Die wenner van die 2026 UJ-prys vir Vertaling is pas bekend gemaak. Die prys neem vertalings uit enige brontaal na Afrikaans, IsiZulu en Sesotho sa Leboa wat in 2025 in Suid-Afrika verskyn het, in ag.
Die 2026 UJ-prys vir Vertaling word toegeken aan Wium van Zyl vir sy vertaling Die ongelukkige en treurige verhaal van die skip die Gouden Buys 1693.
Wium van Zyl is ’n bekende akademikus, vroeër verbonde aan die UWK, literêre vertaler en digter. Sy tweede digbundel, Poëme, het onlangs (2025) verskyn. Onder die onlangse vertalings uit sy pen tel Deireplaas (George Orwell) en Duisend-en-een nagte (uit die Nederlands van Kader Abdolah).
Die Nederlandse bronteks is die “17de eeuse teks met die verhaal van ’n VOC-skip uit Enkhuizen wat in St. Helenabaai aan die Kaapse Weskus” strand, soos ingelei en toegelig deur Marieke van Gessel en Andrea Kieskamp. Hierdie boek, Ongeluckig, of droevigh verhaal van ‘t schip de Gouden Buys 1695 – Een Enkhuizer VOC-schip bij zuidelijk Afrika (1995), bied’n fassinerende blik op ’n minder bekende skeepsramp aan ons Suid-Afrikaanse kus. Van Zyl se vertaling ontsluit hierdie verhaal vir die Afrikaanse leserspubliek en vul dit aan met woordverklarings, interessante aantekeninge, historiese kontekstualisering en selfs illustrasies. Die vertaling belig ontmoetings tussen “die Nederlanders en die oorspronklike bewoners van die Kaapse Weskus” opnuut en gee ’n nuwe leserspubliek toegang tot ’n belangrike kultuurhistoriese dokument.
Die lede van die beoordelaarspan was Marius Swart (US), Johanna Steyn (UV) en Karen de Wet (sameroeper).
Lees ook:
Poëme: Op woordreise saam met die digter Wium van Zyl tussen hartland en verre velde


