
Repetisies vir die Voluit Openingskonsert by die 30ste KKNK het verlede naweek, onder leiding van bekroonde musiekregisseur Janine Neethling, op Oudtshoorn afgeskop. © Hans van der Veen
*
Oudtshoorn-kunstenaars het verlede naweek, onder leiding van bekroonde musiekregisseur Janine Neethling, met repetisies vir die KKNK se Voluit Openingskonsert afgeskop.
Hierdie konsert word Saterdag 28 Maart om 20:00 in die Feesmark aangebied. Kunstenaars wat op Vrydag 20 en Saterdag 21 Februarie deel van die repetisies was, was onder andere Tino, Noemwoord, Frederico Fortuin, Bianca Hendricks, skoolkore van Langenhoven Gimnasium, Hoërskool Oudtshoorn, Van Reede, Fezekile Secondary School en Calitzdorp se Kalliklip Vastrappers.
Drie dekades van kunste, kultuur en onvergeetlike oomblikke by die KKNK word met dié konsert gevier – ’n skouspelagtige huldeblyk aan 30 jaar van die KKNK op Oudtshoorn en die perfekte afskop vir dié fees! Hierdie spesiale opelugkonsert neem die gehoor op ’n nostalgiese reis deur die fees se ryk geskiedenis, maar kyk ook voluit vorentoe.
Neethling, musiekregisseur vir die openingskonsert, sê dit was uit die staanspoor belangrik om twee aspekte met dié konsert te vereer. “Eerstens, Oudtshoorn en die distrik – om dankie te sê vir die KKNK se tuiste die afgelope 30 jaar. Tweedens, om die kunste in verskeie vorms ten toon te stel. Dit is beslis nie net ’n musiekkonsert nie, daar is dans, bewegingsteater, poësie, uittreksels uit toneelstukke én nuutgeskrewe teks deur die bekroonde regisseur Nico Scheepers.
“Ek het die afgelope naweek oor twee dae die voorreg gehad om met vier skoolkore, agtergrondsangers, die Kalliklip Vastrappers, Tino en Noemwoord te werk. Dit was epies! Daar is hard gewerk met geweldige passie en energie, maar daar is ook nuwe bande gesmee en herinneringe geskep.
“Om ’n konsert soos hierdie aan te bied is ’n spansport en dit was werklik ’n fenomenale span mense wat saamgewerk het in die Absa Burgersentrum. Koorleiers en hulle begeleiers het bankvas agter my gestaan en my gehelp om my beste te kan bring, sodat ons ’n konsert kan bou wat in elke deelnemer se hart gaan bly en waarop hulle trots kan wees om by betrokke te wees.”
Neethling wil nie té veel weggee nie, maar sonder ’n paar ongelooflike hoogtepunte uit. “Die lys is lank, maar feesgangers kan onder andere uitsien na: ‘Geel (Julie)’ en ‘Bittermaan’ deur Langenhoven Gimnasium se koor, Danie Reënwolf du Toit en Coenie de Villiers; ‘Leka Djy’ met die Ad Astra Hoërskool Oudtshoorn-koor, Noemwoord en Early B; ‘Bicycle sonder slot’ met Van Reede se skoolkoor, Tino en Lynelle Kenned; ‘Ben Ten’ met Early B en Sandra Prinsloo; ‘Slippers van satyn’ met Amanda Strydom en Frank Opperman; ‘Thixo Onothando’ met Fezekile Secondary School se koor en ’n verrassingsakteur, asook ‘Karoonag’ met al vier skoolkore en Coenie de Villiers.
“Hierdie lys sluit nie verskynings en optredes deur onder andere Antjie Krog, Zaan Sonnekus, die Papier Family Band, Dean John Smith, Tasché, Dawid Minnaar, Nicole Holm, Albert Pretorius, Figure of 8 Dance Theatre, of my fenomenale span musikante in nie. Ons maak herinneringe. Saam. En daarop is ek trots en voor dankbaar.”
“Ons het tydens ons repetisies die afgelope twee dae video’s gemaak en vir van die ander soliste gestuur. Almal is geweldig opgewonde om Oudtshoorn toe te kom en saam te werk – dit is regtig vir ons almal lekker en betekenisvol”, sluit Neethling af.
