Persverklaring van SBA se eerste eboek: Die leefwyse van ons Vroeë Mense deur Rachelle Greeff

  • 2

SBA se eerste eboek deur bekroonde Rachelle Greeff na die boekbekendstelling op 9 Augustus gratis beskikbaar op www.sbafrikaans.co.za

........

Die samestelling van die boek is ’n uitvloeisel van die Storiesprojek van die SBA wat die missie het om te verseker dat gemeenskapstories uit die verlede nooit vergeet word nie. Dit bestaan uit 13 episodes verteenwoordigend van die lewenswyses en wedervaringe van verskillende Afrikaansgebruikers vanuit diverse streke en kulture binne die Suid-Afrikaanse landskap, onder leiding van SBA-voorsitter Sandra Prinsloo. As deel van die 13 episodes is ook die verhale van ander Vroeë Mense van Suid-Afrika opgeneem, onder andere die Namas, Korana-volk en Griekwas.

........

Met die SBA se nuutste publikasie, Die leefwyse van ons Vroeë Mense deur Rachelle Greeff, wil dié organisasie vanjaar op Internasionale Inheemse Mensedag erkenning gee aan die invloed en erfenis van maar slegs een groepering van ons Vroeë Mense in Suid-Afrika – die Strandlopers. Deur die wortels van Afrikaans in al haar vorme in die kalklig te plaas, streef die SBA daarna om die volle spektrum van sprekers te erken en taalerfenis op dié wyse uit te bou.

Die leefwyse van ons Vroeë Mense nooi die leser om agter die Strandlopers van die Kaapse Skiereiland aan te stap om te sien hoe vernuftig hulle aan die Kaap van Storms oorleef het. Hulle het medisyne uit die veld geoes en was ons eerste veldkos-oesinsamelaars. Die huidige kulinêre mode van jou kos uit die veld gaan snuffel (“foraging”) het hulle toentertyd tot ’n fyn oorlewingskuns in wind en weer ontwikkel.

Omdat die Strandlopers nie self vee gehad het nie – anders as die destydse drie Khoi-stamme van die Skiereiland – was seekos hulle vernaamste bron van proteïen. Hulle kennis van getye, hemelliggame en natuurverskynsels was klaarblyklik uitmuntend.

Anders as die San, wat nader aan die binneland gewoon het, het die Khoi-Strandlopers nie rotstekeninge nagelaat nie. Ook het hulle orale tradisie grootliks verlore gegaan. Sestig jaar ná die koms van die Nederlandse setlaars in 1652 was van hulle lewenswyse min oor.

Een van die min oorgeblewe Skiereilandse Khoi-legendes begin in ’n vlei in die Kaapse Vlakte nie ver van Muizenberg-strand nie. Dit versinnebeeld Europese uitbuiting van die Vroeë Mense, maar is terselfdertyd ’n viering van die mens se vermoë om heling en skuiling in die natuur te vind.

Dit maak sin dat een van Suid-Afrika se vernaamste argeologiese vondse uit ’n grot in die sandsteen-bergrif bo Vishoek kom. Uitgrawings uit hierdie grot, Peers Cave, soos die die inhoud van skulphope (“middens’’), spreek boekdele. Trouens, in die laat-twintigerjare het argeoloë van oor die wêreld op Vishoek toegesak om met hulle eie oë te sien wat dié grot gelewer het.

Peers Cave, soos die strand Witsand tussen Scarborough en Kommetjie, was vir die Vroeë Mense heilige ruimtes.  ’n Groep inwoners van Scarborough besoek dié plekke weer gereeld vir bepaalde rites in hulle strewe om hulle Strandloper-nalatenskap te koester en te laat herleef sover dit moontlik is.

Dit was ook Strandlopers, dié in die omtrek van Milnerton-strand, wat voor die koms van Jan van Riebeeck tot die vormgewing van Afrikaans, soos ons dit vandag praat, bygedra het.

Zenobia Kloppers sal binnekort die boek oor KC Radio voorlees en dan as luisterboek op gemelde webtuiste einde Augustus beskikbaar wees.

Die samestelling van die boek is ’n uitvloeisel van die Storiesprojek van die SBA wat die missie het om te verseker dat gemeenskapstories uit die verlede nooit vergeet word nie. Dit bestaan uit 13 episodes verteenwoordigend van die lewenswyses en wedervaringe van verskillende Afrikaansgebruikers vanuit diverse streke en kulture binne die Suid-Afrikaanse landskap, onder leiding van SBA-voorsitter Sandra Prinsloo. As deel van die 13 episodes is ook die verhale van ander Vroeë Mense van Suid-Afrika opgeneem, onder andere die Namas, Korana-volk en Griekwas.

Kom sluit by ons aan op Maandag 9 Augustus om 10:00 vir die regstreekse virtuele bekendstelling van Die leefwyse van ons Vroeë Mense waartydens joernalis Ivor Price in gesprek tree met die skrywer Rachelle Greeff. Die spesifieke datum merk ook die SBA se eerste viering van Internasionale Inheemse Mensedag. Belangstellendes kan inskakel op die SBA se Facebook-bladsy of deel wees van die uitsending op YouTube by Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.

  • 2

Kommentaar

  • Weereens 'n impakvolle fokus op die diverse aard van die geskiedenis van Afrikaans. Hoop alle Afrikaanses wat belangstel sal kan inskakel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top