
Protea Boekhuis skryf op hulle Facebook-blad:
Protea Boekhuis het met leedwese verneem dat een van ons skrywers, Pieter Wagener, Sondag oorlede is. Hy sou op 5 Julie 81 geword het. Sy kortverhaalbundel Mantrakolie het in 2007 by Protea verskyn.
Wagener, ’n boorling van Fort Beaufort, is ’n voormalige hoof van die Departement Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van Fort Hare. Sy kwalifikasies sluit in ’n B.A. (Afrikaans, Wysbegeerte), nagraadse diplomas in rekenaarwetenskap en arbeidsreg, magistergrade in chemie, wiskunde, fisika en arbeidsreg, ’n Ph.D. in toegepaste wiskunde en 'n LL.D.-tesis oor die invloed van globalisering op mense- en arbeidsregte in die SAOG.
Hy is die skrywer van etlike kortverhale. Hy was later in sy lewe ’n navorsingsmedewerker in die Eenheid vir Arbeids- en Sosiale Sekerheidsreg in die regsfakulteit van die NMU, Port Elizabeth. Sy akademiese navorsing was gesentreer in die ontwikkeling van ’n swaartekragteorie, asook die ontwikkeling van internasionale, arbeidsgerigte wetgewing.
Hy het ook gewerk aan ’n geskiedskrywing van die ontwikkeling van fisika in Suid-Afrika, biografieë van SA kunstenaars, wiskundige handleidings vir skole, die vestiging van ’n Afrikaanse kultuursentrum op die Oos-Kaapse platteland en die versameling van geskiedkundige materiaal oor die Oos-Kaap.
(Bykomende inligting: Tydskrif vir Geesteswetenskappe)


Kommentaar
Mag hy in vrede rus en in glorie ontwaak!