
Teks: Ludwig Binge
Regie: Wessel Pretorius
Met: De Klerk Oelofse, Roeline Daneel en Ludwig Binge
My mense is die kluts kwyt is gegrond in die sketskomedietradisie van Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang. Hierdie stuk kyk met ’n satiriese oog na Afrikaners in hul gemaksone en lewer kommentaar op geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik. ’n Lewensmoeë, deeltydse geskiedenisonderwyser gee sý weergawe van wêreldgebeure met drastiese gevolge, terwyl Lady Rugga haar manlike kollegas touwys maak. ’n Blou Bul-braai in Pretoria neem ’n onverwagse wending terwyl Louise en Peter op hul eerste Tinder-afspraak ontdek die liefde is bipolêr.

Die stuk is die tweede uit die pen van akteur en skrywer Ludwig Binge (die eerste was Kleedkamer-blues by vanjaar se Innibos Kunstefees). Die stuk debuteer by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees en speel van 2 tot 6 Oktober.
Venue: ATKV C6 POK.
Tye: 2 Okt 20:00, 3 Okt 10:00, 4 Okt 16:30, 5 Okt 13:30, 6 Okt 10:00
Kaartjies kos R110 en is beskikbaar by Ticketpro.
Geselskap

Wessel Pretorius is in 1986 in Nelspruit, Mpumalanga gebore. Hy voltooi sy BA-dramagraad aan die Universiteit van Pretoria en sy honneurs in toneelspel aan die Universiteit Stellenbosch. Hy ontvang oa vier Fiësta-toekennings en die Woordtrofee vir beste dramaproduksie vir sy solo-stuk Ont-, wat hy skryf en ook in speel. Ont- is later vertaal deur Hennie van Greunen as Undone en het getoer na die Edinburgh Festival Fringe, Afrovibes in Nederland, die Wiener Festwochen in Wene en die Nasionale Kunstefees in Grahamstad waar dit die Standard Bank Ovation Goud gekry het. Pretorius skryf ook oa die teaterstukke Waterpas (KKNK Kanna vir beste komedie), Die dag is bros (vyf Fiësta-benoemings en die ATKV-Woordveertjie vir beste drama), Die ontelbare 48, Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof trilogie, I love you Sally Field (and other stories) en Renaissance. Ander hoogtepunte as akteur sluit in Saartjie Botha se Balbesit (regie deur Jaco Bouwer), Christiaan Olwagen se N is vir Neurose, Edward Albee se Wie’s bang vir Virginia Woolf? (regie deur Olwagen) en Tom Lanoye se Bloed en rose (regie deur Marthinus Basson). Pretorius woon in Kaapstad waar hy streef om ’n lewe uit teater te maak.

De Klerk Oelofse is ’n 29-jarige akteur, oorspronklik van Polokwane in die Limpopo-provinsie. In 2010 tree hy uit met ’n honneursgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch en was sedertdien in meer as 25 professionele verhoogproduksies. Hoewel die verhoog sy eerste liefde is, het hy ook onlangs ’n draai op die kassie gemaak in programme soos Die boekklub en Hotel. As hy nie op die verhoog of voor die kamera is nie, ontspan De Klerk graag met los werkies in sy skadutuintjie in Kaapstad.

Roeline Daneel behaal die grade BDram, BDram Hons en BPhil Hons (joernalistiek) alles cum laude aan die Universiteit Stellenbosch. Sy was te sien in die internasionaal-erkende films Krotoa en Skoonheid, asook televisiereekse soos Fynskrif, Die boekklub en Vallei van suiers. Verhooghoogtepunte sluit in Pa, Sandton City grootdoop, Born in the RSA, Waterpas, Mooi Maria, Die lelike eend en N is vir Neurose. Benewens haar akteursloopbaan, werk sy ook as vervaardiger en regisseur by Wyrd Films. Sy woon in Kaapstad saam met haar argiteksman, Werner, en katte, Evie en Seun.

Ludwig Binge het in Kaapstad grootgeword en matrikuleer in 2007 by Hoërskool Jan van Riebeeck. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar hy in 2011 sy honneursgraad in toneelspel ontvang het. In 2012 trek hy terug Kaapstad toe en begin as ’n professionele vryskutakteur werk, terwyl hy sy meestersgraad in drama en teaterstudie aanpak, wat hy in 2014 ontvang. Onlangse teaterproduksies sluit in: Kleedkamer-blues, Die Koninkryk van die diere, Samsa-masjien, Macbeth.slapeloos, Cabaret en Al julle volke. Filmwerk sluit in: Kanarie, Johnny is nie dood nie, Balbesit en Sophia Grace and Rosie’s royal adventure en hy was ook te sien in televisiereekse vir kykNET soos Spoorloos, Fynskrif, Die Boland moorde, Treknet, Vloeksteen en Die byl.

