Persvrystelling: Meyer en De Villiers se Karoo Suites by Kaapse inryteater uitgestel tot vroeg-2021

  • 0

Deon Meyer en Coenie de Villiers se gewilde Karoo Suite-tweeluik, wat op 10, 12 en 13 Desember 2020 by Atlantic Studios se inryteater aangebied sou word, word aangeskuif na 2021. Dié besluit is genoodsaak deur die skerp toename in COVID-19-infeksies waarmee die Wes-Kaap tans worstel.

De Villiers sê: “Die erns van die pandemie kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is ons burgerlike plig om alles binne ons vermoë te doen om die pandemie hok te slaan. Hou asseblief die media dop vir die uitgestelde datums van die vertonings.”

Volgens die Suidoosterfees-direksievoorsitter, prof. Brian Figaji, is alle goeie dinge die moeite werd om voor te wag. “In die lig van die huidige situasie in die Wes-Kaap en die aandklokreël wat heringestel gaan word, is ons genoodsaak om die produksie uit te stel. Die Suidoosterfees en sy vennote – die Jakes Gerwel Stigting, KKNK, CTMA en Atlantic Studios – bly verbind tot die projek. Ons wil graag beklemtoon dat die vertonings uitgestel en nié afgestel word nie.”

Mense wat reeds kaartjies vir die vertonings gekoop het, kan direk met Computicket skakel vir terugbetalings, of hulle kan die Suidoosterfees-kantoor kontak by Francois.Abrahams@media24.com om kaartjies aan te skuif na die 2021-aanbiedinge. Alle feesgangers wat reeds kaartjies gekoop het, sal van die nuwe datums in kennis gestel word sodra dit gefinaliseer is. Nuwe datums sal ook in die media en op die projekvennote se sosialemediaplatforms aangekondig word.

Kaapstad se uitvoerende burgermeester, Dan Plato, stel inwoners en besoekers gerus dat aanbiedinge sal voortgaan sodra die pandemierisiko’s verminder het. “Ons is bewus van die enorme druk waaronder die kunstebedryf verkeer en bly verbind tot die lewering van grensverskuiwende werk saam met die Suidoosterfees.”

Deon Meyer en Coenie de Villiers beywer hulle lank reeds vir die ontwikkeling van jongmense met potensiaal. Opbrengs uit kaartjieverkope sal aangewend word om die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryf-mentorskapprogram uit te brei met werkswinkels wat voortaan ook in die Karoo en in Kaapstad aangebied sal word. As deel van dié ontwikkelingsprogram kry liriekskrywers die geleentheid om by die Suidoosterfees en KKNK op te tree.

Vir meer inligting, kontak gerus vir Francois by die Suidoosterfees: Francois.Abrahams@media24.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top