Die 2026 Toyota Stellenbosch Woordfees-program is Donderdagaand bekend gestel tydens ’n voorskougeleentheid by Asara-wynlandgoed. Die jaar se tema is: Dis hoog tyd!
Klik hier vir die volle feesprogram.
“Tyd is ’n skaars kommoditeit,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees oor die keuse van die feestema. “Daarom is dit hoog tyd om in die kunste te belê deur jouself die tyd te gun om nuwe herinneringe saam met vriende en familie, selfs vreemdelinge, te maak terwyl jy jou oopstel aan die wonderwêreld van die kunste. ’n Wêreld waar oomblikke momentum bou, begin vloei en uiteindelik energie oor jou laat spoel wat tyd ophef.”
Met meer as 444 items op die grootste kunstefeesprogram in die land, is die oorvloed van produksies ’n waardevolle noodsaaklikheid in ’n kunstelandskap wat onder groot druk verkeer. Daar is hulp om deur die groot programlys te navigeer – die volle feesprogram is aanlyn beskikbaar om af te laai, maar die gratis gedrukte feesgids is en bly ’n waardevolle handleiding om jou ideale feeslys saam te stel. Die jaar is Aramex weer die fees se voete en hande om dit by jou uit te kry. Registreer op ons webtuiste, by woordfees.co.za, en dit word by jou deur afgelewer. Geen bestemming in Suid-Afrika is te ver nie. Kaartjieverkope open 18 Junie vir die publiek en is reeds oop vir lede van die Toyota Stellenbosch Woordfees-lojaliteitsprogram – lees meer oor die verskeie lojaliteitspakkette op die fees se webwerf.
“Met 15 weke om te beplan is dit nou die tyd om ’n feesgids nader te trek en te beplan aan ’n unieke feeservaring. Daar is iets vir almal, met uitstaande werk van ons voorste kunstenaars,” sê Saartjie.
EasyEquities Skrywersfees
Die woord sit nie verniet heel voor in die Toyota Stellenbosch Woordfees se naam nie: Boeke en skrywers bly die hartklop van die fees. Vanjaar is daar meer as 50 aanbiedings op die EasyEquities Skrywersfees, wat vir die derde keer deur die digter Bibi Slippers saamgestel is. Lesers, denkers en boekmense kan uitsien na boeke oor alles van rugby tot resensies, geld en geskiedenis, huwelike, honde, en hoe om ’n lewe te maak op ’n leë stuk grond in die Karoo.
Die eerste fiksiefees is ’n oggend van stories waar die verbeelding seevier, en die skrywers van fiktiewe verhale in die kollig geplaas word. Jy kan jou vir een oggend kom verlekker in al wat storieboek is, die skrywers ontmoet, en met ander boekwurms skouers skuur.
Nog ’n nuutjie is die reeks “Skrywers oor skrywers”-onderhoude, waar twee skrywers met mekaar gesels oor hulle jongste boeke. Daar is die jonges, die politieke kenners wat jou kan help sin maak van die verkiesings wat op pad is, die bloedhonde en die memoiriste.
Vanjaar word daar vyf boekklubs aangebied. Heindrich Wyngaard gaan praat met Dennis Cruywagen oor Dennis se biografie van Allan Boesak, Dominique Botha is in gesprek met Danie Marais oor haar roerende outobiografiese fiksie in Die huilende bruid en ander versinsels en TV-joernalis Lourensa Eckard stel groot vrae aan James-Brent Styan na aanleiding van sy boek oor Markus Jooste. Die legendariese Tobie Cronjé kom gesels saam met skrywer Chris Vorster oor die biografie Tobie, en die impakspeler Steven Kitshoff bespreek die rugby-memoir wat hy saam met Michael Vlismas geskryf het.
Feesdigter
Nog ’n impakspeler is vanjaar se feesdigter, Tom Dreyer, wat onlangs met die Hertzogprys bekroon is vir sy debuutbundel Nou in infrarooi. “Dis egter sy nuwe bundel, Brief op veertigduisend voet, waarvan die titel so mooi oorvleuel het met ons feestema, wat hom die ooglopende keuse gemaak het,” sê Bibi Slippers. Hy is daagliks by aktiwiteite betrokke wat digkuns toeganklik wil maak vir alle feesgangers: boekpraatjies, filosofiese geselse en verskeie voorlesings. Kyk ook uit vir sy woorde op papiervliegtuigies, plakkate en allerhande geheime plekkies op die feesgronde.
