Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordfees 2026 – wenners van die Woordtrofees bekend

  • 0

Die wenners van die Toyota Stellenbosch Woordfees se Woordtrofees-toekennings vir 2026 is bekend. Die wenners is Maandagaand 2 November tydens ’n geleentheid by die Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch bekroon.

Die Woordtrofees vereer jaarliks kunstenaars wat uitnemend presteer het by die fees.

Mareli Pretorius, sameroeper van die Woordtrofees-paneel en voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement, sé “die uitvoerende kunste is van die oudste maniere waarop ons sin maak van die wêreld om ons. Dit is hoe ons stories met mekaar deel: ander se stories en ons eie stories, die klein, intieme oomblikke en eenvoudige ervarings, die grootste oomblikke wat hulle juis in die alledaagse afspeel. MOFFIE, Markus (en die brandblusser op die derde verdieping), Twee siele, een omhelsing, Elke briljante ding en Prima! (om enkeles te noem) gee elk stem aan een lewe, maar wat as een mens se storie begin, eindig as ons almal s’n.”

Dan is daar ook die groot stories, dié wat die hele wêreld se gesamentlike storie word.

“FaustX is so ’n groot storie, wat op onrusbarende wyse ons menswees aan ons blootlê deur iets dringends oor ons tyd en onsself te sê. Die Woordtrofees is ’n blyk van ons waardering en bewondering vir almal wat saamspan om dié stories met ons te deel: die skrywers en regisseurs, die spelers, musikante en dansers, die ontwerpers en tegniese spanne wie se werk dikwels onsigbaar bly, maar sonder wie geen storie die verhoog sou haal nie,” sê Pretorius.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, sê “van harte geluk aan alle wenners en benoemdes. ’n Fees van hierdie omvang is onmoontlik sonder julle, die kunstenaars, se toewyding, harde werk en geesdrif, wat die gehalte, standaard en aansien van die program op die voorgrond plaas”.

Die wenners is: 

Beste opkomende kunstenaar: Kontemporêre musiek, Dans, Spier Toneel, Klassieke musiek

  • Sibabalwe Gobe-Gysman (Siba Gysman Project): Kontemporêre musiek
  • Kristi Steyn (As die mooi aan ons haak): Kontemporêre musiek
  • Mila Sobolewski (Glimpse): Dans
  • Vihann van Rooyen (Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)): Spier Toneel
  • Melusi Shandu (Mozart to Verdi: Two Faces of Opera): Klassieke musiek

Martie Retief Meiring-prys

Albert Pretorius (Elke briljante ding en Ek is nie Danie)

Die Martie Retief Meiring-prys vereer ’n kunstenaar of produksie wat werk lewer wat die legendariese joernalis na wie die prys genoem is, se waardes en beginsels vergestalt: dapper, konfronterend, ambisieus, vernuwend, innoverend, uitdagend, plesierig – die soort werk wat die Toyota Stellenbosch Woordfees wil aanbied en wat gehore opgewonde maak en aan die praat sit.

Beste prestasie in kunsjoernalistiek (INK-feeskoerant):

Dianne Albertze

WOW-toekennings

Die WOW-toekennings vereer ’n opvoeder en ’n skool vir uitnemende prestasie op die opvoedkundige projekte van dié bemagtigingsinisiatief (Woorde Open Wêrelde) aan die US. WOW is ’n sustersprojek van die Toyota Stellenbosch Woordfees.

WOW-opvoeder van die jaar

Jacqueline Jephta (St. Idas Primêre Skool)

WOW-skool van die jaar

Hawston Sekondêr

Uitsonderlike tegniese bydrae

Charl-Johan Lingenfelder (klankbydrae: MOFFIE; An Iliad; Twee siele, een omhelsing; ge-gebergtes)

Uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: klein groepe

Karin Hougaard: Kaalvoet (Karin Hougaard, met Luke van der Merwe en Leon Ecroignard)

Uitsonderlike bydrae tot kontemporêre musiek: groter groepe

Prima! (Dean Balie en Bianca Flanders, met Ramon Alexander en die US-blaasorkes)

Uitsonderlike bydrae tot klassieke musiek: instrumentaal

Shades of Blue (Liesl Stoltz, Dylan Tabisher, David Cyster, Langa Dubazana, Elna van der Merwe)

Uitsonderlike bydrae tot klassieke musiek: vokaal

An Italian Songbook (EuiHyun Park, Pieter Grobler, Suzanne Martens, Salon Music-strykorkes)

