Peter Pan en Laurie deur Marié Heese: ’n lesersindruk

  • 0

Peter Pan en Laurie
Skrywer: Marié Heese
Illustreerder: Marjorie van Heerden
Protea Boekhuis

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hierdie is beslis een van die lekkerste boeke wat ek hierdie winter gelees het! Marié Heese is ’n veelsydige skrywer van literatuur vir kinders én volwassenes. Dié kinderboek is die nuutste uit haar pen, tesame met Marjorie van Heerden as illustreerder, en stel definitief nie teleur nie.

Heese slaag daarin om ’n uitstekende opvolg-avontuur te skep wat genoegsaam terugkyk na die oorspronklike teks, maar ook nuwe uitdagings en avonture optower wat die leser nuuskierig maak om verder te lees. Hierdie leser is dit eens dat Heese haarself oortref met hierdie verhaal. Sy volg steeds die tradisionele resep as dit kom by 'n Peter Pan-verhaal. Die avonture en die wegvoer van die meisie by die venster van nommer 14, waar daar altyd ’n naglig brand; Laurie in hierdie geval en voor haar Margaret, Jane en natuurlik die oorspronklike Wendy. Die bekende roete na Nimmerland, of beter bekend in die Engelse-mond as “Neverland,” soos aangekondig deur Peter: “Second to the right … and then straight on till morning” (Barrie, 1911:16), word klokhelder weergalm deur Heese se rigtingaanwysing: “Uit by die venster, dan tweede regs, en reguit aan tot die oggend” (Heese, 2019:25). Hier weet ons as meer volwasse lesers dat ’n veerbeeldingsvlug op ons wag – ’n denkbeeldige adres, of is dit?

Peter Pan en Laurie (2019) is 'n vervolg op die Engelstalige, Peter and Wendy (1911) deur die Skotse skrywer, James Matthew Barrie, beter bekend as JM Barrie. Heese bou voort op ’n bestaande verhaal, wat soms ’n riskante besigheid kan wees. Veral wanneer ’n klasieke teks soos Barrie s’n ter sprake is. Daar is reeds soveel verwerkings, televisiefilms en moderne verwerkings van Peter Pan en selfs ’n rolprent oor die booswig Hook. Pan (2015) verskaf die voorafgaande verhaal oor waar Peter Pan vandaan gekom het en hoe hy eers vriende met James Hook was en dat Hook nie altyd so wreed was as wat ons hom tradisioneel ken nie. Daar is ook ’n hele seisoen van Once Upon A Time, ’n Amerikaanse TV-reeks (2011-2017), waar ’n alternatiewe weergawe van Peter Pan se verhaal ontgin word.

Die figuur en karakter van Peter Pan het eintlik ’n baie interessante herkoms. Heese verwys ook in verskeie dele van hierdie opvolgverhaal na feite oor Peter wat in die oorspronklike tekste van JM Barrie gebruik is.

Peter Pan was oorspronklik net 'n enkele karakter in 'n boek genaamd The Little White Bird (1902); later het J M Barrie se redakteur die hoofstukke waarin Pan verskyn het (hoofstuk 13–18) in 'n aparte uittreksel gepubliseer as Peter Pan in Kensington Gardens (1906). Barrie het hierdie hoofstukke verwerk as 'n verhoogstuk, Peter Pan, or the Boy who wouldn't grow up (1904), wat op 24 Desember daardie jaar in Londen gedebuteer het. Later is die verhoogstuk aangepas, uitgebrei en gepubliseer as Peter and Wendy (1911).

Met al hierdie verskillende verwerkings van ’n karakter wat met elke weergawe gegroei het tot sy eie mite, is dit amper vanselfsprekend dat daar ook stories of mites rondom die skep van ’n verhaal of karakter sal ontstaan. Soms net bespiegeling, maar daar is meermale ’n greintjie waarheid te bespeur.

Die eerste bewering is dat JM Barrie die karakter gebaseer het op sy ouer broer, David, wat kort voor sy 14de verjaarsdag in 'n ysskaatsongeluk oorlede is. David het nooit ouer geword in Barrie se geheue nie, en kan moontlik ’n poging wees om die verlies van sy broer, met wie hy ’n noue verhouding gehad het, te verwerk (Tavasolian, 2016).  

