Pieter Wagener was ’n renaissance-persoon

  • 2

Pieter Wagener (foto: Jason Lloyd)

Dit sou beter wees as om oor ’n waardige mens en (Afrikaanse) skrywer soos Pieter Wagener (1940–2021) te skryf as om oor die algemene (ekonomiese en grondwetlike) verval van Suid-Afrika te skryf.

Wagener is onlangs, kort voor sy 81ste verjaarsdag, wat op 5 Julie sou gewees het, in sy geboortedorp Fort Beaufort in die Oos-Kaap dood.

Ek was bevoorreg om hom iewers in 2009 te ontmoet. Ek het gereeld by hom koffie gedrink as ek in die omgewing van Fort Beaufort was. Wie hom aan my voorgestel het of wie my van hom vertel het, kan ek nie meer onthou nie.

Dit kon seker Helize van Vuuren gewees het, nou afgetrede professor in Afrikaanse letterkunde aan Nelson Mandela-universiteit (NMU). Na die bekendmaking van sy dood het sy my vertel hulle het mekaar in 1975 – nog voordat ek gebore is – in Alice ontmoet toe beide van hulle jong dosente aan Fort Hare-universiteit was.

“’n Musikale wiskundige en ’n aanhanger van vreemde idees,” is hoe sy na hom verwys.

Pieter Wagener (foto: Jason Lloyd)

Wagener was ’n superintelligente mens – en ek hou van slim mense.  ’n Renaissance-persoon, wat met sy kop, mond, hande en voete amper alles kan doen. Soos William Shakespeare in ’n ander konteks opgemerk het: “He is a man of all seasons.”  (Wikipedia: A Man for All Seasons is a play by Robert Bolt based on the life of Sir Thomas More.)

In ’n onderhoud wat ek met hom gevoer het, het ek hom vergelyk met die karakter Smerki in John Miles se roman Buiteveld (2003). Smerki het gesê: “’n Mens voltooi nie ’n lewe nie, jy kry nie daarmee klaar nie.”

In 2008 het Wagener ’n tweede doktorsgraad (LLD) in die regte aan NMU verwerf. Sy eerste doktorsgraad (PhD) in teoretiese fisika het hy in 1987 aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf na voltooiing van sy navorsing aan die Universiteit van Londen. In 2008 is hy aangestel as navorsingsgenoot in die Fisika-departement by NMU en ook as navorsingsgenoot in die Fakulteit Regte.

Van 1970 tot 1972 het hy aan die City University of New York fisika gestudeer en klas gegee. Hy het in 1999 as professor in toegepaste wiskunde aan Fort Hare uitgetree.

Hy was ’n arbeidskonsultant, fisikus, wiskundige, musikant, boekbinder en mesmaker. Op universiteit het hy onder meer fisiese chemie, toegepaste wiskunde, fisika, rekenaarwetenskap en musiek gedoseer.

Wagener het gesê sy nuuskierigheid het begin toe hy nog ‘n kind was. “Nuuskierigheid prikkel ’n mens. As ek ’n klip opgetel het en die klip lyk nie soos ’n gewone klip nie, dan het ek dit huis toe geneem. Ek het gewonder hoekom groei plante. Hoekom is diere anders? Ag, al hierdie tipe dinge …”

Sy nuuskierigheid het hom ook aangelok tot die regte, “want daar was ’n braakveld wat net gewag het om ontgin te word. Die braakveld van globalisering.” Sy navorsing vir sy LLD het gefokus op die invloed van globalisering in die SAOG-lande. Dit het veral gegaan oor die invloed van multinasionale maatskappye se direkte beleggings in die ontwikkelende wêreld, in besonder in Afrika-lande.

Pieter Wagener (foto: Jason Lloyd)

Twee Afrikaanse kortverhaalbundels, Boereboeddhiste (1997) en Mantrakolie (2007), het uit sy pen verskyn en het goeie resensies gekry. Sy verhale het ook in Tydskrif vir Letterkunde en in verskeie bloemlesings verskyn.

Sy lewensuitkyk beskryf hy in ’n essay in die bundel Sewe sondes, nee meer ... wat deur Hennie Aucamp saamgestel is. Daarvolgens is hy ’n mistieke wetenskaplike wat wiskunde as ’n heilige taal gebruik. Daardeur ontluik ’n begrip van die skepping. Die wetenskaplike Eugene Wigner, wat die Nobelprys vir fisika gewen het, beskryf sy verwondering hieroor in The unreasonable effectiveness of mathematics in the natural sciences. 

Ook vir Wagener se lieflingwetenskaplike, Isaac Newton, was die wetenskap die grootste drif wat hom geïnspireer het. Hy het in terme van wiskunde na die geheime van die natuur gesoek. Hy het God se werke in die natuur gesien. Die natuur was vir Newton – soos ook vir Wagener – die manifestasie van alles.

Met sy dood het hy nog aan vele projekte – soos wiskundige handleidings vir skole – gewerk.

Mag die aarde saggies op Pieter Cornelius Wagener rus.

Lees ook:

Pieter Wagener is oorlede

 

 

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Helize van Vuuren

    Beste Jason

    Ek onthou Pieter Wagener veral as dirigent van die Alice-blaasorkes uit 1975-76 waarin ek gespeel het, onder andere saam met die Suid-Afrikaans gebore digter Basil du Toit.

    Daar was net drie goed wat mens kon doen in Alice na-ure, is my gesê voor ek daar aangekom het: tennis speel, of in die blaasorkes speel. Ek het toe ’n tweedehandse klarinet in die Kaap gekoop en begin oefen...In Pieter se orkes was onder andere ek (derde klarinet) en Basil du Toit (eerste of tweede fluit, destyds filosofiedosent by Fort Hare, in 1982 in Edinburgh gaan doktorsgraad doen in filosofie, en later daarvandaan af geëmmigreer en Skot geword - hy is ’n Suid-Afrikaanse Engelse digter, wat steeds publiseer, en goeie goed, ook my ouderdom. Dit was albei van ons se eerste jobs). Wagenaar het dié orkes oorgeneem by ’n ouer dosent daar by die universiteit van vroeër jare, met die pikante van van "Honey". Voor ons tyd het die orkes geheet, "Dr Honey’s windband". Onder dirigentskap van Wagener het ons in die distrik rond opgetree by "grand occassions", soos Rotary-aande of Round table-okkasies. Basil was baie goed, ek minder goed, maar ons het almal, seker ’n stuk of 25-30 musikante, met blaasinstrumente (trompette, fluite, klarinette, driehoekies en wat nog) na hartelus geblaas, gekleed in swart - ek onthou my swart fluweelbaadjie ('n “smoking”) en lang fluweelskirt tot op die grond. "Very grand". Soos iets uit ou tye. Pieter was altyd baie entoesiasties oor sy orkes - vals note of te not, en het glimlaggend gewieg en gedirigeer, soos hy glimlag op jou mooiste foto.

    Maar na my beste wete het hy nooit musiek gegee nie. Dit was ’n sydelingse bykomende liefde.

    Mag hy sag slaap op die óú musiek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top