Persvrystelling: 21 Jaar later met Luna Paige

  • 0

2020 is Luna se 21ste jaar in die musiekbedryf. In 1999 het sy haar heel eerste opnames by Sunset Recording Studios buite Stellenbosch gemaak. Hierdie opnames en optredes saam met onder andere Lesley Rae Dowling het gelei het tot Luna Paige se toetrede tot die musiekindustrie.

Nou 21 jaar later – het Luna Paige 4 Engelse CD’s, 1 Afrikaanse DVD & CD, ’n SAMA genomineerde konsepalbum sowel as verskeie enkelsnitte vrygestel.

Luna is ook eienaar van Iluminar Produksies waar sy musiekteater-produksies soos Die Ander Konsert, Korreltjie Kantel, Her Blues en die splinternuwe produksie (KKNK & Suidoosterfees 2020) Smeltkroes ontwikkel en vervaardig.  

Paige het baie van haar kreatiewe tyd afgestaan aan Iluminar Produksies. In 21 Jaar Later het sy haarself uitgedaag om notaboekies, dagboeke, gedigte en neergepende gedagtes vanuit die afgelope twee jaar nader te hark en nuwe materiaal/liedjies te skep. Sy wil dié nuwe materiaal by Woordfees aanbied voor sy besluit watter van dié nuwe liedjies op haar volgende album sal verskyn. Kom vier saam met Luna aan haar mondigwording in die musiekbedryf op die 14de Maart by Woordfees.  

Omskrywing en besonderhede:

’n 21ste Jaar in die musiekbedryf is ’n groot oomblik en ook ’n sneller vir selfrefleksie en -vernuwing. In 21 Jaar Later bied Luna die gehoor nuwe musiek en herontdek sy die kuns van en haar liefde vir die skryf van liedjies. Hierdie nuwe materiaal is ’n gevolg van introspeksie en die besinning oor haar plek as kunstenaar binne die diverse musiekindustrie en ons huidige sosio-politiese klimaat hier in Suid-Afrika.  

In haar eie woorde:

Ek vier 21 jaar in ’n moeilike industrie en ek kan nie anders as om te dink aan my relevansie as kunstenaar in dié land nie. Ek kan nie anders as om myself af te vra tot watter mate ek bydra tot die kulturele landskap van hierdie interessante land van ons nie. Ek dink dit is belangrik vir alle kunstenaars om elke nou en dan hul relevansie te evalueer – om eerlik en opreg te kyk na wat hulle skep, hoekom hulle dit skep en hoe hulle skeppinge bydra tot ’n nalatingskap van ons musikale argiewe.

Ek het geen idee wat uit my introspeksie gaan kom nie – maar wat ek wel weet is dat met ’n nuwe dekade wat aanloklik en uitdagend voor ons lê – dit belangrik is om te laat gaan van dit wat oud is en nie meer werk nie, om dit wat goed is raak te sien, te hou, daarop uit te bou, om die onbekende te omarm en braaf genoeg te wees om vreeslose weergawes van onsself te wees.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na
"Luna Paige: 21 jaar later": 14 Maart om 17:30 by die Kunste Vierkant.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top