Persvrystelling: Eseltjiesrus se grootste Boekefees help donkies in nood

  • 0

Eseltjiesrus Boekefees, McGregor
Vrydag 18 Mei tot Sondag 20 Mei 2018

Winskoopjagters en boekwurms kan weer na hartelus kom snuffel by die 12de jaarlikse Boekefees in McGregor. Of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels of ’n rare en kosbare kleinood soek, behoort jy dit tussen die duisende nuwe en kraakvars tweedehandse boeke te vind. Nuwe voorraad word elke dag uitgepak.

Nie net word meer as 15 000 boeke van ’n groot verskeidenheid onderwerpe teen winskooppryse aangebied nie, maar elke boek wat verkoop word help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary gehuisves word.

Eseltjiesrus is ’n permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde donkies net buite McGregor. Hier word hulle die geleentheid gegee om die res van hul lewens tussen hul eie soort deur te bring waar hulle met respek en waardigheid hanteer word. Elke donkie word elke dag individueel versorg en gevoed na gelang van hulle ouderdom en behoeftes.

David Kramer, die beskermheer van Eseltjiesrus

Eseltjiesrus het ook ’n bron van inligting geword en hanteer daagliks navrae van oor die hele land oor goeie versorging. Die meeste probleme ontstaan as gevolg van onkunde of die wanopvatting dat donkies nie gereelde aandag en versorging nodig het nie. Hierdie hulp maak ’n beduidende verskil om die status van donkies in die algemene publiek se oë te verbeter. Elke individuele donkie wat gehelp word, is een minder wat pyn, ongemak of angs hoef te verduur.

Die sukses van hierdie jaar se Boekefees in McGregor gaan dus weer ’n onontbeerlike rol speel in die komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus. Die gemeenskap baat ook op verskeie maniere. Werk word geskep, boeke word geskenk aan skole en biblioteke in die groter Langebergarea en dié jaar is daar ook ’n Storievertel- en leesteater vir kinders. Vrywilligers gaan daagliks vir kinders stories vertel by die Boekefees. Die boeke word dan aan die Breede Vaardigheidsentrum geskenk, sodat die kinders in die weke daarna verder kan gaan luister. Hierdie projek wil ’n kultuur van lees by kinders kweek, want niemand behoort vreugde van boeklees misgun te word nie.

KitKat kyk wat vir die kinders gelees gaan word.

Daar is stapels Afrikaanse boeke, rare boeke en spesiale geskenke vir ieder en elk. Bederf jouself en kom kuier die naweek van 18 tot 20 Mei in McGregor en vul jou voorraad lekker leesstof aan vir die winter wat voorlê.

Vir meer inligting skakel 023 625 1593, stuur ’n epos aan bookfair@donkeysanctuary.co.za of besoek die amptelike webtuiste www.donkeysanctuary.co.za.

Vir akkommodasie-opsies, kontak die McGregor-toerismekantoor: 023 625 1954

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top