Persvrystelling: ’n Unieke uitsending van Jeanne Goosen se Elders aan diens

  • 0

Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat liefhebbers van Jeanne Goosen se werk na ’n uitsending van haar 2009-kabaret, Elders aan diens, kan uitsien. Die stuk word deur Nicole Holm, Frieda van den Heever en Luna Paige opgevoer.

Dié wonderstuk is in 2009 by Klein Libertas Theatre in verfilm en kry nou nuwe lewe. Belangstellendes kan op Vrydag, 26 Junie om 19:00 by Drostdy Teater se aanlynplatvorm inskakel om ’n unieke woordkunsaanbieding te ervaar. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar. Jou kaartjie stel jou in staat om die vertoning oor die loop van die naweek te geniet. 

Albert Maritz het homself die taak op hande gelê om ’n kabaret te ontwikkel wat op Jeanne Goosen se derde digbundel, Elders aan diens, gebaseer is. Dié bundel is in 2007 deur Genugtig! Uitgewers gepubliseer. Ná verskeie speelvlakke by kunstefeeste en teaters, ’n Kanna-nominasie, sowel as ’n uitmuntende uitsending op RSG se Kunstefees, is dié kabaret tot ruste gelê sonder dat ’n opname ooit die lug gesien het.

Jeanne Goosen is op 3 Junie 2020 te midde van ’n wêreldpandemie oorlede. Alles het verander. Nou kry Elders aan diens weer nuwe lewe en kan kunstenaars die geleentheid kry om eer aan ’n groot gees in die Afrikaanse letterkunde te betoon.  

Iluminar Produksies het die uitsending van dié spesiale opname op Drostdy Teater se uitsaaikanaal geïnisieer. Liefhebbers van Goosen se literatuur, en selfs diegene wat nie met haar werk bekend is nie, word uitgenooi om kaartjies aan te skaf vir dié unieke geleentheid. Die kabaret is 11 jaar later steeds relevant en Nicole Holm, Frieda Van Den Heever en Luna Paige beïndruk met hul vertolkings en toonsettings van Jeanne se werk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top