
A Night at the Piano: Gerhard Joubert en Brathew van Schalkwyk, gesamentlike wenners van die 2023 Unisa Nasionale Klavierkompetisie, deel die program.
’n Unieke en opwindende konsert wag op liefhebbers van goeie klaviermusiek in die Endlersaal in Stellenbosch op 10 Mei: Gerhard Joubert (klassiek) en Brathew van Schalkwyk (jazz), gesamentlike wenners van die 2023 Unisa Nasionale Klavierkompetisie, deel die program.
Liza Joubert het met hulle gesels.
Wat is die rede vir jul programkeuses?
GJ: My ses stukke het almal Franse beskrywende titels, van Rameau se "Les tendres plaintes" (“Teer klagtes”) en "Le rappel des oiseaux" ("Geroep van die voëls") tot Debussy se "L'isle joyeuse" (“Die vrolike eiland”). Daar is ook ’n Impromptu van Schubert, ’n Nocturne van Faure (wie se honderdjarige sterfgedenkjaar dit is), die Barcarolle van Chopin, en die Berceuse van Arnold van Wyk (wie se laaste klavierkomposisie dit was). Ek het my liefde vir Faure opgedoen nadat ek sy musiek begin ontleed het na aanleiding van my teorieklasse by Hendrik Hofmeyr. Ook het ek baie Arnold van Wyk gehoor as kind, omdat my ma baie sy musiek gespeel het – ek onthou veral hoe sy die grootse “Nagmusiek” geoefen het. Ek speel ook graag sy stukke vir klavierduet.
BvS: Ek deel hierdie program met ’n klassieke pianis, en het baie respek en waardering vir die klassieke komponiste wat so gedetailleerd gewerk het. Daarom het ek my program saamgestel met jazzkomponiste wat almal bekend is as uitstekende pianiste! Vier van my ses werke is deur Suid-Afrikaanse komponiste. Abdullah Ibrahim wat vanjaar 90 word, is natuurlik ’n ikoon, en ek het die voorreg gehad om hom na sy onlangse konsert in die Kaapstadse Stadsaal te ontmoet. Wat ’n eer! Ek speel sy “District 6”. Dan is daar ook werke van my twee inspirerende mentors, Nduduzo Makhathini (“Emkhathini”) en Bokani Dyer (“Hope spring”), op die program. Een van my eie stukke, “Miss Tried’n”, is die middelste deel van ’n suite. En dan is daar “Lush life” van Billy Strayhorn asook “Nascimento” van Barry Harris – beide legendariese jazzpianiste en -komponiste.
Hoe ken julle mekaar?
GJ: Nog voordat ons in die Unisa-kompetisie gespeel het, het ons mekaar leer ken deur baie laat aande by die College [South African College of Music by UCT] te filosofeer oor musiek en komponiste!
BvS: Absoluut! En toe ons saam begin voorberei het vir die Unisa-kompetisie, het ons mekaar nog meer gevind. Ons deel beslis ’n liefde vir musiek, en is deel van ’n wyer vriendekring van jong pianiste.
Hoekom moet mense na hierdie konsert kom luister?
GJ: Omdat hulle dit baie sal geniet! Dis ook ’n geleentheid vir mense om hul musiekhorisonne te verbreed en jong kunstenaars te ondersteun.
BvS: Musiek gaan vir my oor die gemeenskap, oor mense, oor die deel van jou talent, oor die liefde vir musiek ... dis veral vir my belangrik om die musiek van wonderlike, maar dalk in Suid-Afrika minder bekende, name te speel en te ondersteun.
Enige toekomsplanne?
GJ: Ek gaan binnekort op reis na Europa met die oog daarop om volgende jaar verder daar te gaan studeer.
BvS: My debuut-album word later vanjaar uitgereik!
Kaartjies vir A Night at the Piano is te koop op Webtickets.
Kommentaar
Lisa het vir my die onderhoud aangestuur.
Ken Gerhard al van sy hoërskooldae en sy deelname aan die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod. Nou is hy 'n konsertpianis van formaat!
Ook aan die jong jazzpianis: baie sterkte! 🎹🎹🎼🎼🎶🎵❤❤❤