Persverklaring: Vier van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskipdramas op VIA te sien

  • 0

Foto van ’n toneel uit Asem: verskaf

VIA is opgewonde om vir die eerste keer vier van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskip-dramas op die kanaal uit te saai.

Vier van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se vlagskip-dramas is in Desember 2021 en Januarie 2022 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.

Hierdie vier teaterstukke wat onlangs op film vasgevang is, sluit drie Suid-Afrikaanse werke en ’n vertaalde Vlaamse teks in: Rachelle Greeff se ikoniese Die Naaimasjien, Philip Rademeyer se Opdrifsel, Tom Lanoye se Koningin Lear (vertaal deur Antjie Krog) en Reza de Wet se Asem (vertaal deur Marthinus Basson).

“VIA bied met hierdie speelvak op televisie ’n besonderse geleentheid aan teaterliefhebbers om veelvuldig-bekroonde KKNK-dramas in die gemak van hul eie huise te geniet, waarin van die room van Afrikaanse teaterlui te sien is. Elk van die produksies is verfilm om aan kykers ’n besonderse teaterervaring op die skerm te bied,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Izelle Venter, kanaalhoof van Media24 TV is opgewonde: “Dankie aan die KKNK en teatermakers wat hul werk op VIA kom deel. Dis vir my opwindend dat hierdie trefferstukke nou ook vir groter gehore beskikbaar is. Of jy Shakespeare, braai of maatsoek in Afrikaans – VIA staan reg.”

Sandra Prinsloo skitter in die eenvroustuk Die Naaimasjien. Dit is die verhaal van Magdaleen wat in haar ouetehuiskamer sit en besig is om elke deeltjie van haar naaimasjien skoon te maak, want sy het hom verkoop en die vrou op die foon het gesê sy is drie-uur vanmiddag hier om dit op te laai. Met deernis en humor vat Magdaleen ons terug na ’n tyd van melkaflewerings, sykouse met nate, moerkoffie en melkskeiers. En sy herinner ons aan hoe ’n ma – soos ’n baboeshka-poppie – binne-in elkeen van haar kinders staan.

Opdrifsel sou in 2020 by die KKNK op Oudtshoorn debuteer, maar dit kon weens die Covid-19-pandemie nie gebeur nie,” vertel Theart. “Die filmweergawe is in 2021 opgeneem voordat dit nog voor ’n gehoor kon speel. Die produksie kon wel daarna by Aardklop voor ’n gehoor debuteer.” Rademeyer het in 2020 die ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks ontvang en Tinarie van Wyk Loots is deur Aardklop as beste aktrise vir haar spel in dié drama aangewys.

Van Wyk Loots en Brendon Daniels is te sien in dié verhaal van ’n egpaar wat hul enigste kind aan die dood afstaan. Hulle moet hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor, en weer vind. Marguerite Robinson van Netwerk24 skryf: “Ja, ontvlug is goed, ontvlug is nodig. Maar in ongekende tye is daar veral ook plek vir verhale wat ’n skrefie oopmaak na dit wat jy jou nie kan indink nie. En so kry jy ’n belewenis van oomblikke van menswees wat jou lank gaan bybly.”

Koningin Lear is in 2019 opgevoer ter viering van die KKNK se 25ste bestaansjaar. Die produksie het daarna verskeie speelvakke gehad en die geselskap en produksie is met verskeie pryse bekroon, waaronder ’n kykNET Fiësta- en Kanna-prys vir Antjie Krog se meesterlike vertaling van die teks,” brei Theart uit.

Hierdie herverbeelding van William Shakespeare se King Lear deur die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye, bring die room van Suid-Afrikaanse akteurs byeen om dié kragtige verhaal na die plaaslike verhoog en nou ook na film te bring. Dit is ’n storie oor familie, mag en ’n wêreld wat op sy kop gedraai is. Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, André Roothman, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman is in die produksie te sien, met regie en ontwerp deur Marthinus Basson.

Theart vertel verder dat die filmweergawe van die bekroonde 2017-teaterproduksie Asem, ’n unieke ervaring is. “In plaas daarvan om dit op die verhoog te skiet, is die produksie in ’n plaasstal by die Worcester Museum verfilm. Die kyker word deur besonderse kamerawerk binne die storie geplaas – dit beloof om ’n uitsonderlike ervaring vir die kyker te wees.”

Met Asem verweef De Wet digterlik en kragtig ’n verhaal van liefde in ’n tyd van vernietiging, wat die alledaagse omskep in die uitsonderlike. De Wet is nege jaar gelede op 27 Januarie 2012 oorlede. Hierdie is ’n huldigingsproduksie aan een van Suid-Afrika se belangrikste en mees invloedryke toneelskrywers, met Kellermann, Van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt in die rolverdeling.

Die skedule vir dié vier produksies word hieronder aangedui.

  • Die Naaimasjien: 25 Desember 20:00. Geen heruitsendings.
  • Asem: 26 Desember 21:00, met heruitsendings op 3 Januarie 21:00 en 6 Januarie 21:00.
  • Koningin Lear: 1 Januarie 21:00, met heruitsendings op 5 Januarie 21:00 en 8 Januarie 21:00.
  • Opdrifsel: 2 Januarie 21:00, met heruitsendings op 4 Januarie 21:00 en 7 Januarie 21:00.

Besoek www.kknk.co.za vir meer inligting oor dié teaterproduksies.

Lees bladsy een van die persverklaring hier.

Lees bladsy twee van die persverklaring hier.

Lees ook:

Rachel’s Angels on VIA: Be inspired

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top