Die sukses van die eerste Dag van poësie verlede jaar het die fees aangespoor om dit weer te doen: Vanjaar word die digter Lina Spies gehuldig, die feesdigter hou konsert saam met al sy vriende, en daar is voorlesings uit en gesprekke oor 10 digbundels, asook vars nuwe verse uit die penne van ’n groot verskeidenheid digters.
Die beste nuus? Die boekeprogram is uiters bekostigbaar. Die meeste EasyEquities Skrywersfees-aanbiedings kos steeds slegs R50, maar daar is ook ’n reeks gratis gesprekke soggens, met onder andere Joan Hambidge, Sven Axelrad en Carla Venter van Money With Carla.
“Koop vir jou ’n koffie en kom skop jou feesdag by die EasyEquities Skrywerskamer af, waar daar gemeenskap gebou word rondom die geskrewe woord, al gaan dit hóé daar buite. Om ons feesdigter aan te haal, kom, ‘wees saam, eenmalig en dapper’,” sê Bibi Slippers.
Klassieke musiek
Met meer as 40 klassieke musiek-produksies, sou niemand geprotesteer het as die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees na die Woord- en klankfees herdoop was nie.
’n Hoogtepunt op die laaste aand van die fees is die wêreldpremière van Suid-Afrika se grootste lewende komponis, Hendrik Hofmeyr, se eerste klavierkwartet, gekomponeer in opdrag van die tjellis in die Gioioso-klavierkwartet, die befaamde Peter Martens. Die res van die kwartet bestaan uit van Suid-Afrika se voorste solo- en kamermusiekmusikante, Suzanne Martens (viool), Maya Egashira (altviool) en die talentvolle José Dias op klavier.
Dié kwartet voer ook W.A. Mozart se geliefde Klavierkwartet in G mineur (K 478) uit en Robert Schumann se Romantiese meesterstuk, die Klavierkwartet in E-mol majeur (Op. 47). Mozart het die G mineur-sleutel slegs gebruik as hy iets diepgaande wou oordra. Hierdie komposisie het boonop die klavierkwartet as ’n genre help definieer, veral met die byvoeging van die altviool in plaas van ’n tweede viool, wat hierdie werk se klank ’n donkerder intensiteit gegee het.
Extravaganza!
Wie het gesê klassieke musiek kan nie pret wees nie? Vir ’n derde jaar kry gehore die kans om te sien wat gebeur wanneer tot twintig pianiste op tien vleuelklaviere gelyk so hitte die kluts kwytraak, met die gewilde Klavier-extravaganza III.
In hierdie mallemeule van ’n konsert kan jy verwag om Francois du Toit, Esthea Kruger, Pieter Grobler, Susan Paterson-Jones, Megan-Geoffrey Prins en nog 'n hele klomp ander klawerkalante te sien. Die kerkorrel word ook ingespan. ’n Heerlike klavier-avontuur waaragter jy die inisiatief en entoesiasme van pianis en dirigent Nina Schumann sal vind.
Quanto è bello!
So van opera gepraat, die goue tydperk van Italiaanse sang het vir drie eeue aangehou, en ’n konsert wat die meeste van hierdie tyd dek, An Italian Songbook, haal dit by Antonio Vivaldi in die 17de eeu en neem dit tot by Ruggero Leoncavallo. Die basbariton met die fluweelstem, Koreaan EuiHyun Park, word begelei op die klavier deur Pieter Grobler en bygestaan deur die strykers van ’n groep jong Stellenbossers onder die baton van Suzanne Martens. Dit is ’n ryk program, vol elegansie en hartstog. Waar orkestrasie en verwerking nodig was, het Willem Vogel die pen opgetel.
In In the Blink of an Eye word musiek, beweging en gesproke teks saamgespan tot ’n kragtige verkenning van klimaatsverandering, van die stadige polsslag van die oeraarde tot die menslike ingryping wat dringend noodsaaklik is.
Toyota Musiekfees
”Om vyftig studente in ’n Volkswagen Beetle te druk, was jare gelede ’n groot uitdaging. Maar laat ’n mens maar sê: Dis ’n makliker taak as om die byna 50 musiekproduksies van die Toyota Musiekfees by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees in een asem te probeer noem,” skryf Mariana Malan.
Die gewilde opelugkonserte by die Jan Marais-park bring families en feesmaats onder die sterrehemel bymekaar. Zaan Sonnekus en Tashé, Booshle G., Spoegwolf en Jeremy Loops bring die vibes en die klank.
