
Die VKV se bestuurslede en rolspelers wat die gala-aand moontlik gemaak het. (Foto: Gerrit Rossouw)
Die Vrystaatse Kunswedstrydvereniging (VKV) het op 13 Augustus sy 100-jarige bestaan met ’n glansryke gala-aand in die Odeion-saal van die Universiteit van die Vrystaat gevier. Die aand was ’n viering van ’n eeu van mense, musiek, voordrag, dans, drama en stories wat oor geslagte heen ’n belangrike rol in die ontwikkeling van jong talent in die Vrystaat gespeel het.
Die FAK was die trotse borg van dié eeufeesviering. Die geleentheid het ook betekenisvol saamgeval met die viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus – ’n gepaste geleentheid om stil te staan by die rol wat taal, kultuur en die kunste speel in die vorming van jong mense en die oordrag van ’n lewende kultuurerfenis aan toekomstige geslagte.
Lieandri Ackermann, kultuurkoördineerder van die FAK-Sentraalstreek, sê die gehalte van die jong kunstenaars se optredes was besonder indrukwekkend.
“Daar is ongelooflik baie talent in die Vrystaat. Wanneer ’n mens hierdie kinders op die verhoog sien sing, musiek maak, voordra, dans en toneel speel, besef jy daar is hoop vir Afrikaans, vir Suid-Afrika en vir die toekoms. Hierdie jongmense wys dat talent, harde werk en ’n liefde vir die kunste steeds sterk leef,” vertel sy.
Die program het die merkwaardige verskeidenheid van die VKV se kunswedstryde weerspieël. Jong deelnemers het ’n uiteenlopende repertoire aangebied wat klassieke musiek, ligte musiek, voordrag en drama ingesluit het. Optredes deur skole en jong kunstenaars het die aand verder verryk, met items soos Kerkorrel Onthou, Afrikaritme, Ma se Huis en How Great Thou Art.
Die gehoor is ook getrakteer met die virtuositeit van Charl du Plessis, wat ’n gehoorimprovisasie aangebied en later saam met Corneil Müller Hymne à l'amour uitgevoer het. Die program was ’n treffende bewys van die omvang van talent wat die VKV oor die afgelope honderd jaar ontdek, ontwikkel en op die planke gebring het.
Die aand is deur Barend Kriel, wat ook op die bestuur van die VKV dien, as seremoniemeester gelei. Benewens die optredes is spesiale toekennings aan besonderse persone oorhandig vir hul jarelange en onbaatsugtige bydraes tot die kunswedstryd. Die ontvangers is vereer vir hul werk op die gebied van voordrag en toneel, ligte musiek en klassieke musiek, asook vir die rol wat hulle deur die jare gespeel het in die beoordeling, opleiding en ontwikkeling van jong kunstenaars.
In die gees van Afrikaanse Taaldag is die feestelike eeufeesatmosfeer verder beklemtoon deur ’n keur van bekende Afrikaanse geure. Gaste kon ’n verskeidenheid wyne geniet, asook biltongkoekies, souttertjies, frikkadelletjies, samoosas en kaasworsies. Gemmerbier, sjerrie, Amarula, melktert en koeksisters het die viering afgerond.
“Dit is vir die FAK ’n voorreg om deel te wees van ’n organisasie se eeufees wat reeds ’n honderd jaar lank geleenthede vir jongmense skep om hul stemme, stories en talente te ontdek. Die VKV se eerste honderd jaar is ’n indrukwekkende prestasie – maar die jong gesigte op die Odeion-verhoog het gewys dat die volgende honderd jaar reeds besig is om hul eie verhaal te begin skryf. Die ondersteuning van die gala-aand bevestig die FAK se verbintenis tot die bevordering van uitnemende uitvoerende kunste,” sê Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek.


Kommentaar
Pragtig, indrukwekkend en volhoubaar. Baie geluk aan bestuur, beoordelaars en deelnemers. Doen so voort