Persverklaring: Wenner van die Toyota US Woordfeeskortverhaalkompetisie 2023

  • 0

Rina Bester is as algehele wenner van die 2023 Woordfeeskortverhaalkompetisie aangekondig by die bekendstelling van die agtste US Woordfeeskortverhaalbundel in die Hofmeyr-saal in Stellenbosch op 8 Oktober.

Sy wen R30 000 met die komplimente van EasyEquities vir haar storie “Legende van die Suameer”. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000. (Klik hier om te sien wie die ander 23 kortverhaalskrywers is wat vanjaar se bundel gehaal het, en hier om meer oor die Woordfees se kortverhaalprojek te lees.)

“Daar was vanjaar ’n rekordgetal van 374 inskrywings, en dis vir my wonderlik om te kan sê dat die gehalte van die werk elke jaar verbeter – en dit terwyl die bundel sedert die begin van dié projek ’n hoë standaard handhaaf,” sê Suzette Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is. Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart. Oor die wenverhaal sê Myburgh: “Om die oergeskiedenis van die mens uit te beeld, is glad nie maklik nie, maar Rina Bester kry dit skitterend reg. Hierdie aardse én liriese verhaal beskryf ’n Afrika van lank gelede, terwyl dit treffend resoneer met die hedendaagse problematiek van klimaatsverandering.”

Oor die toekenning het ’n oorstelpte Rina Bester gesê: “Ek’s skoon bewerig! Hierdie goed gebeur mos met ander mense, nie met my nie. My heel eerste wen was darem by die Bloemfontein Skrywersvereniging, in 2018, met ‘ ’n Bruid op ’n donkie’. “Ek is van Johannesburg. Ek is ’n ma en was lank huisvrou, en ek het nog nooit gepubliseer nie. Hierdie is nou die volgende trappie om iets groters te probeer skryf. Ek is mal oor kortverhale. Dis móéilik om met min woorde baie te sê.” Sy het ook die AKTV bedank vir dié organisasie se slypskole waaruit sy geweldig baie kon put. “Ek het verlede jaar die ATKV Skryfskool op Potch bygewoon. Ek dink dit was die laaste keer dat hulle op kampus was, by prof. Bernard Odendaal. Dit help baie! En ek het ’n slypskool by prof. Hans du Plessis ook gedoen – watter leermeesters. Jy kan nie beter kry nie. Dit maak ’n verskil.”

Die inspirasie vir haar wenverhaal het sy in Botswana gevind: “Ek het lank terug op Lekhubueiland in Botswana geland en daar gaan kamp. En toe ek op daai rotse staan ... Kyk, dis so stil daar, jy kan jou eie bloed in jou ore hoor pomp. En dis ’n heilige plek. Die hele plek het my verskriklik geroer en ek het mooi foto’s geneem. En toe het ek net besluit ek moet gaan uitvind, want daar moes water gewees het, en daar was ’n meer. Toe’t ek eendag by ’n klein boekwinkeltjie ’n Tswana-kinderboek gekry met die mooiste illustrasies van hierdie groot gees wat ek nou omskep het in my Khoe-ana wat in my storie (‘Legende van die Suameer’) is.”

“Baie geluk aan Rina Bester – ’n skrywer wat ek dink ons nog baie van gaan hoor!” het Carel Nolte, die bemarkingshoof van EasyEquities wat die prys aan haar oorhandig het, gesê. “Die Woordfeeskortverhaalbundelkompetisie bewys jaarliks hoe waardevol die rol van woorde in ons samelewing is. EasyEquities is baie bevoorreg om deel te wees van dié geleentheid en sien uit na die ontdekking van nog vele nuwe stemme in die jare wat voorlê.” Saartjie Botha, die direkteur van die Toyota US Woordfees, het verduidelik hoe dié projek ontstaan het: “ ’n Vorige koördineerder van die Skrywersfees, Madri Victor, het die idee gehad dat ons iets moet saamstel as ’n soort jaarboek om ’n tydsdokument te wees van waaroor mense skryf en wat mense gedink het. Uiteraard is die aanloopproses so sewe maande voor die bundel verskyn, maar ons troos onsself en verskoon onsself dat skrywers oor die algemeen ten minste ’n jaar voor die res van die mense is in terme van wat hulle moet dink en wat aangaan en wat hulle moet antisipeer.”

Sy het bygevoeg dat die bundel vir die fees ’n groot prioriteit bly. “Dis regtig vir ons ’n passieprojek en ’n hartsprojek om hierdie bundel jaarliks uit te gee, want die Woordfees het immers ontstaan as ’n literêre fees. Ons het vanjaar die meeste inskrywings nog ooit gehad, en ons is ook baie dankbaar dat ons vanjaar drie nuwe donateurs en borge het wat die uitgee en die prysgeld moontlik maak: EasyEquities, wat ook die borg van ons skrywersprogram is, PEN Afrikaans, en vir die eerste keer het ons ’n skenking van die L.W. Hiemstra Trust vir die bundel ontvang.” Die 2023 Woordfeeskortverhaalbundel, Borrel, is gedurende die fees (tot en met 15 Oktober) by Die Boektent in Ryneveldstraat, agter die US Museum, te koop.

Lees ook:

Bygewerkte, chronologiese program | Die EasyEquities-skrywersfees | 9–14 Oktober 2023 | Toyota US Woordfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top