
Enrico Hartzenberg speel in Stephren Saayman se klug, Dankie, maar nee dankie! (foto: verskaf)
..........
Die Suidoosterfees wat vanjaar van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad aangebied word, spog met vyf splinternuwe dramas deur jong, opkomende skrywers wat aan die fees se NATi Jong Sterre-ontwikkelingsprojek deelgeneem het. Dié projek, aangebied in samewerking met NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Kunstekaap en die Wes-Kaapse Department van Kultuursake en Sport, sorg elke jaar vir nuwe verhoogdramas wat tydens ’n uitgebreide mentorskapprogram ontwikkel en afgerond is.
............
Die Suidoosterfees wat vanjaar van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad aangebied word, spog met vyf splinternuwe dramas deur jong, opkomende skrywers wat aan die fees se NATi Jong Sterre-ontwikkelingsprojek deelgeneem het. Dié projek, aangebied in samewerking met NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Kunstekaap en die Wes-Kaapse Department van Kultuursake en Sport, sorg elke jaar vir nuwe verhoogdramas wat tydens ’n uitgebreide mentorskapprogram ontwikkel en afgerond is.
In 2022 debuteer die volgende nuwelingskrywers by die fees: Stephren Saayman, Heloïne Armstrong, Melissa Myburgh, Henque Heymans en Jane Mpholo. Produksies deur dié skrywers spreek verskeie temas wat by Suid-Afrikaners byval sal vind, veral oor verhoudings en identiteit, aan.
Stephren Saayman se klug, Dankie, maar nee dankie!, is op die planke met Charlene le Roux, Liandé Valentyn, Chad Abrahams, Meggan Johnstone, Marunzo Thomas en Enrico Hartzenberg in die rolverdeling. Die stuk steek die draak met die idee van wat dit beteken om “perfekte coloureds” in ’n “perfekte Suid-Afrika” te wees. Drie gesinne van ’n verlate dorpie neem deel aan ’n kompetisie wat stereotipes oor bruin mense probeer aanspreek.
Heloïne Armstrong se Maanskyn en dorings is ’n poëtiese dansdrama wat handel oor ’n dogter wat gedwing word om die brokstukke van haar ma se hartseer op te tel. Die drama is geïnspireer deur ware gebeure, en word beskryf as “’n bittersoet verkenning van die realiteite van geestesongesteldheid, vrouwees en menswees”. Jill Levenberg en Lynette du Plessis speel daarin.
Met liefde, Vincent deur Melissa Myburgh gaan oor ’n kunstenaar wat die handdoek wil ingooi omdat niemand sy werk wil koop nie – totdat Vincent van Gogh aan hom verskyn. Karli Heine en Ben Albertyn is te sien in dié absurde tragikomedie waarin die stereotipe van die “lydende kunstenaar” kafgedraf word.
Henque Heymans se Oom Bey, my pa fokus op die verhouding tussen Beyers Naudé, een van die grootste Afrikaner-helde van die vryheidstryd, en sy dogter Liesel. Ira Blanckenberg en Robert Hindley, wat groot naam vir homself in Valsrivier gemaak het, speel in dié drama. Die dilemma waarmee Beyers Naudé gestoei het, naamlik of hy gehoorsaam aan God of aan sy mense moes wees, vorm die agtergrond waarteen gebeure afspeel.
Jane Mpholo se The Dawn is ’n interdissiplinêre teaterproduksie wat deur die oë van ’n jong meisie fokus op geslagsgebaseerde geweld. Gewortel in ’n geesteswêreld en aangedryf deur die verhouding met haar voorouers, onderneem die meisie ’n reis na genesing. Dié drama, met Jane Mpholo, Boitumelo Mohutsioa, John Paka, Nomathemba Magobodi en Tsepo Bondo, ontplooi in poësie, musiek en fisieke teater.
Al vyf dramaturge het onder die mentorskap van Abduragman Adams vir drie weke lank in Somerset-Oos in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis gebly om aan die produksies te werk.
Kaartjies vir die NATi Jong Sterre-produksies kos R100 en kan by Computicket bespreek word. Die volledige Suidoosterfeesprogram is op www.suidoosterfees.co.za beskikbaar. Belangstellendes wat die program per e-pos wil ontvang en op hoogte van feesnuus wil bly, is welkom om e-pos te stuur na suidoosterfees@media24.com.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Department van Sport, Kuns en Kultuur, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.

