Persvrystelling: Bekendstelling van fondsinsameling en "Reach the sky"

  • 0

Foto’s: verskaf

Toe die nuus in Maart 2020 breek dat die lewe soos ons hom ken tot ’n stillstand kom, kon niemand werklik voorsien tot watter mate ons uitgedaag sou word nie. Hierdie is ’n moeilike tydperk vir alle wêreldburgers. Musikante en ander lede van die vermaaklikheids- en gasvryheidsindustrie word hard geslaan deur die pandemie en gaan vir die onvoorsienbare toekoms swaar buk onder die COVID-veiligheidsmaatreëls. Dit is wel bemoedigend en inspirerend om te aanskou hoe dit juis die musikante is wat hul positiewe houdings aanwend om te bly innoveer en skep te midde van al die onsekerheid en die gevolglike onderliggende angs wat daarmee gepaard gaan. Hulle bly omsien na die kollektiewe gemoed van hulle landsburgers en hou vol om te vermaak op elke moontlike platvorm tot hulle beskikking. 

ClemenGold ondersteun Luna Paige en Iluminar Produksies vir baie jare reeds. Hulle het fondse uiteengesit vir die ontwikkeling van musiekprojekte wat in 2020 die lig sou sien. Dit is vanselfsprekend dat die projekte nie in 2020 kan plaasvind nie. Met die onsekerheid oor wanneer musikante en hulle mede-kreatiewes weer die verhoog mag betree, het ClemenGold voorgestel dat hierdie fondse aangewend word om musikante en/of musiekindustrie verteenwoordigers te ondersteun gedurende die moeilike tydperk. Iluminar Produksies het musikante, agente, klankingenieurs en venue-eienaars saam met wie hulle dikwels werk en as deel van hul wyer  kunstefamilie- en gemeenskap beskou, geïdentifiseer.  Daar is veral gefokus op diegene wat geen alternatiewe vorme van inkomste het nie. Hierdie persone/instansies het ’n finansiële bydrae ontvang gedurende die eerste vyf weke van die inperking. 39 Musikante, twee musiekagentskappe, een klankingeneur en vier musiekvenues is gedurende hierdie tyd ondersteun.

As dankbetuiging aan ClemenGold het Iluminar Produksies van die begunstigdes genader om deel te neem aan die opneem en verfilming van ’n motiverende oorspronklike lied wat gemik is op alle Suid-Afrikaners. 14 musikante het deelgeneem aan die opname en verfilming van “Reach the sky”. Liedjieskrywer, sangeres en eienaar van Iluminar Produksies, Luna Paige, het die lied geskryf en ander liedjieskrywers Frazer Barry, Sima Mashazi en Lumanyano “Unity” Mzi genader om die lirieke te vertaal en/of hul eie liriekbydraes in Afrikaans, Zoeloe en Xhosa te maak.

Die sangers Luna Paige, Lea Venga, Sima Mashazi, Marcia Moon, Nick Turner, Frazer Barry, Unity Mzi en Thandeka Dladla se unieke stemme kan in die lied gehoor word. Turner speel akoestiese kitaar en Frank Freeman elektriese kitaars. Die ritme-seksie word deur Schalk van der Merwe op baskitaar en Kevin Gibson op tromme gespeel.  Die klavierspel, en “mastering” is deur Blake Hellaby vermag. In “Reach the sky” hoor mens ook die bluesman Simon Orange op die orrel en Jamie Jupiter op die Afrikafluit. Die video is geredigeer deur Izette Mostert van Purple Pear Films. Alle opnames en visuele materiaal van die kunstenaars is deur hulself opgeneem. Die projek is dus ’n kreatiewe samewerkende inisiatief waar almal hul tyd, vaardighede en talente ingespan het om dank te betoon aan ’n maatskappy wat die kunste ondersteun, maar ook om mede-Suid-Afrikaners aan te moedig om positief, hoopvol, verdraagsaam en goedgesind te bly, en om aan te hou glo dat dit moontlik is om ’n toekoms te skep waarop ons almal trots kan voel om van deel te wees.

Lede van die publiek sal die lied teen R20 kan aanskaf. Aankope sal via ’n QR-kode deur BUSQR geskep en gefasiliteer word. BUSQR is ’n opwindende innoveerder en weldoener vir die kunste gedurende hierdie tyd. 20% van die inkomste sal aan ’n liefdadigheidsorganisasie (’n voedingskema van Iluminar Produksies se keuse) geskenk word. 80% van die inkomste sal  tussen die 14 deelnemende musikante wat tans ontneem is van hul gewone werksgeleenthede en inkomstes versprei word.

Die fondsinsamelingsinisiatief sal vir 90 dae duur. Die QR kode laat musiekliefhebbers en ondersteuners toe om betalings via Snapscan, Zapper, PayFast (kaartbetalings) en PayPal (internasionale betalings) te doen. Lede van die publiek wat nie gemaklik voel met enige van bogenoemde betaaalopsies nie, kan Luna Paige kontak by [email protected] om die bankbesonderhede vir ’n EFT te bekom. Die publiek het ook die opsie om meer as R20 tot die fonds by te dra. Iluminar Produksies sal na afloop van die 90 dae terugvoer op sosiale media en ander media platvorms gee oor hoeveel fondse ingesamel is, hoeveel geskenk is aan die gekose liefdadigheidsorganisasie en hoeveel aan die musikante uitbetaal is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top