Uitsonderlike bydrae tot klassieke musiek: innovasie

Juliet String Quartet: Playlist (Annien Shaw, Matthew Campbell-Stead, Azra Isaacs, Babette Roosenschoon)

Rudolf Gouws-prys: Reisvaardige klassieke musiekproduksie

Cellissimo: KFO-tjellosekstet (Peter Martens, Eddie McLean, Rosamund Roth, Matthias Remley-Ender, Dane Coetzee, Ashlin Grobbelaar)

Beste dans-gedrewe produksie

Twee siele, een omhelsing (Shaun Oelf, Ramsey Devin Lewis, Craig Katts, met regie: Ina Wichterich)

Beste kinderteaterproduksie

Liewe Heksie word gescam (Eldon van der Merwe, Mia van der Merwe, met regie: Margit Meyer-Rödenbeck)

EasyEquities Skrywersfees-boekpryse

  • Topverkoper: Fiksie (Etienne van Heerden: Diereriem)
  • Topverkoper: Niefiksie (Frans de Villiers: Die Geskiedenis van Braaibroodjies)
  • Topverkoper: Leefstyl (Louis Jansen van Vuuren: Biltong en Dior)
  • Topverkoper: Poësie (Danie Marais: Ek is nie Danie)

In verbondenheid-prys

Ramon Alexander en Vicky Davis (Jazz at the Conserve)

Die In verbondenheid-prys gee erkenning aan rolspelers wat in die kunste oor grense, onvermoeid en dikwels vir min of geen vergoeding, werk om groter sosiale kohesie te bewerkstellig. Alexander en Davis word vereer vir die werk wat hulle met die US-musiekdepartement doen om Stellenbosch sentraal te plaas in groter jazz-geselskap. Tegelykertyd bied hulle daardeur ’n platform vir studente, oud-studente en professionele jazz-muso’s.

Fees-begeester

Lise van Schoor

Beste byspeler: vroulik

Nicole Holm (CRYBABY)

Beste byspeler: manlik

Joshwin Dyson (My kind druip)

Beste teks (nuutgeskrewe of verwerking)

Markus (en die brandblusser op die derde verdieping): Vihann van Rooyen

Beste speler: vroulik

Anna-Mart van der Merwe (Atropa) 

Beste speler: manlik

David Viviers (MOFFIE)

Beste ensemble

Atropa

Beste regisseur

Brett Bailey (FaustX)

Beste produksie: komedie

Elke briljante ding

Beste produksie: drama

FaustX

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit:

Sameroeper: Mareli Pretorius

Spier Toneel: Jurgen McEwan, Ira Blanckenberg, Henriëtta (Gryffenberg) Plattner, Malan Steyn, Ivan Abrahams

Kontemporêre musiek: Anna Davel, Paula Fourie, Liela Groenewald, Gustav Franzsen, Niël Rademan, Wendy Joy Crowley

Klassieke musiek: Maryke Lintvelt, Arthur Feder, Zenobia Kloppers

Dans: Ananda Fuchs, Mmatumisang Motsisi

Vir die dagboek

Die 27ste Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 2 tot 10 Oktober 2027 in Stellenbosch plaas. Kunstenaars kan die volgende datums in hulle dagboeke neerpen: Programinskrywings vir volgende jaar se fees open einde November 2026 en sluit einde Januarie 2027 vir Spier Toneel, en einde Februarie vir die res van die program. Hou die fees se webwerf woordfees.co.za, sosiale media en nuusbrief dop vir aankondigings.

Dankie ook aan ons kaartjiekopers, borge en donateurs vir julle bydrae tot ’n suksesvolle 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees. Die fees het in 2026 tien persent meer inkomste verdien uit kaartjieverkope as in 2025.

Die hoofborge: Het Jan Marais Nationale Fonds, Toyota South Africa Motors en die Universiteit Stellenbosch.

Platinumborge: Spier, EasyEquities en Netwerk24.

Goueborg: kykNET.

Silwerborge: Strauss & Co, ATKV, Stellenbosch Wine Routes, Visit Stellenbosch, Standard Bank en RSG.

Bronsborge: Open Window, Hertz, Strive Capital, Aramex, LIFT, Bok Radio en Stellenbosch Munisipaliteit.

Trusts en donateurs: Jannie Mouton-stigting, NATi, Woordfeesweldoeners, Fynbos Trust, Dirk Nagtegaal, L.W. Hiemstra Trust, Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en Johann Brink Trust.

Dankie ook aan al ons produkborge, venueborge, projekborge, mediavennote en uitgewersvennote.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top