Vyf aspirant-dramaturge is gekeur om deel te neem aan NATi Jong Sterre, die ontwikkelingsprojek wat jaarliks deur Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting, Artscape en die Afrikaanse Nasionale Teaterinisiatief (NATi) aangebied word. Dié jong stemme deurloop ’n uitgebreide opleidingsprogram waartydens hulle skryfwerk ontwikkel en afgerond word. Die verhoogtekste word dan omskep in professionele produksies wat in 2024 by die 21ste Suidoosterfees gaan debuteer.
Die vyf kandidate wat uit byna 50 aansoeke deur ’n paneel kundiges gekeur is, is Geralt Cloete, Miliswa Mbandazayo, Miché van Wyk, Cara Rossouw en Mikayla Joy Brown. Almal het tersiêre drama-opleiding agter die blad, en die Jong Sterre-projek gee hulle ’n gulde geleentheid om ’n professionele voet in die deur te kry.
Geralt Cloete het ’n meestersgraad in drama aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal, en hy het al ’n SAFTA-toekenning ontvang vir die werk wat hy as stilis en kostumeerder vir ’n TV-komedie gedoen het.
As teatermaker het Miliswa Mbandazayo in 2021 aan die Universiteit van Kaapstad gegradueer. Sy is ’n skrywer en aktrise, en was assistent-verhoogbestuurder van Die Sewe Doodsondes wat verlede jaar by die Toyota US Woordfees opgevoer is. Miliswa het ook as verhoogbestuurder saam met die geselskap van Black Girl Live 2021 deur Spanje en Frankryk getoer.
Miché van Wyk was vanjaar op die Suidoosterfeesverhoog in die drama Jantjies and the Pearls. Haar vertolking van Ruth Jantjies het twee prysbenoemings meegebring. In 2022 is sy tydens die Première Toneelfees op Stellenbosch as beste aktrise genomineer, en vanjaar het sy ’n Fleur du Cap-nominasie as belowendste student ontvang. Miché het ’n honneursgraad in kabaret by Maties verwerf.
Cara Rossouw het ook ’n honneursgraad in kabaret op haar kerfstok. Verskeie kabaretproduksies het sedert 2021 uit haar pen verskyn en is onder regie van teatermakers soos Nicole Holm, Petrus du Preez en Frieda van den Heever opgevoer. Sy het aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch gematrikuleer.
Mikayla Joy Brown het grade in drama en kreatiewe skryfwerk, en was verantwoordelik vir die teks van Jantjies and the Pearls waarin Miché van Wyk gespeel het. Mikayla het vanjaar met die Fleur du Cap as belowendste student weggestap. In 2021 is sy as beste ondersteunende aktrise by die Première Toneelfees aangewys.
Dié groep talentvolle jongelinge sal binnekort ’n skrywersverblyf van drie weke in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos bywoon. Die aktrise Lee-Ann van Rooi, wat gehore vroeër vanjaar by die Suidoosterfees gaande gehad het met haar spel in The Woman Who Fed the Dogs, sal as teksmentor optree. Sodra die tekste blink geslyp is, sal Rafiek Mammon die proses om dit as volwaardige verhoogproduksies, gereed vir Suidoosterfees 2024, deursien.
Sedert die NATi Jong Sterre-inisiatief in 2019 in die lewe geroep is, het nuwelinge soos Kanya Viljoen, Herschelle Benjamin, Stephren Saayman en Melissa Myburgh gehore reg oor die land beïndruk met die werk wat hulle tot stand gebring het.