Jazz-liefhebbers kan weer uitsien na ’n vol Jazz at the Konserve-program by die buitelug-amfiteater van die US Konservatorium. Dit is die tuiste van ’n reeks musiekkonserte waar bekende jazzmusikante soos Buddy Wells, die Ramon Alexander-trio, Sibabalwe Gobe-Gysman, Melisizwe Plaatjie, Heinrich Frans en die Andrew Ford-trio sal optree.
En net daarna volg die Afterpaartie-program wat deur Schalk Joubert saamgestel word. Hy bring van sy vriende en beste musici in die land bymekaar.Dis die perfekte laatnagkuierplek om na die dag se vol program te kom litte losmaak of te ontspan. Albert Frost-trio, Die Papier Family Band, Nick Turner, Robin Auld-trio en die World Peace-ensemble is van die sterre op Schalk se sterbelaaide program.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees het groot verjaardagvieringe saam met Amanda Strydom en Anton Goosen.
Amanda vier haar 70’ste (ja, kan jy glo!) saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes op in ’n vertoning wat een vir die boeke gaan wees. Anton Goosen dien alle gerugte van oud en koud die nekslag toe met Magtig, kyk wie’s 80.
Vusi Mahlasela, Jak de Priester, Glaskas, Stille vuur met Coenie de Villiers en Frieda van den Heever, Joshua na die reën, en ’n viering van Louis Prima (Prima!) se swing met Bianca Flanders, Dean Balie en die US-blaasorkes onder leiding van Ramon Alexander, lyk almal na produksies waarvan die kaartjies gaan vlieg.
Spier Toneel
Daar is 51 stukke op ’n uiteenlopende Spier Toneel-program wat insluit debuutwerke, drama, komedie, kabaret, en ontluikende talent met die terugkeer van die fees se fringe-program en nog vele meer.
Debute
Groot debuutwerke open by die Toyota Stellenbosch Woordfees en die afwagting is groot om hierdie produksies op die planke te sien. Werke soos My kind druip (Shimmy Isaacs), Skanse (Dawid Minnaar), Vlindervry (Cindy Swanepoel), ’n Middel (Tinarie van Wyk Loots), die wenstuk van die 2026 Reinet Nagtegaal-teksprys, Grootmeisie (Daneel van der Walt), Krapp se laaste band (Carel Nel), I Lord Hamlet (Carlo Daniels), Wie call die shots? uit die pen van Miché van Wyk en Elke briljante ding (Albert Pretorius) bring ons topteatermakers byeen op die verhoog.
Teater in my are
Atropa, onder regie van Marthinus Basson, verken ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolialisme. Daarteenoor verplaas An Iliad Homerus se epos na die hede in die finale, brutale jaar van ’n oorlog. Geoffrey Hyland is die regisseur met Alan Committie en Charl-Johan Lingenfelder in die rolverdeling.
FaustX is ’n ontstellende en surrealistiese drama oor menslike strewe, versoeking en onbeheerste ambisie geskryf deur ChatGPT en Brett Bailey. Dit is gegrond op die tweede deel van Goethe se Faust en is weer in Suid-Afrika op die planke ná ’n suksesvolle wêreldtoer.
Vlindervry volg ’n blinde 19-jarige se strewe na onafhanklikheid en liefde. Dit is ’n vertaling van Leonard Gershe se romantiese komedie Butterflies are Free. Wessel Pretorius is die regisseur en vertaler.
Onder regie van Lara Foot vertel Die ander dogter met Sandra Prinsloo die verhaal van die Nobelprys-bekroonde skrywer Annie Ernaux wat as dogtertjie toevallig uitgevind het van ’n suster wat twee jaar voor haar geboorte oorlede is.
’n Middel, die opvolg van die bekroonde liefdesdrama ’n Begin, bied ’n rou en intieme blik op ’n paartjie vasgevang tussen wat was en wat nooit geword het nie. Cintaine Schutte is die regisseur en Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam is in die hoofrolle.
Bekroonde skrywer Bibi Slippers se musiekteaterstuk Wat om te doen as die wêreld brand met Elzabé Zietsman raak aan kwessies soos wanhoop, moeilike verhoudings, die oorloë wat dreig, depressie en die behoefte aan hulp van ons medemens. Bibi Slippers is ook die regisseur.
