Persverklaring: Pieter Madibuseng Odendaal – Ontaard, die album | Musiekvideo- en albumvrystelling op 5 Mei 2025

  • 0

Ontaard is Odendaal se debuut spoken word album, gebaseer op sy beprese digbundel met dieselfde titel (gepubliseer deur Tafelberg). Die album ondersoek temas van identiteit, klimaatsangs, ons verhoudings met mekaar en die meer-as-menslike wêreld. Die woorde was telkens die impuls vir die musiek, sodat elke snit ’n refleksie van die vibe van die spesifieke gedig is. Die genre-invloede is daarom divers – van jazz tot klassiek, inheemse musiek tot dubstep, amapiano tot rock. Alhoewel Odendaal die meeste van die musiek self gekomponeer het, en ook die klavier op die album speel, het verskeie kunstenaars meegewerk om die klanklandskap op Ontaard te skep.

Odwa Bongo en Pieter Madibuseng Odendaal (foto: Liese Kuhn)

Odwa Bongo het ’n sleutelrol gespeel met sy stem, uhadi en komposisie-vernuf op snitte soos “Tweeling”, “Teen Pieter Odendaal”, “The greatest hunt in history”, “Bergvergadering” en “Ode to air”. Ander musikante wat bygedra het tot die album, sluit in Luke Verrezen (kontrabas – “Bergvergadering” en “Ode to air”), DJ Taxman (vervaardiger – “The greatest hunt in history”, Jan-Meyer Verhoef (vervaardiger – “Freelance muse”) en Vinnie Henrico en Mariechen Meyer (perkussie en kontrabas - “Teen Pieter Odendaal”).

Danksy die fyn oor en lang nagte by Sonic Nursery Sound Studios in Kaapstad (medevervaardigers, opnames, finale meng en meester), vorm die album ’n geïntegreerde musikale geheel ten spyte van die eklektiese invloede. “Ontaard” verteenwoordig ’n vernuwing in die Afrikaanse musieklandskap deur die integrasie van spoken word en verskeie musiekgenres en bevestig Odendaal se talent as digter, musikant en uitvoerende kunstenaar.

Jy kan Ontaard hier op bandcamp.com aankoop (die kunstenaar ontvang al die opbrengste), en die album is ook beskikbaar op verskeie stromingsplatforms.

Die “Ode to Air”-musiekvideo word op dieselfde datum as die album vrygestel (5 Mei 2025). Die video is vervaardig in samewerking met Frikken Films en Liese Kuhn het die regie behartig.

Geskryf, vervaardig en voorgedra deur: Pieter Madibuseng Odendaal
Klavier: Pieter Madibuseng Odendaal
Stem en uhadi: Odwa Bongo
Mede-vervaardiger: Sonic Nursery Sound Studios, Kaapstad
Finale meng en meester: Dolf Lombard, Sonic Nursery Sound Studios, Kaapstad
Opname: Ruan Vos en Dolf Lombard, Sonic Nursery Sound Studios, Kaapstad
Kreatiewe konsultant: Jorge Alejandro Ccoyllurpuma
Omslagkunswerk: Slovo Mamphaga

Pieter Madibuseng Odendaal is ’n digter, dramaturg, vertaler en musikant. Sy debuutbundel, asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg), is met die 2019 Ingrid Jonker-prys bekroon. In 2024 het Odendaal se tweede bundel, Ontaard, die Eugène Maraisprys en die NIHSS Toekenning vir Poësie gewen, en sy toneelstuk Droomwerk is in dieselfde jaar vir die Hertzogprys vir Drama genomineer. Odendaal is ook in 2024 as een van die Mail & Guardian se 200 Young South Africans aangewys.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top