leer verwag het, is die stories knap en sonder onnodige omhaal vertel. Maar anders as in sy vorige versamelings kortverhale kry ons hier selde die geladenheid en diepgang van sy beste werk. Dit is duidelik vir ’n ander soort leser as voorheen bedoel. Daarteen durf niemand beswaar te maak nie.

“’n Kortverhaal se kinkel is soms ’n sleutel, of dit is ’n kinkel of ’n knal. En af en toe ’n doelbewuste keerweer. Wat ons hier kry, is byna elke keer ’n slot wat so oop is dat jy enigiets daarvan kan maak. So heeltemal oop dat dit op die oog af in die niet vervloei. En dit gaan menige leser verwar en frustreer. Of weer laat lees.

“Die flapteks beweer hierdie versameling is ‘’n belangrike en welkome toevoeging tot die oeuvre van ’n bekroonde en deurwinterde kortverhaalskrywer’. Hoe belangrik dit is, sal die tyd moet leer. Maar só ’n stelling plaas ’n las op die bundel waarvoor die skrywer waarskynlik nooit gevra het nie.”

In Boekewêreld van November 2001 gesels Pieter Haasbroek en Piet Muller, ’n toekomskundige, met Framcois Smith, die onderhoudvoerder, oor hulle perspektiewe op daardie stadium van die toekoms. Smith het gemeen dat albei die Piete ’n bemoeienis met die verlede het, wat vir Smith interessant was aangesien hulle beide eintlik toekomsgerig is.

PJ Haasbroek se antwoord was as volg: “In elke storie wat ek geskryf het, was, onvermydelik, ’n historiese dimensie; al was dit net in die vorm van die verloop van die verhaaltyd. Soms is die verlede egter belangriker; dit koppel mense aan gebeurtenisse op plekke wat verband hou met wat ervaar word. Ek kan nie dink hoe kuns suiwer skepping los van die konstellasie verlede-hede-toekoms kan wees nie.”

In veral sy roman Lem is om betrokke te wees ’n belangrike kwessie: of iemand, soos die hoofkarakter, self kan besluit of hy betrokke in ’n spesifieke situasie wil wees. Maar hieroor twyfel Pieter Haasbroek (Beeld, 3 Julie 1993) beslis nie: “Ek sê jy kan nie onbetrokke wees nie. Jy word deur jou omstandighede gedwing om betrokke te wees by die werklikheid waarin jy jou bevind. Jy is by die situasie in Suid-Afrika (in 1993) betrokke net omdat jy ’n mens in hierdie land. Niemand kan onbetrokke van Afrika wees nie – hy kleur jou, hy geur jou.”

Publikasies:

Publikasie

Heupvuur

Publikasiedatum

1974

ISBN

0798164694 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1975

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Roofvis

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798105399 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Skrikbewind

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798107081 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Op soek na die Johanna

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1979 (skooluitgawe)

ISBN

  • 0798603720 (hb)
  • 0798604492 (sb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die duiwel is los: die ontstaan en aard van die moderne satanisme

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798604077 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die pad na Maputzi

Publikasiedatum

1980

ISBN

0798606916 (hb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Verby die vlakte

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113545 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die jaar nul

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1987

ISBN

0798622555 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Voornagvlug: ’n keur uit die verhale van PJ Haasbroek. Met ’n inleiding deur Abraham H de Vries

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798124555 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lem

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798130954 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oemkontoe van die nasie

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919825460 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ander vennoot

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150415 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Afrikanerbond se “300 jaar Africander”-prys in die afdeling vir gevestigde skrywers 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruispunt

Publikasiedatum

2010

ISBN

97807981

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor PJ Haasbroek op die internet 

Artikels deur PJ Haasbroek op die internet

PJ Haasbroek se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-03-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top