Kruispunt sal jagtersinstink by die geoefende leser prikkel

  • 0

Kruispunt
PJ Haasbroek
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:9780798151719
Prys: R144.50
 

 

 

PJ Haasbroek het bekendheid verwerf met vier kortverhaalbundels: Heupvuur (1974), Roofvis (1975), Skrikbewind (1976) en Verby die vlakte (1982), waarna vier romans gevolg het, onder andere Die ander vennoot in 2009 en ’n keur van sy kortverhale, Voornagvlug (1988).

Kruispunt as kortverhaalbundel volg dus na ’n baie lang onderbreking in dié genre, alhoewel van die verhale wat daarin opgeneem is, reeds vanaf die negentigerjare gepubliseer is. Die vraag is in hoe ’n mate hierdie kortverhale ’n voortsetting is van die Haasbroek-oeuvre en selfs ’n verbreding daarvan is.

Die temas van die manlike jagter, die seksbehepte adolessent, die inisiasieproses van jong soldate en jagters, die wrede wêreld van oorlogvoering en die weerloosheid van die mens in hierdie situasies, maar ook die universele aard daarvan, is niks nuuts by Haasbroek nie. Dit is trouens die kenmerkende temas van sommige van sy beste verhale, wat reeds klassieke status in Afrikaans verwerf het, soos byvoorbeeld “Aardrykskundeles”.

In Kruispunt is daar weer jagverhale, oorlogsverhale, inisiasie, adolessente liefde, verraad en jaloesie, asook die onverklaarbare wêreld waarin droom en realiteit haas onskeibaar word. Die karakters beweeg telkens op die kruispunt tussen oorlog en vrede, liefde en verwerping, die traumatiese verlede en die hede, illusie en ontgogeling. Haasbroek beweeg wel verder as die Suider-Afrikaanse milieu met die bloedige burgerstryd in Bosnië, Rwanda en Bagdad as agtergrond in van sy verhale, alhoewel die aard van die karakters se ervaring daarin universele temas aanraak: hoe om van ’n oorlog weg te ry, hoe radikaal perspektiewe oor ’n burgeroorlog kan verskil, hoe dun die lyn op die front is tussen geweldenaar en slagoffer. Die opening- en slotverhaal handel albei oor Bosnië.

In sekere verhale is die spanningslyn net nie sterk genoeg vir die gedronge aard van die kortverhaal nie. In die eerste verhaal, “Ahmo se perd”, is daar genoeg gegewe vir ’n ontploffende onthulling of gebeure, maar dit word nie ver genoeg ontgin nie. Ook “Tilapie” en “Die vrede versteur” voldoen nie aan die verwagtinge nie. Dit is egter die slotsinne van beide “Ahmo se perd” en “Die vrede versteur” wat beide die verhale red. Trouens, dit is een van die sterk eienskappe van hierdie bundel: die treffende slotsinne of slotgebeure wat die leser dwing om weer te lees; veelduidige en oop eindes wat verdere besinning vereis en die struktuur van die spesifieke kortverhaal versterk. Vergelyk byvoorbeeld die slotsinne van “Die kap van die byl”: “‘Verwoerd is toe nooit dood nie,’ sê sersant Johnnie. ‘Ons herinneringe is saam met hom begrawe in die staalkis van ’n Casspir’” (p 47). En van “Die waarheid oor vleis”: “Die rivier het hulle verenig. Anders as by ons” (p 192).

Die sterkste verhale is, miskien nie onverwags nie, die jagverhale “Bruikbare talente” en “Saam”, asook die oorlogsverhale wat in Afrika afspeel: “Eerstehandse inligting”, “Oorlogverhaal” en “Die Maraboes”. Dit is die besonder gedetailleerde en oortuigende beskrywing van ruimte, die werklikheidsgetroue karakters en die paradoksale van die intriges wat opval in die jagverhale: dat die vrou uiteindelik met die “trofeë” wegstap tussen die manne as die sterkste jagter; dat die pa en nie die seun nie ’n inisiasie van trauma moet deurleef. Laasgenoemde verhaal is ook ’n sterk herskryf van “Sy bok”, die bekende veel gebloemleeste verhaal.

Die nimmereindigende verwyte en selfberou ná ’n oorlog word treffend beskryf in die herhalende trauma van ’n grensoorlogervaring gekontrasteer met die geweld van die uitwissing van Dresden tydens die Tweede Wêreldoorlog in “Eerstehandse inligting”. Ook “Oorlogverhaal” sinspeel op die onderdrukking van ’n oorlogskuld wat die heldhaftigheid van die Boereoorlog-helde relativeer.

Haasbroek wys weer sy slag met die skep van spanning in ’n kort kortverhaal soos “Ontmoeting in Bagdad”, en in “Die Maraboes” word die verwagtinge wat aan die begin van die verhaal geskep word, dramaties omgekeer met die implikasie van ’n bloedige einde wat eintlik reeds slim voorberei is. Ook die tweede laaste verhaal, “Langs die Suiderkruis se onderpunt”, werk met hierdie vooruitwysings na die slot en skep ’n oortuigende wellustige en verraderlike intrige.

Nie Haasbroek se beste bundel nie, maar genoeg goeie verhale om sy vernuf as kortverhaalskrywer na ’n lang stilte steeds te bevestig. Dit is veral die huiwering na die lees van die slot of spesifieke slotsinne van verskeie van hierdie verhale en die vermoede dat daar meer daarin skuil as wat op die oog af blyk, wat die jagtersinstink by die geoefende leser sal prikkel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top