Persvrystelling: Jong Sterre by vanjaar se Suidoosterfees

  • 1

Suidoosterfees spog vanjaar met ’n reeks produksies wat deur die sterre van die toekoms op die planke gebring word. Die 15de Suidoosterfees – met die tema Fantastiese 15 – vind van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad plaas.

Ikhaya Lam vertel die storie van ’n Xhosa-seun wat aangeneem word deur ’n konserwatiewe familie ná sy ma, wat vir die Witte-familie werk, sterf. Hy ervaar probleme as die familie druk op hom plaas om hul tradisies aan te neem. Op sy 18de verjaarsdag onthul hy aan die Witte-familie dat hy gay is. Saam maak hy en sy suster ’n reis mee waarop hulle hoop om die wanpersepsies wat in hul kultuur is, te ontvlug.

Jadene Hartley en Ayabonga Makanya in Ikhaya Lam

Brandmerk gaan oor ’n ma wat die reg in eie hande geneem het. ’n Dekade na hierdie gebeurtenis, is die Williams-gesin nog net so stukkend soos hulle altyd was. Die kinders ontruim hul huis wat met donker gevoelens gevul is, terwyl die een seun, Danny, moet besluit of hy die geheim tussen hom en sy oorlede vader gaan verklap.

Die produksie Skuld vertel die verhaal van vier vriende wie se lewens in wanorde gedompel word wanneer iemand wat hulle ken, verkrag en vermoor word. Die agtienjarige Johnny gaan tronk toe en die ander gaan deur fases van ontkenning en erkenning wanneer hulle probeer bepaal wie regtig te blameer is. Dit beloof om ’n spanningsvolle reis te wees.

Suidoosterfees spog verder met die teaterstuk Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika (NRNNSA). Ses gesinne ding mee vir ’n plek in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die kompetisie is geskep as gevolg van ’n tekort aan transformasie in die huidige “nuwe Suid-Afrika”. Deur satire en komedie bied die stuk ’n unieke blik op die stryd van verskillende Suid-Afrikaners in die lig van transformasie. Dit is oorspronklik ontwikkel deur die Universiteit van Stellenbosch se dramadepartement.

Oupa is ’n verhaal oor ’n student met die naam Tommie, sy vier beste vriende en sy suster wat wag vir ’n verskietende ster – ’n ster waarvan sy oupa hom baie vertel het. Oupa maak gebruik van musiek, woordkuns, sterretekens en tegnologie om die lewens van ses komiese karakters uit te beeld. Elke karakter verteenwoordig ’n eienskap van menslikheid. Hierdie produksie is gevul met spanning en geheime.

Alle kaartjies vir hierdie Jong Sterre-produksies beloop R95 en kan via Computicket bespreek word.

Suidoosterfees vier ook saam met die res van Suid-Afrika Menseregtedag.

“Menseregte is die regte wat elke lewende mens vanweë sy of haar lewende status toekom, afgesien van status, velkleur, geslag, taal of herkoms. Die Suidoosterfees vier op 21 Maart Suid-Afrika se trotse eenheid-in-verskeidenheid-kultuur. Ons nooi u spesiaal met hierdie vieringe uit na die 15de jaarlikse Suidoosterfees. Hierdie fees is slegs vir almal!” – Niël Rademan, Uitvoerende hoof: Suidoosterfees.

Klein Nederburg Sekondêr se dramastudente in Simunye, we are one, ons is een

DCAS-dramafees

Bly op hoogte van die jongste Suidoosterfees-nuus op Facebook (@Suidoosterfees), Twitter (@Suidoosterfees), Instagram (@suidoosterfees2018) en besoek www.suidoosterfees.co.za.

Vir meer inligting, kontak gerus vir Lyndsay Cader (Lyndsay.Cader@media24.com / 021 408 3560 / 084 282 2040).

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top