Tino sê dit was vir hom ’n ongelooflike voorreg en inspirasie om saam met Neethling en soveel talentvolle kunstenaars te werk. “Die twee dae se repetisies was intens, maar ook baie opbouend. Daar is ’n besondere energie wanneer mense wat regtig passievol is oor hul kuns bymekaarkom en jy voel hoe almal mekaar dra en motiveer.”
Hy sê wat die meeste vir hom uitgestaan het, was die gevoel van eenheid: “Hoe ’n koor, musikante en kunstenaars wat dalk van verskillende agtergronde kom, saam een storie begin vorm. Daar was oomblikke in die repetisies waar jy sommer hoendervleis kry, omdat jy besef jy is deel van iets groter as jouself. Die openingskonsert gaan besonders wees, omdat dit nie net ’n vertoning is nie, maar ’n viering van ons kuns, kultuur en stories. Dis beslis ’n moet-sien omdat dit die toon gaan aangee vir die hele fees en wys hoe ryk en lewendig ons kreatiewe Klein Karoo-wêreld is.”
Retha van Zyl, koorleier van Langenhoven Gimnasium, sê Neethling was uitsonderlik. “Sy het presies geweet wat sy wil hê en almal gemaklik laat voel om die musiek so vinnig as moontlik te leer. Dit was lekker dat daar só baie kunstenaars uit ons omgewing gebruik word om hierdie program saam te stel. Die openingskonsert is ’n baie goeie samevatting van alles wat voorlê by die KKNK, want daar is iets vir almal. Ek dink hierdie is een van die beste openingskonserte wat die KKNK nog aangebied het – ’n moet-sien in elke opsig.”
Ayakha Ntamnani, koorleier van die Fezekile Secondary School, sê hulle het die afgelope naweek ’n wonderlike ervaring gehad. “Ek was nog nooit vantevore by iets soos hierdie betrokke nie. Janine is ’n wonderlike mens, en sy vang die gees van die konsert vas in die wyse waarop sy met ons koorlede werk. Al die ander kunstenaars is briljant. Feesgangers moet beslis nie die openingskonsert misloop nie, want dit gaan ’n wonderlike en epiese konsert wees, waar verskillende kulture saamkom om die gees van die KKNK vas te vang.”
Lize Terblanche, koordirigent van Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor, sê dit was vir hulle ekstra spesiaal om vir die eerste keer saam met Oudtshoorniet Noemwoord, aan Early B se ‘Leka Djy’ vir die openingskonsert te werk. “Ons kinders straal en is baie bewus van hierdie ongelooflike voorreg en eens-in-’n-leeftyd ervaring.”
Kyla Delport, koorleier van Van Reede se kamerkoor, sê Neethling se aandag in elke detail, was inspirerend vir die koorleiers. “Dit is ’n voorreg vir ons koor om saam met Janine en die ander kunstenaars te werk. ’n Mens kon die opwinding in hulle oë sien. Dit was merkwaardig hoe die verskillende skole se leerders byeenkom vir ’n gesamentlike doel. Die Voluit Openingskonsert is vir ons ook ’n eens-in-’n-leeftyd optrede, waar nasionaal-bekende - én plaaslike kunstenaars kragte saamsnoer en waar ons deel van hierdie 30ste bestaansjaarvieringe kan wees.”
Janion Kennedy, oftewel Noemwoord, sê hy sien uit na die samesmelting van die kore met die ander musiek op die verhoog. “Die konsert is ’n mengelmoes tussen genres en beslis ’n moet-sien vir feesgangers, omdat dit ons land én ons erfenis vier. Dit gaan nie net oor al die talente op die verhoog nie, dis ook ’n kans om ’n konsert wat op hierdie skaal saamgestel is, op Oudtshoorn te kan beleef – mense moet beslis die samesmelting van genres en die goeie musiek kom ervaar.”
Jo-Andri Antonie, groepleier van die Kalliklip Vastrappers van Calitzdorp, sê hulle sien daarna uit om saam met die ander kunstenaars deel van die openingskonsert vir die 30ste KKNK te wees. “Die konsert is ’n wonderlike samesmelting van uniekheid en kultuur en gaan beslis ’n treffer wees.”
Die Voluit Openingskonsert vind op Saterdag 28 Maart vanaf 20:00 op die Feesmark-verhoog plaas. Toegang is ingesluit by die prys van ’n Feesmark-kaartjie. KKNK word vanjaar van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April vir die 30ste keer in die Klein Karoo aangebied.
KKNK 2026 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Die volledige program vir die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

