
Amptelike persfoto van wenners: Hermanus Schmidt en Emanuil Ivanov (foto: Tiffany Schultz Photography)
Die finale rondte van die Hennie Joubert Klavierkompetisie is op Saterdag 28 Maart in die Endlersaal gehou. Die 5 finaliste het elk ’n beweging uit ’n klavierkonsert saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uitgevoer met Jacobus de Jager op die podium. Hierdie uitvoering was die hoogtepunt van ’n week-lange leerskool wat deur die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium fasiliteer is en aan deelnemers van die Hennie Joubert Klavierkompetisie die unieke geleentheid gebied het om na afloop van die tweede en derde rondtes wat op Maandag 23, en Dinsdag 24 Maart gehou is verder deel te neem. ’n Groot groep van die 12 gekeurde mededingers het voortgegaan met die klaviersimposium en die geleentheid geniet om meestersklasse te ontvang, lesings by te woon, in etensuurkonserte op te tree en na recitals deur uitgelese pianiste soos Leo Gevisser, Emanuil Ivanov en Ludmil Angelov te luister.
Hierdie intensiewe en lewensveranderende artistieke ervaring kon slegs moontlik gemaak word met die ondersteuning van die breë kulturele publiek (wat persoonlike donateurs insluit), plaaslike gehore, asook gevestigte borge wat die belangrikheid daarvan verstaan om in die kunste, opvoeding, en ’n nuwe jonger generasie van Suid-Afrikaanse jeug te belê.
Die Hennie Joubert Klavierkompetisie se hoofborge was die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, die Rupert Musiekstigting, die John Roos Trust en Cape Piano: ’n opwindende nuwe projek wat ten doel stel om Klassieke musiek vir die breër publiek toeganklik te maak deur middel van opvoedingsgeleenthede en inspirasionele ervarings.
Die bestaande kompetisie is in 1984 vir die eerste keer as die Dietman Klavierkompetisie aangebied, en 2026 vier 40 jaar nadat dit ter nagedagtenis aan Hennie Joubert se nalatenskap hernoem is.
Deelnemers het die geleentheid gekry om voor ’n beoordelaarspaneel van kenners te speel. Hierdie paneel het name soos Emanuil Ivanov ingesluit: ’n Bulgaarse pianis wat in 2019 die Feruccio Busoni Klavierkompetisie in Italië gewen het en ’n bekende gesig vir Suid-Afrikaanse gehore is. Francois du Toit is ook welbekend aan plaaslike gehore en word erken as een van Suid-Afrika se toonaangewende konsertpianiste en musici waar hy by die Universiteit van Kaapstad as medeprofessor in Klavier en Kamermusiek doseer. Megan-Geoffrey Prins, dosent in klavier aan die Universiteit van Pretoria is in 2019 aangewys as ’n Standard Bank jong kunstenaar van die jaar en op die Mail and Guardian se lys van die 200 mees invloedryke jongmense. Andrew Warburton is ’n wyd erkende solis, begeleier en kamermusikus wat sedert 1987 aan die Universiteit ban KwaZulu-Natal doseer.
Bennie van Eeden het by die paneel aangesluit as ’n stigterslid van die Hennie Joubert Nasionale Kompetisie en word erken as een van Suid-Afrika se top klavierleermeesters en uitvoerders na ’n loopbaan van meer as 30 jaar as dosent aan die Universiteit Stellenbosch se Konservatorium.
Die beoordelaarspaneel se voorsitter (en organiseerder van die kompetisie) was Pieter Grobler, ’n medeprofessor in Klavier aan die Universiteit Stellenbosch waar hy in klavier, kamermusiek en begeleiding doseer.
Die volgende pryse is toegeken:
Hoofpryse:
Hennie Joubert Trofee, Goue medalje, sertifikaat en ’n kontantprys van R25,000: Hermanus Schmidt.
John Roos Silwer medalje, sertifikaat en ’n kontantprys van R15,000: Dylan Price.
Brons medalje, sertifikaat en ’n kontantprys van R10,000 : Aran Singh.
Vierde prys is aan Singran Emilie Yang toegeken met ’n sertifikaat en kontantprys van R6,000.
Vyfde prys is aan Eléna Monvoisin toegeken met ’n sertifikaat en ’n kontantprys van R4,000.
Spesiale pryse:
Die prys vir die beste uitvoering van ’n Bach Prelude en Fuga is aan Dylan Price toegeken (R2,000).
Die Joan de Villiers prys vir die beste uitvoering van ’n Klassieke Sonate is aan Singran Emilie Yang toegeken (R4,000).
Die prys vir die beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse komposisie is aan Weien Amy Luo toegeken (R2,000).
Die prys vir die beste uitvoering van ’n Virtuoso Etude is aan Hermanus Schmidt toegeken (R2,000).
Die André Serfontein-prys vir die mees belowende deelnemer wat nie na die finale rondte deurgedring het nie is aan Damian Philander toegeken (R2000)
Allmusic het ’n bladmusiek prys geborg vir die beste recital in die derde rondte. Dit is aan Hermanus Schmidt toegeken (koopbewys).
Die John Roos-prys vir die beste uitvoerding van ’n Concerto is aan Hermanus Schmidt toegeken (R5,000).