Barrie het voor sy afsterwe in 1937 ál sy Peter Pan-boeke geskenk aan die Great Ormond Straat Hospitaal in London, ’n gerekende pediatriese hospitaal in Engeland.

Daar is natuurlik ook die meer waarskynlike bewering dat Barrie die hele konsep van Peter Pan ontwikkel het rondom sy ervarings met die Llewelyn Davies-familie. Dit is ook waarskynlik dat hy sommige idees vir die avonture in sy verhale uit hierdie ervarings geput het (Tavasolian, 2016). Hierdie aspek van Barrie se lewe word ontgin in die rolprent Finding Neverland (2004) met Johnny Dep in die rol van James Barrie.

Die figuur van Peter Pan, en die verskillende mites wat rondom die oorspronklike Barrie-tekste ontstaan het, het tot verskeie film-weergawes gelei, waaronder die nuutste Pan (2015). Peter is in hierdie verhaal die eerste ware verlore seun – vandaar die naam van sy seunsbende in Nimmerland (die “verlore seuns”). Hy is een van ’n klomp seuns in ’n kinderhuis gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hy en nóg van sy kamermaats word ontvoer deur seerowers van Nimmerland, en hy vind uit dat hy die verlore seun is van die Feëprins van Nimmerland. Sy ma was die wrede seerower Swartbaard se beminde, maar sy en die Feëprins was op mekaar verlief. Die Feëprins het sy lewe opgeoffer om haar uit Swartbaard se kloue te red. Maria het Peter na ons wêreld sonder towerkragte gestuur om hom teen Swartbaard te beskerm. Hy is dus half-feetjie en half-mens en kan waarlik vlieg sonder die hulp van feetjie-stof. Die film onthul ook waar die booswig Hook vandaan kom en hoe dinge inmekaar steek in die oorspronklike Peter and Wendy (1911) verhaal.

In 2003 is die eerste goedgekeurde lewendige weergawe van Peter Pan vervaardig, sonder enige animasie. Hook verskyn in 1991, met Robin Williams as ’n volwasse Peter Banning. Dié verhaal funksioneer as 'n ander soort opvolg tot Peter & Wendy (1911). Peter is met Wendy se kleindogter getroud en is in ons wêreld ’n korporatiewe prokureur en het heeltemal van sy kinderdae vergeet. Hy keer terug na Nimmerland as 'n volwassene om sy eie twee kinders te red uit die kloue van Kaptein Hook.

Oorspronklik is Peter Pan (1953) deur Disney as deel van die klassieke stories, feëverhale en sprokies vir jong kykers vervaardig. Dit is ietwat aangepas vanuit die oorspronklike Peter and Wendy (1911) asook uit die verhoogweergawe. Vele generasies kinders het grootgeword met hierdie weergawe van Peter Pan, veral omdat Disney-boekies, -plakkerboeke en -inkleurboeke in die 1990’s uitgereik het om die films te bemark vir die video-weergawe.  

Peter Pan is ’n figuur wat menige kind reeds bekoor het, as ’n karakter in ’n boek oor avonture, in films en op die verhoog in ’n onbepaalbare hoeveelheid skoolproduksies. Wat Peter ’n interessante karakter maak, vanuit ’n literêre oogpunt, is dat hy verskeie sleutels tot die onbewuste in sy hand hou.

Hy kan moontlik as 'n figuur van die onbewuste beskou word, waarvan die ooglopendste rede is, dat hy dinge kan doen wat nie werklik moontlik is nie. Hy kan vlieg, hy kan lees sonder dat hy skool toe was, hy het nog sy eerste lag en melktande. Hy dra klere van plante en blare, en natuurlik kan hy maak nes hy goed dink – hy lewe altans sonder ouers. Hy is transgressief en kan immers vrylik beweeg tussen die werklikheid, die bekende wêreld waarin ons as lesers leef, en Nimmerland. Hy vergestalt die ewige geluk en sorgvryheid wat ’n kind kan simboliseer, maar tot ’n mate ook wensvervulling. Om vir ewig sorgvry te lewe, is ’n universele wens wat oor elke mens se pad kom. Dit is moontlik ook die grootste bydraer tot die verhaal se sukses.

