Persverklaring: Uitsoek-produksies op Suidoosterfees se NATi Teaterprogram

  • 0

Justin Redelinghuys se Koeksusters, met Gantane Kusch, Dean Smith en Christian Bennett, verskaf ’n komiese dog ernstige blik op die verskynsel van geslagsgeweld in Suid-Afrika (foto: verskaf).

By die 20ste Suidoosterfees, vanjaar van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in die Moederstad, gaan teaterliefhebbers smul aan produksies op die NATi Teaterfees-spyskaart. Heelwat trefferstukke is gegrond op boeke deur gewilde Afrikaanse skrywers, en opwindende verhoogstukke deur opkomende jong skrywers is op die program ingesluit.

Philip Rademeyer se drama, Opdrifsel, wat pas in boekvorm deur Protea Boekhuis uitgegee is, handel oor ’n ouerpaar, Mara en Bernard, wat hul tienerseun aan die dood afstaan. Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots skitter as die ouerpaar wat hul smart moet verwerk sonder om mekaar ook te verloor. In 2021 het die toneelstuk die Opwip-Aardklop-prys vir beste aanbieding gewen.

Radeymeyer is ook verantwoordelik vir die verhoogverwerking van Zirk van den Berg se roman, Ek wens, ek wens, wat onder meer met twee kykNET-Rapport-boekpryse bekroon is. In die verhoogweergawe speel Frank Opperman die rol van Seb, ’n lykbesorger wie se lewe skielik minder saai word wanneer ’n sterwende seuntjie en sy ma by die ondernemers instap.

Die digter Jolyn Phillips is saam met Charlton George, Deniel Barry en Frazer Barry te sien in Bientang: bloedspoor/!nau, gebaseer op Phillips se bekroonde bundel. Dit kyk na die legende van ’n vrou, Bientang, wat in Hermanus in ’n grot gewoon het en met diere kom praat. Verskillende elemente van storievertel en musiek word in dié spogproduksie ontgin om die geskiedenis van “die laaste strandloper” tot lewe te bring.

Mutton Hour, met De Klerk Oelofse en Cintaine Schutte, beloof om mense ná twee jaar van pandemie-grendeltye van voor af op die teater versot te maak. Dié produksie maak sy debuut by die Suidoosterfees, en dit is ’n samestelling van lekker lawwe verhale oor “liefde, verlies, hansworse en katte”. Dean Balie en Jemma Kahn het saam met die akteurs aan die teks geskryf.

Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch is in die rolverdeling van Koeksusters, geskryf deur Justin Redelinghuys. Die akteurs vertolk die rolle van drie vroue van die Kaapse Vlakte: Betty, Brenda en Bieba. Al drie gaan gebuk onder geslagsgeweld en die komediedrama spreek dié euwel ondubbelsinnig aan.

Antjie Krog en Antoinette Kellermann word albei vanjaar 70, en om dié mylpaal te vier, gaan die befaamde aktrise ’n keur van die wêreldberoemde digter se werk aan feesgehore bring. Krog se poësie, deurspek met eerlikheid, erns, ironie, genade en liefde, is nommerpas vir die statuur van die legendariese Kellermann. Die oerkluts kwyt is ’n koproduksie van die Suidoosterfees, KKNK en Aardklop.

Die jong dramaturg Herschelle Benjamin, wat die afgelope paar jaar as ’n opwindende nuwe stem gevestig geraak het, se Agulhasvlakte handel oor Milly, ’n bloemis, wat veg teen die skade wat die natuur van haar geboortegrond bedreig. Wanneer haar suster Amy, ’n sosialemedia-ster van die stad, by haar opdaag, word die verhouding tussen die twee op die proef gestel. Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt is in die rolverdeling.

Die halwe huis, Ricardo Arendse se eenmanstuk met Marlo Minnaar, handel oor Bumper Jansen, ’n opkomende jong skrywer wat op die punt staan om sy eie lewe te neem. Bumper probeer sin maak van dinge soos die liefde, verwerping en die wêreld se verwagtinge. Leslie Javan is verantwoordelik vir die musiek.

Ruan Wessels is te sien in Plesierengel, gebaseer op Leon van Nierop se boeke oor ’n sekswerker wat vroue laat swymel en uiteindelik een van die land se gewildste en bes betaalde gigolo’s word. Dié stuk, gegrond op ’n ware verhaal, ondersoek die tragiese omstandighede wat die hoofkarakter tot dié beroep gedwing het.

Waldemar Schultz en Brendon Daniels speel in Dis 20:15, Ferdinand Bekker se komedie oor Pieter en Francois, doodgewone hardwerkende mense wat besluit om bankrowers te word. Dinge verloop egter nie vlot vir dié amateurs nie.

Ses kort, kragtige monoloë wat deel is van die Suidoosterfees en LitNet se Stemme-reeks, word op verskillende tye gratis vir feesgangers opgevoer. Die stukke by vanjaar se fees is geskryf deur Dana Snyman, Dean Balie, Heloïne Armstrong, Jemma Kahn, Buhle Ngaba en Mike van Graan, en sal feesgangers ongetwyfeld herinner hoe kragtig teater werklik is.

Kaartjies kan by Computicket bespreek word. Die volledige feesprogram is op www.suidoosterfees.co.za beskikbaar. Die Suidoosterfees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-pandemieveiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te verkry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.

Die Suidoosterfees word ondersteun en moontlik gemaak deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET. Verhoogstukke op die teaterprogram word in vennootskap met die volgende instansies aangebied: NATi, Het Jan Marais Nationale Fonds, die NAC, NIHSS, Aardklop, AK21, ATKV, LitNet, Kunstekaap en die LW Hiemstra Trust.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top