Persvrystelling: Die aanlyn Klassique Baroque-konsertreeks is steeds te sien

  • 0

’n Oomblik uit Misshapen Pearls (Foto verskaf)

Klassieke musiekliefhebbers het nog geleentheid tot 30 November 2020 om die vier konserte wat as deel van die Klassique Baroque-fees aanlyn aangebied word, te sien.  Die vier konserte is deel van ’n konsertreeks wat Klein Karoo Klassique en die Kaapstad Barokfees met ondersteuning van die Rupert Musiekstigting opgeneem het. 

“Die terugvoer op die konserte was uitstaande en alhoewel ons die konsertreeks net tot einde Oktober beskikbaar sou stel, het ons weens verskeie navrae die periode verleng tot en met 30 November,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat jaarliks ook Klein Karoo Klassique aanbied.

Erik Dippenaar, artistieke direkteur van die Kaapstad Barokfees, vertel dat hulle die samewerking met Klassique geniet, omdat beide feeste ’n sterk fokus op kamermusiek het. “Hierdie reeks konserte strek oor ’n veelsydige repertoire wat wissel van die eerste helfte van die 17de, tot die mid-20ste eeue,” vertel Dippenaar. “Ek was gelukkig dat ek van my gunsteling-Suid-Afrikaanse musikante kon kies om mee saam te werk in die samestelling van dié program. Elke musikant is uitgesoek vir hulle kenmerkende eienskappe en sterkpunte en die eindresultaat is ’n opmerklik-unieke kamermusiek-ervaring.”

Een van die aanlyn feesgangers se terugvoer: “Die konserte is beeldskoon verfilm. Die atmosfeer is romanties en ongelooflik, welgedaan! Wat julle doen is in ’n liga van sy eie.”

Haydn in London (Foto verskaf)

Die vier konserte wat deel vorm van die reeks is:

  • Misshapen Pearls met Lynelle Kenned (sopraan), Ralitza Macheva (barokviool), Refiloe Olifant (barokviool) en Erik Dippenaar (klavesimbel): ’n Opwindende program wat op die sterk kontraste in Barokmusiek fokus, asook die improvisasie-aspek van musiek uit hierdie tydperk, wat intrinsiek deel van die estetika daarvan vorm.
  • Haydn in London met lede van Camerata Tinta Barocca [Liesl Stoltz (dwarsfluit), Refiloe Olifant (eerste viool), Bonolo Kgaile (tweede viool), Lynn Rudolph (altviool), Cheryl de Havilland (tjello), Mariechen Meyer (kontrabas) en Erik Dippenaar (klavesimbel): Joseph Haydn se geliefde Surprise Symphony word uitgevoer, soos verwerk vir kamermusiek-ensemble deur Johann Peter Salomon. Die program word aangevul deur CPE Bach se Hamburger Sonate vir dwarsfluit en continuo, wat die eerste keer in 1786 gepubliseer is.
  • 1840 met Janel Speelman (sopraan) en Esthea Kruger (klavier): ’n Program van lieder en musiek vir solo-klavier deur Robert Schumann. Al die lieder in hierdie program dateer uit 1840, Schumann se sogenaamde Liederjahr, ook die jaar waarin hy met Clara Wieck getrou het. Dit sluit werke uit die liedsiklus Myrthen Op. 25 en Liederkreis Op. 39 in. Kruger voer ook die Sonate no. 2 in G-mineur Op. 22 uit. Die tweede beweging van dié werk is gebaseer op Im Herbste, een van die lieder in hierdie program.
  • Histoire du Tango met die Zomari Duo, Bridget Rennie-Salonen (dwarsfluit) en James Grace (kitaar): ’n Uiteenlopende uitvoering van opwindende musiek vir dwarsfluit en kitaar uit Suid-Amerika. Die program gebruik die ikoniese werk van Astor Piazzolla, L’histoire du tango, as vertrekpunt. Dit bevat ook werke van die Brasiliaanse komponis, Celso Machado en die Argentyn, Máximo Diego Pujol.
Kaartjies vir hierdie vier uitvoerings is tot 30 November beskikbaar en kos slegs R100 per uitvoering by Quicket. Of bespreek ’n pakket vir al vier uitvoerings teen slegs R300.

Dis maklik om die konserte aanlyn te kyk!

Koop jou kaartjies by Quicket by hierdie skakel: https://qkt.io/KlassiqueBaroque

  1. Wanneer jy ’n konsert wil kyk, klik eenvoudig op die groen knoppie (ACCESS STREAM FOR THIS TICKET) in jou elektroniese kaartjie wat jy per e-pos sal ontvang.
  2. OF teken in op Quicket met dieselfde e-posadres wat jy gebruik het toe jy die kaartjie gekoop het.
  3. Wanneer jy aangeteken het, gaan na MY TICKETS – al die kaartjies wat jy bespreek het, sal hier verskyn.
  4. Kliek op ACCESS ONLINE EVENT. Al die konserte waarvoor jy bespreek het, sal hier verskyn, kies een, druk PLAY en geniet!
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top