Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?
By die lees van ander kortverhale het ek vermoed ek kan dit ook skryf. Van my ervarings het ‘n goeie vertrekpunt daarvoor gebied. My eerste kortverhaal was ‘n jagverhaal, “Sy bok,” wat in Standpunte gepubliseer is.
Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?
Afrikaanse kortverhale word deesdae bra swak ontvang deur uitgewers, boekhandelaars en die publiek – behalwe as dit in die populêre smaak val.
Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?
Na keuring verloop publikasie nou baie vinniger.
Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?
In die kortverhaal sny jy weg om die verhaal se “waarheid” te ontbloot. In ander skryfvorme bou jy laag na laag op om die “waarheid” van alle kante te belig.
Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?
Jy moet weet waarvan jy praat. As jy nie weet nie, gaan jou leser jou uitvang.
Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?
Abraham H de Vries, Jan Wolkers, Van Melle.
Wat is volgens jou die beste kortverhaal?
Die gelykenis van die verlore seun.
Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?
Ek het opgehou skryf. Daarom moet al my antwoorde met agterdog bejeën word.
Klik hier vir PJ Haasbroek se profiel in die ATKV-Skrywersalbum.
Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013.
Klik hier vir die kortlys.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter



