Persvrystelling: Klassieke musici opgewonde oor tiende Klein Karoo Klassique

  • 0

“Die wag vir die tiende Klein Karoo Klassique is so te sê verby. Ons as organiseerders, sowel as die kunstenaars, is opgewonde om groot gehore op Oudtshoorn te ontvang,” sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat Klein Karoo Klassique aanbied.

Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, word van Donderdag 9  Augustus tot Sondag 12 Augustus aangebied.

“Huidige kaartjieverkope dui daarop dat die musiekuitvoerings baie goed ondersteun gaan word en ons is slaggereed om die unieke, warm gasvryheid waarvoor Oudtshoorn en die Klein Karoo bekend is, met besoekers te deel. Tier viering van Klassique se tiende verjaarsdag, is die fees een dag langer en bied ons tien uitvoerings aan, teenoor die agt van verlede jaar. Na die sukses van die laataand uitvoerings in Die Windpomp Restaurant Teater word dié program ook uitgebou na drie optredes, teenoor verlede jaar se twee,” vertel Theart.

Volgens Theart was daar vanjaar twee afslagpakkette vir Klassique beskikbaar. “Die eerste pakkette het blitsvinnig uitverkoop en ons het besluit om ’n tweede pakket beskikbaar te maak. Hierdie pakket gee aan feesgangers die geleentheid om elke noot van die hoofprogram te hoor, teen ’n besparing van R200.” Pakkette kan by Computicket bespreek word.

Night at the Opera

Hoogtepunte uit vanjaar se musiekprogram sluit in Night at the Opera deur die Charl du Plessis Trio. Hulle open die musiekprogram in die NG Moederkerk op Donderdagmiddag om 14:30. Dit is ’n unieke reis met die mees geliefde opera-arias, waaronder uit Die Towerfluit (Der Hölle Rache), Rigoletto (La donna è mobile), Tosca (E  lucevan le stelle) en ander.

Klassique is geensins vir Du Plessis onbekend nie. Hy tree vanjaar vir die vyfde keer by dié fees op en stampvol sale is kenmerkend van sy optredes. Klassique se gehore maak dié fees vir hom spesiaal. “Die gehore is daar vir die regte rede: om musiek te geniet en te waardeer. Ek vind dat die fokus van ’n gehoor ’n sekere energie na die verhoog oordra, waarop die kunstenaar kan reageer. Dit maak gewoonlik dat ek beter speel as ek weet die gehoor is by my en luister aandagtig. Klassique is spesiaal omdat ek ook die geleentheid kry om die musiek van my klassieke kollegas te hoor en saam met hulle te kuier en idees oor musiek uit te ruil,” sê hy.

Volgens Du Plessis kan die gehoor uitsien na hulle program, aangesien dit pas vir die eerste keer in Switserland gespeel is. “Die gehoor kan hulle voorberei vir ’n volle dosis opera met al die drama, humor en pragtige melodieë, soos die komponiste dit aanvanklik gekonseptualiseer het. Daar is natuurlik ook lekker jazz-nommers op die program, waarin my trio-kollegas Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme) kan wys hoe goed hulle speel,” sluit hy af.

Misa

Tydens die tweede uitvoering, Misa (Donderdagaand om 18:00), het die gehoor die voorreg om ’n premièrevoorsmaak van die nuwe mis met ’n Suid-Afrikaanse invloed, soortgelyk aan die Kongolese en Latyns-Spaanse invloede van die Missa Luba en die Missa Criolla, eerste te beleef. Dié projek, in opdrag van die Nasionale Afrikaanse Teater Inisiatief (NATi), word vir uitvoerings by verskeie feeste en teaters in 2019 ontwikkel, onder die kreatiewe leiding van Marthinus Basson, met Antjie Krog wat die teks skryf en Antoni Schonken wat die musiek komponeer. Hierdie spesiale vertoning word aangebied as ’n demonstrasie-lesing, as deel van die ontwikkelingsproses. Uittreksels uit die werk word deur verskeie rolspelers voorgelees en gesing, gevolg deur ’n gesprek met gehoordeelname. Soliste van die Kaapse Operakoor, Thando Mjandana, Ané Pretorius en Cecilia Rangwanasha sluit by Krog op die verhoog aan.

The Four and the One

Die Odeion Strykkwartet keer op Vrydag om 10:00 terug na Klassique vir The Four and the One, saam met pianis Albie van Schalkwyk, om die intimiteit van die beste meesterstukke van die laat-romantiese era te ontsluit. “Die atmosfeer op Oudtshoorn, asook die gehore wat uitgehonger is vir klassieke musiek, maak dit baie spesiaal om daar op te tree,” sê Anmari van der Westhuizen van die Odeion Strykkwartet. “Ook die feit dat dit slegs klassieke musiek is wat hier uitgevoer word, maak dit ekstra spesiaal.”

“Die gehoor kan uitsien na ’n pragtige romantiese program, met die ‘Intimate letters’ strykkwartet nr. 2 deur Leoš Janáček, wat nie dikwels gehoor word nie. Dit is ’n pragtige werk met brokkies vinnig opeenvolgende, kontrasterende emosies. Die werk was in Janáček se sterfjaar gekomponeer, waarin hy sy hartstogtelike liefde vir Kamila Stösslová weergee. Sy was veel jonger as hy en albei was getroud. Die ander bonus vir gehore is om die pragtige romantiese César Franck klavierkwintet te hoor, saam met die bekende pianis Albie van Schalkwyk,” vertel Van der Westhuizen verder.

The New Old – Die nuutheid van oudheid

Mareli Stolp (klavier), Waldo Alexander (viool) en Morné van Heerden (klarinet) is Vrydagmiddag om 14:30 in The New Old – Die nuutheid van oudheid te sien. Stolp, vanjaar vir die derde keer by Klein Karoo Klassique, was ook by die eerste fees in 2009 op die program. Ook vir Stolp maak die gehore dié fees baie spesiaal. “Ek vind die luisteraars geweldig betrokke, toegewyd en vol goeie energie. En ook bereid om nuwe musiek en buitengewone werke ’n kans te gee – waarlik gehore met oop ore en ’n liefde vir musiek. Dít maak Klassique vir ’n uitvoerder ’n wonderlike speel-ervaring. En dan die omgewing: die Klein Karoo is so ’n wonderskone plek en Oudtshoorn is ’n warm en ontvanklike dorp,” aldus Stolp.

Sy sê soos wat die titel voorspel, kan die gehoor iets bekend en iets splinternuut met vanjaar se uitvoering verwag. “Nuut en oud. Die twee Suid-Afrikaanse werke is baie verskillend, elk met ’n eie energie en dit is natuurlik die wêreldpremières – so ons gehore sal die eerstes wees om hierdie musiek vanuit eie bodem te ervaar. Stravinsky en Milhaud se werke is meer bekend en met rede, dit is uitstekende werke, vol verrassing en sprankel en dit is lekker vir ons ensemble om ons eie interpretasies daarvan na die verhoog te bring,” sluit sy af.

The Grey

Volgens Theart het kaartjies vir die uitvoerings in Die Windpomp Restaurant verlede jaar uitverkoop. “Feesgangers moet dus seker maak hulle bespreek vroegtydig, aangesien daar slegs beperkte sitplekke beskikbaar is,” meen hy. Die musiekprogram hier sluit in optredes deur The Grey (Ellani de Jager en Donné de Kock), ’n dramatiese viool-duo wat reeds landswyd kompetisies gewen het. Hulle musiek word gekenmerk deur ’n vermenging van oud en nuut, met klassieke musiek uit ’n wye reeks genres, waaronder pop, rock en ballades. The Grey is op Donderdag 9 Augustus om 21:00 in Die Windpomp te sien.

Another Evening of Jazz

Op Vrydag 10 Augustus om 21:00 keer Brathew van Schalkwyk (klavier), Jesse Julies (saxofoon en sang) en Naledi Masilo (sang) terug na Klassique vir Another Evening of Jazz. Dié trio het ’n uiters suksesvolle debuut by verlede jaar se Klassique gehad en bring ’n nuwe Jazz-program na die fees. Elkeen van die kunstenaars het ’n indrukwekkende grondslag en die groep voer ’n vermenging van tradisionele jazz en meer kontemporêre interpretasies op.

24 Preludes Op.28

José Dias (klavier) speel op Saterdag 11 Augustus om 21:00 een van die belangrikste klavier-meesterstukke uit 24 Preludes Op.28 deur Frédéric Chopin. Die gehoor ervaar ’n stormagtige, romantiese en fantastiese reeks van onvergeetlike musikale sketse.

Kaartjies na elk van dié uitvoerings kos R90 per persoon. Etes word nie by die kaartjieprys ingesluit nie. Kaartjies vir die optredes in Die Windpomp is beskikbaar by Kunste Onbeperk se kantoor of stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za of kontak 044 203 8600. Aandete word vanaf 19:00 by Die Windpomp bedien, met ligte middagetes wat ook hier beskikbaar is.

’n Eksklusiewe wynproe word ook vanjaar aangebied en gee aan feesgangers die geleentheid om wyne, gemaak van die oudste wingerdstokke in Suid-Afrika, te proe. The Old Vine Project se André Morgenthal bied hierdie baie spesiale wynproe op Saterdag, 11 Augustus van 16:00 tot 17:00 aan. Kaartjies kos R250 en daar is slegs 30 beskikbaar. Besprekings kan by 044 203 8600 of info@kunste.org.za gemaak word.

Vir meer inligting, besoek www.klassique.co.za, volg Klein Karoo Klassique op sosiale media of kontak Kunste Onbeperk by 044 203 8600.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top