Persvrystelling: Die nag van Legio by die Kunstekaap

  • 0

Die nag van Legio
14 – 19 November 2017
Kunstekaap-arena

PG du Plessis se bekroonde Hertzogprys-drama, Die nag van Legio, word vanaf 14 November vir ’n kort speelvak by die Kunstekaap-arena aangebied. Dit was vroeër vanjaar as opdragwerk by die Innibos Nasionale Kunstefees aangebied en daarna by die Vrystaatse Kunstefees (Vryfees).

Die nag van Legio word beskou as een van die meesterwerke van die moderne Afrikaanse teater. Dié sielkundige riller speel af in ’n inrigting vir sielsiekes. Die lewens van vier pasiënte met verskillende ernstige en minder ernstige afwykings word onherroeplik verander met die koms van Dogoman. Een van hulle, Dirk Jooste, ken Dogoman en sy vermoë om mense se geloof uit te buit en kom teen hom in opstand. Met meesterlike manipulasie en vleitaal sweep Dogoman die ander teen Dirk Jooste op. Wat dan ontvou, is ʼn spanningsvolle sielkundige riller wat die stryd tussen goed en kwaad uitbeeld en die gehoor behoorlik laat regop sit. Massahisterie, magspel, manipulasie en die onderwerping van die individu is van die relevante temas wat in hierdie produksie geopper word.

Hierdie tydlose debuutdrama uit die pen van PG du Plessis is in die laat sestigs geskryf, in 1969 word dit deur TRUK opgevoer en Pretoria word tot stilstand geruk met kwessies en taal wat vir die publiek ongekend is. In 1972 word die Hertzogprys aan Du Plessis toegeken, waarna vele ander werke volg. Die dramaturg was ’n student van NP van Wyk Louw, vir wie protes ’n móét was. En Legio wás dit.

Die room van Suid-Afrika se akteurs speel in die langverwagte herlewing van PG du Plessis se riller van die sewentigs, by name André Roothman, Gerben Kamper, Deon Lotz, Duncan Johnson, Hein Poole, Francois Potgieter, Francois Jacobs en Riaan Visman; onder leiding van regisseur Albert Maritz. Die stelontwerp is deur Gaerin Hauptfleisch en Albert Maritz ontwerp, kostuums deur Elrina Marais en beligting deur Jako Beylevelt.

“Om hierdie teks te kan doen, is amper ’n roeping,” sê Maritz. “Maar ’n mens is bang vir wat dit vandag beteken en jy kan nie ’n meester se werk joune wil maak deur goed net te begin verander nie. Destyds in Pretoria was dit ’n majestueuse sukses. En nou waag ’n ou jou hand daaraan.

“Ek het al voorheen gesê ’n teks bewys hom nie net in teorie nie. Dit moet op die planke lewe kry om dit volledig te kan beoordeel. Die akteurs moet fyn trap. Dit is moeilike materiaal, maar dit skakel om in ’n vreugde vir ’n gehoor.

“Ons is versigtig met hierdie teks. So ons werk byna met ’n skalpel en verwyder klein stukkies, hier en daar dalk ’n sinnetjie of ’n kort paragraaf. Dis egter moeilik, want die struktuur van die teks is so goed. Ons probeer so min as moontlik ingrepe maak. Dit is belangrik dat die stuk by die tyd bybly.”

Die nag van Legio, ondersteun deur NATI (Nasionale Afrikaanse Teater-Inisiatief), Innibos Kunstefees en Damhuis Restaurant, kan op die volgende datums by die Kunstekaap-arena gesien word:

  • Aandvertonings van 14 tot 19 November om 20:00
  • Middagvertonings: 15 en 19 November om 15:00; 18 November om 14:30

Kaartjies: R120 by Computicket of Kunstekaap Bel-’n-sitplek (021 421 7695)

Spesiale afslag vir pensioenarisse en studente is R95 vir 14:30 matinee en R110 vir aandopvoerings.

’n Ouderdomsbeperking van18 jaar is van toepassing.

Volg ons op:

#legio
#legioartscape
#pgduplessislegio

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top