Persverklaring: Vier kannas vir plekspesifieke teater by KKNK

  • 0

Nicola Hanekom (Natalie Gabriels Photography)

Hertzog-pryswenner Nicola Hanekom se jongste plekspesifieke drama is Donderdag 14 Mei met vier Kannas bekroon.

Uitnemendheid by die KKNK, geborg deur Absa, word jaarliks met Kannas beloon en vanjaar se glansgeleentheid is by Leopard’s Leap in Franschhoek aangebied. Nina Swart was die aanbieder, met vermaak deur die Papier Family Band.

Die wenners. (Natalie Gabriels Photography)

Die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is van 28 Maart tot 4 April op Oudtshoorn aangebied, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.

Hanekom se Die gebed van ’n halfmens wat by die KKNK gedebuteer het, is met vier pryse bekroon: beste debuutwerk: toneel, beste aanbieding: toneel, beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir Hanekom en Elana-Marié Snyman se tegniese versorging en Brendon Daniels as beste manlike speler in ’n ondersteunende rol.

Atropa: Die wraak van vrede, ’n drama deur Tom Lanoye wat in Afrikaans by die KKNK gedebuteer het, is met twee Kannas bekroon. Lanoye met die Kanna vir uitnemende literêre bydrae vir sy vertaling van die teks en Anna-Mart van der Merwe as beste vroulike speler in ’n hoofrol.

Andrew Buckland is bekroon as beste manlike speler in ’n hoofrol vir sy spel in The Fool’s Guide. Daneel van der Walt is bekroon as beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol vir haar spel in ge-gebergtes. Marthinus Basson ontvang die Kanna vir beste regie vir Boklied. Garage Dance Ensemble se plekspesifieke dansteater-produksie GAT is bekroon as beste ensemble.  

Amanda Strydom en Je-Ani Swiegelaar se Tillie / Mathilda is bekroon as beste debuutwerk: musiek, terwyl Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective die Kanna vir beste aanbieding: kontemporêre musiek ontvang het. Danie Marais se Ek is nie Danie ontvang die Kanna vir beste aanbieding: Musiekteater.

Beste van alle tye met Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk is bekroon as beste aanbieding: komedie. Badtyd met Eldon van der Merwe het die Kanna vir beste aanbieding: Blitsteater – ’n aanbod van kort teaterstukke van 20 minute elk – ontvang.

PLEK / PLACE: ’n Geografiese of emosionele ruimte deur kurator Liza Grobler, is bekroon as beste aanbieding: visuele kuns.

Zip Zap Circus se MOYA is deur die kinderpaneel aangewys as beste aanbieding: kindervermaak en Heinrich Wentzel is bekroon as beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy spel in Akrasia.  

Hans van der Veen ontvang die spesiale Kanna vir diens aan die KKNK, met die spesiale Kannapaneel-prys wat aan die tegniese personeel vir hul uitsonderlike oorkoepelende versorging en gehalte tegniese diens by die 30ste KKNK toegeken is. Ingrid Blumer ontvang die Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK.

Elke wenner het ’n spesiale kunswerk deur Chris Buchner van Calitzdorp ontvang. Kanna-pryse is geborg deur Absa, die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, ATKV, Wes-Kaapse regering, Castle Lager, Dotsure, Glenwood Travel, Rauten Trust, Ton & Anet Vosloo, Crispin & Lisa Sonn, Franklin & Joan Sonn, asook Wicus Pretorius.

Die onafhanklike Kannapaneel vir KKNK 2026 was Naudé van der Merwe (sameroeper), Nolan Africa, Amelda Brand, Felicia Lesch, Wayne Muller, Ilza Roggeband, Tracey Saunders en Fahiem Stellenboom. Op die kinderpaneel was 25 kinders tussen die ouderdomme van 6  en 13 jaar vanuit die breë Oudtshoorn-gemeenskap. Die Kannapaneel is ondersteun deur Haddad Viljoen, Marguerite Robinson en Diane de Beer, wat die Kanna vir beste bydrae tot visuele kuns beoordeel het. Die proses van nominasies en wenners is oorsien deur die ouditeursfirma Acker & Malony.

Volgende jaar vind die KKNK op Oudtshoorn plaas van Dinsdag 23 tot Saterdag 27 Maart. Programaansoeke vir dié fees kan vanaf 1 Junie 2026 aanlyn ingedien word by kknk.co.za.

Die volledige lys wenners is:

Beste aanbieding: komedie, geborg deur Checkers

Beste van alle tye

Beste aanbieding: toneel, geborg deur die Het Jan Marais Nationale Fonds

Die gebed van ’n halfmens

Beste aanbieding: musiekteater, geborg deur die Het Jan Marais Nationale Fonds

Ek is nie Danie

Beste debuutwerk: musiek, geborg deur Dotsure

Amanda Strydom en Je-Ani Swiegelaar: Tillie / Mathilda

Beste debuutwerk: toneel, geborg deur die ATKV

Die gebed van ’n halfmens

Beste aanbieding: kontemporêre musiek, geborg deur Castle Lager

Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective

Beste aanbieding: Blitsteater, geborg deur Glenwood Travel

Badtyd

Uitnemende literêre bydrae (nuutgeskepte teks, samestelling of vertaling), geborg deur NATi

Tom Lanoye vir die vertaling van Atropa: Die wraak van vrede

Beste ensemble, geborg deur Wicus Pretorius

GAT

Beste regie, geborg deur NATi

Marthinus Basson (Boklied)

Beste vroulike speler in ’n hoofrol, geborg deur Franklin & Joan Sonn

Anna-Mart van der Merwe (Atropa: Die wraak van vrede)

Beste manlike speler in ’n hoofrol, geborg deur Crispin & Lisa Sonn

Andrew Buckland (The Fool’s Guide)

Beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol, geborg deur Netwerk24

Daneel van der Walt (ge-gebergtes)

Beste manlike speler in ’n ondersteunende rol, geborg deur Netwerk24

Brendon Daniels (Die gebed van ’n halfmens)

Beste ontwerp en/of tegniese bydrae, geborg deur die Rauten Trust

Nicola Hanekom en Elana-Marié Snyman vir die ontwerp en tegniese versorging van Die gebed van ’n halfmens

Beste aanbieding: visuele kuns, geborg deur Absa

PLEK / PLACE: ’n Geografiese of emosionele ruimte – Liza Grobler (kurator)

Beste aanbieding: kindervermaak, geborg deur die ATKV

Zip Zap Circus: MOYA

Beste opkomende kunstenaar of nuweling, geborg deur Ton en Anet Vosloo                        

Heinrich Wentzel – spel in Akrasia    

Spesiale Kannapaneel-prys

Die tegniese personeel vir hul uitsonderlike oorkoepelende versorging en gehalte tegniese diens by die 30ste KKNK

Spesiale Kanna vir diens aan die KKNK

Hans van der Veen

Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK, geborg deur die Wes-Kaapse regering  

Ingrid Blumer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top