Persverklaring: Tweede KKNK virtuele kunsgalery open binnekort

  • 0

Emotion.Emosie - Bernard Brand - Isolated (Study II - Oil_Honey Series) - 2020

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Virtuele Kunsgalery, ondersteun deur ABSA, open op 29 Junie vir die tweede keer sy “deure”.  

Paint.Verf - Cobus van Bosch

Dineke van der Walt, kurator van dié galery, is tydens die 11de kykNET Fiëstas met die Fiësta vir Beste Prestasie in Visuele Kuns vir verlede jaar se Virtuele Kunsgalery bekroon. Die galery is ook genomineer as een van die Beste Aanlyn Projekte.

Amplifica - Hannalie Taute TIDY SOUL 2021 Thread, found photograph and rubber 29 x 14 cm unframed

Die tema van vanjaar se Visuele Kunsgalery, ondersteun deur Absa, is Voel  – die kunstenaars en kurators moes werke kies wat die fyn nuanses van uiteeenlopende emosies ondersoek. “Ons almal het spesifieke goeie en slegte ervarings wat ons ten diepste raak en ons lewens beïnvloed,” sê Van der Walt. “Deur kuns kan ons daaraan uitdrukking gee – dis ’n manier waarop ons die vinger kan lê op spesifieke belewenisse wat ons nie andersins sou kon verwoord nie. Kuns is in sommige gevalle ’n uitlaatklep; dis ’n katarsis wat lei tot suiwering en helderheid. Maar ’n kunswerk kan ook ’n raamwerk wees waarbinne ons diepste vrese, pyn en vreugde vasgevang kan word. Vanjaar se uitstalling wil een en almal help verstaan hoe betekenisvol emosies kan wees, hoe dit ons lewens raak – want soms is dit abstrak, en is woorde net nie genoeg nie.” 

Feeling Things - Evert Esterhuizen - Longing For a Different Day - Acrylic and Maker on Hardboard - 2021

Ses groepuitstallings word by dié aanbod ingesluit: Emotion (Emosie)saamgestel deur ABSA met Paul Bayliss as kurator, Feeling Things, saamgestel deur Donavan Mynhardt (van die Rust-en-Vrede Galery), Paint. Verf., saamgestel deur Johan Myburg (wenner van die 2020 Hertzogprys), If you think about it, just midding in the meantine or progression, saamgestel deur Fadzai Muchemwa (aangewys as kurator vir Zimbabwe se Pavilion vir die 59ste Venice Biennale wat in 2022 plaasvind), Something Pauses, saamgestel deur Christa Swart (van die Glen Carlou Galery) en Amplifica: A Medley of Moods in Miniature, deur Van der Walt self saamgestel. 

Progression - Kate'Lyn Chetty, Sawoti River, 2021

Volgens Van der Walt vorm 83 kunstenaars deel van die KKNK 2021 Virtuele Kunsgalery, ondersteun deur ABSA, met 245 kunswerke wat uitgestal word. “Kunsliefhebbers kan veral uitsien na die werke van Paul Shiakallis, Anthea Pokroy, Vusi Beauchamp, Ella Cronjé, Lillian Magodi, Erica Lüttich, Sophia van Wyk, Senzo Shabangu, Alexia Vogel, Jayne Crawshay-Hall, Admire Kamudzengerere, Pauline Gutter, Bastiaan van Stenis, André Naude en Franklyn Dzingai.”

Progression - Kate'Lyn Chetty, Sawoti River, 2021

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê die Virtuele Kunsgalery is oop vir verkope tot 29 Augustus en verkope vind plaas deur die KKNK se splinternuwe e-winkel by kknk.co.za. “Ons is trots daarop om vir die tweede jaar ’n geleentheid vir kunsliefhebbers te skep om van regoor die wêreld en in die gemak van hul eie huis die fees se visuele kunsuitstalling te beleef,” sê hy. 

Theart meen verder dat die galery ’n lekker en gebruikersvriendelike ervaring is, waardeur besoekers kan “stap” en ook na stemopnames deur kunstenaars en kurators kan luister, om sodoende verskeie sintuie te stimuleer. “Uitstallings is vanjaar só saamgestel dat kunswerke uiters bekostigbaar is, met werke wat begin by R500. Hierdie inisiatief skep ’n belangrike platform vir visuele kunstenaars om hulle werk ten toon te stel en te verkoop en sodoende ’n inkomste te genereer.” 

Skakel op Dinsdag, 29 Junie vanaf 18:30 in op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za om die bekendstelling by te woon. 

Foto’s en byskrifte: Verskaf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top