In Peter Pan en Laurie word Peter gekonfronteer met Laurie, wat nie die tradisionele “mak” meisie is nie. Dit is baie interessant hoe Heese vir Laurie voorstel as ’n sterk persoonlikheid, veral as ons haar vergelyk met die meisies wat voor haar gekom het: Wendy, Jane, en Margaret, waarvan ons eintlik net Wendy se verhaal ken. Laurie wil nie ’n mamma wees nie, en sy sê dit ook uit die staanspoor vir Peter. Sterk vroulike karakters is juis in vandag se tye nodig, en waarom nie begin by ’n klassieke verhaal nie?

Hier is 'n baie innemende gesprek tussen die bewuste (verteenwoordig deur Laurie) en die onbewuste (verteenwoordig deur Peter Pan). Waar die bewuste slegs van die onbewuste bewus is, kan die onbewuste die grense tussen hulle oorskry, maar kan slegs in sy eie ryk ten volle funksioneer. Laurie is bewus van die wêreld waarin Peter leef, danksy die stories wat haar ma en ouma vir haar vertel, alhoewel die grootmense nie meer in hul eie verhale glo nie en vrese het oor Peter en sy besoeke.

Peter is steeds die magiese figuur wat grense kan oorskry en sonder enige besef grense kan oorsteek. Hy kan die werklike wêreld besoek, en het gereeld die venster besoek, maar het daarvan vergeet. Peter se geheue is soortgelyk aan die onbewuste: dit is onbetroubaar, dit onthou sommige goed, maar het 'n sneller nodig vir ander dinge. Hy vergeet maklik van Laurie, waar hy haar in die wolk gelos het, totdat een van sy verlore seuns hom vertel dat daar gevaarlike Ptero’s in die lug is, wat vlees eet. Dan onthou hy skielik hy het vir haar gesê om daar te wag.

Peter Pan funksioneer as ’n simbool vir alles wat die bewuste ons moreel verbied. Daar word moord gepleeg, die Grillergaaie word met triomf afgemaai aan die einde van die verhaal en daar is Half-gevreet se uitdaging waar daar tot die dood geveg sou word. Dit is dinge wat as moreel verkeerd vir kinders geleer word, tog is dit alledaags in Nimmerland.

Die sentrale gedagte wat gereeld na vore kom, is die begeerte na 'n mamma, 'n versorger en dat Laurie dit gereeld afwys, maar ten einde tog die rol vervul. Mens kan dalk 'n goeie argument formuleer dat hierdie element in die verhaal, ook in die oorspronklike JM Barrie-weergawe, wys op die binêre aard van die onbewuste en bewuste en dat die manlike 'n vroulike eweknie soek.

Die verhaal van Peter Pan en sy avonture is vrugbare grond vir ’n literêr-psigoanalitiese ondersoek. Dit dui op die ryk geskiedenis en sukses van die oorspronklike teks en Marié Heese se opvolgverhaal dra net verder by tot die rykdom van kinders se verbeeldingswêreld.

Peter Pan en Laurie (2019) is ook in Engels beskikbaar as Peter Pan and Laurie (2019), wat natuurlik die gesprek met Barrie se verhaal versterk, maar dit ook vir jong Afrikaanse lesers toeganklik maak. Enige jong leser sal van hierdie boek hou, en selfs die ietwat ouer lesers wat met nostalgie die oorspronklike Peter Pan van die vorige eeu onthou. Lees gerus, “tweede regs, en reguit aan tot die oggend” (Heese, 2019:25).

Verwysings:

Barrie, JM  1911. Peter and Wendy.  Elektroniese kopie. Aanlyn beskikbaar: https://freeditorial.com/en/books/peter-and-wendy--2  (26 Augustus 2019)

Peter Pan in Kenningston Gardens. Elektroniese kopie. Aanlyn beskikbaar: https://freeditorial.com/en/books/peter-pan-in-kensington-gardens--2 (26 Augustus 2019)

Tavasolian, S  2016. The Family That Inspired J.M. Barrie’s Peter Pan: Happy Birthday J.M. Barrie! Aanlyn beskikbaar: https://earlybirdbooks.com/the-family-that-inspired-j-m-barries-peter-pan  (26 Augustus 2019) 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top