Persvrystelling: Liefde by die Dam

  • 0

Die immergewilde Liefde by die Dam konsert wat elke jaar by Emmarentia Dam in Johannesburg aangebied word, maak ook nou elke jaar ’n draai in die Wes-Kaap. Liefde By Die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam, strewe daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud, ’n ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of ’n lekker dag uit saam met goeie vriende.

Agt bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars en groepe gaan vanjaar die verhoog behoorlik laat vlamvat: Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Early B, Arno Carstens, Majozi, Karlien van Jaarsveld, Snotkop en Loki Rothman.

Francois van Coke (Foto: Henry Engelbrecht)

Die kunstenaars op die program is gereeld besig met opwindende dinge. Loki Rothman reik later vanjaar ’n nuwe album uit en gaan van die nuwe liedjies by Liefde by die Dam speel.  “Ek doen gewoonlik solo shows, maar ek gaan by Liefde met ’n band optree. Dit is ’n totaal en al ’n nuwe rigting vir my show. Ek kan nie wag nie!” Die immergewilde Karlien van Jaarsveld gaan ook twee van haar nuwe liedjies by die konsert uitvoer. Majozi sien uit daarna om terug te wees op die Liefde by die Dam verhoog. “Ek sal die liedjies wat my fans ken sing en mense kan lekker saamsing. Die Liefde tema laat my dink aan Quincy Jones se woorde: “Wees ’n beter persoon as wat jy ’n musikant is.”  Die rocker Arno Carstens gaan meestal liedjies van “Die Aandblom13” met ’n paar welbekende nommertjies na die partytjie bring. Dit is sy eerste optrede in die Liefde by die Dam-reeks. Oor die vraag hoe mens ’n bietjie meer liefde kan gee het hy laat weet: “Konsentreer op die gevoelens van ander, grou diep in daai klip van ’n hart en glimlag.”

Die gewilde komediant Schalk Bezuidenhout sal die MC wees wat die dag verloop bymekaar gaan hou. Wat meer liefde gee betref het hy laat weet: “DEUR TE REPLY! Niks wys 'n gebrek aan liefde soos geen antwoord op WhatsApp nie. Of dit nou jou meisie of jou ma is. Die mense met die koudste harte in hierdie wêreld is die mense wat jou boodskap lees en jou los met twee blou ticks en 'n gebroke hart.”

Schalk Bezuidenhout (Foto: verskaf)

So kom ons hou by good vibes! Liefde by die Dam gaan hand aan hand met goeie gees. Liefde Wen samel na die afloop van die konsert komberse in vir minderbevoorregtes. Greeff sê: “Ons help graag ander; bring jou kombers en los dit na die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis.”

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties, ook een van die organiseerders van Liefde by die Dam, sê: “Meerendal met die wynlande en berge as prentjiemooi agtergrond is die ideale venue vir ons Kaapse konsert. Hierdie jaar maak ons meer spasie vir konsertgangers en daar sal ook meer kroeg-fasiliteite wees. Kom kuier saam!”

Daar het jy dit. Mag liefde bly wen!  Kom deel in ’n heerlike, gesellige musiekdag by die dam en bring piekniekmandjies saam. Daar sal ook ’n verskeidenheid kosstalletjies wees.

Kaartjies:
Algemeen: R195
Kinders 3-12: R75
Kinders onder 3: Gratis
VIP: R795 – (uitverkoop) Geniet Liefde By Die Dam 2019 in styl met prioriteitingang. Ontspan in die VIP-area met 'n bietjie skaduwee, sitplekke en privaat-toilette. Alle kos en alle drankies is ingesluit by die VIP kaartjie. 

Kaartjies is by Howler beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top