Saartjie Botha het Kirby van der Merwe se bekroonde roman Eugene vir die verhoog verwerk. Die produksie ondersoek gemarginaliseerde manlikheid, geestesgesondheid en trauma, en belig temas soos liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis. Met Carlo Daniels en die regisseur is Nico Scheepers.
ge-gebergtes deur Saartjie Botha se aangrypende stuk van verganklikhied, van om oud te word en te wees: ’n toestand van stadige aftakeling en groeiende hulpeloosheid en afhanklikheid. Wessel Pretorius is die regisseur, met Daneel van der Walt en Carel Trichardt.
Weer ’n keer
Uitblinkers e bekroondes wat terugkeer na die verhoog sluit in Ek is nie Danie (Albert Pretorius), , Boesman en Lena (Veronique Jephtas, Brendon Daniels) en Hoort (Stephanie Baartman). Die internasionaal gerekende Moffie met David Viviers kan vanjaar by die fees gesien word. Carla Smith se nuwe tragikomedie met Frank Opperman, CRYBABY, maak sy Toyota Stellenbosch Woordfees-buiging.
Komedie
Die Spier Toneel-program bring oorgenoeg humor met komediante soos Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout , Nik Rabinowitz en Marion Holm wat die lewe ligter en snaakser maak. Ondersoekende joernalis en satirikus Marianne Thamm gebruik die nuus as inspirasie waar sy ons kom herinner feite is baie snaakser as fiksie.
Visuele kuns
Uitstallings, ervarings, lesings, werkswinkels, staptogte en selfs vroegoggend koffie-raves: Vanjaar se visuele kuns-aanbod by die Toyota Stellenbosch Woordfees is uit die boonste rakke.
Die kroonjuweel van vanjaar se uitstallings is die versameling kotemporêre kuns wat in die stadsaal uitgestal word as deel van Toyota Stellenbosch Woordfees en Strauss & Co. se kunsveiling. Die veiling plaas artistieke uitnemendheid op die voorgrond en beklemtoon sigbaarheid en erkenning van kontemporêre praktyke.
Plaaslike fotograaf Daniel Naudé is die feeskunstenaar, en by sy solo-tentoonstelling Still Life in die US Museum kan feesgangers die eerste mense wees wat sy monumentale nuwe reeks foto’s van insekte sien.
Strauss & Co se uitstalling Anything But Static is ’n keur van moderne en kontemporêre stillewes wat ondersoek hoe identiteit, kultuur, mitologie, oortuigings en wêreldbeskouings nie net vasgevang word deur die gebruik van ikonografie, simbole en objekte nie, maar ook daarop kommentaar lewer. Dit sal in die Oude Leeskamer hang.
Verder kan feesgangers weer besoek aflê by 20 plaaslike kunstenaars se werksruimtes, te danke aan die Ateljeebesoeke-inisiatief. Daar is ook ’n verteenwoordigende uitstalling van die deelnemende kunstenaars se werk te sien by Die Stal.
Dans
Die Toyota Stellenbosch Woordfees se dansprogram bring elke jaar van ons land se topdansgeselskappe hier byeen in ’n viering van klassieke, kontemporere en moderne beweging. Hoogtepunte sluit in autoplay deur Darkroom Contemporary, Our Bodies Remember deur Jazzart Dance Theatre, People on the Move met SboNdaba Dance en Shaun Oelf en Figure of 8 Dance Theatre se uitsonderlike dansproduksie The Reservation.
Leefstyl
Vanjaar is daar ’n behoorlike smorgasbord van smake en ervarings spesiaal vir die leesvrate wat ook lekkerbekke is: 13 demonstrasies uit blinknuwe kookboeke, met jou gunsteling- TV-kosmense, sosiale media-sterre en kosskrywers wat die verhoog sal betree in die Hofmeyrsaal se demo-kombuis.
Bekende sjefs soos Jenny Morris (Greedy Girl), Isabella Niehaus (Bella’s Kitchen) en die MasterChef-beoordelaar Zola Nene (Simply More Zola) gaan almal wys wat in hulle steek, en hoe om die beste resultate te kry wanneer jy van hulle verruklike resepte onder die knie probeer kry.
Louis Jansen van Vuuren kom al die pad uit die Franse platteland om te gesels oor Biltong en Dior, sy kostelike vertellings oor die vreugdes en uitdagings van die lewe in Frankryk. Jak de Priester gaan sorg vir die vermaak, en gaste kan aan geurige baguettes smul.
Kenneth Tebogo Middleton, die sosiale media-sensasie met byna vierhonderduisend volgelinge wat sy kookkuns op Instagram aanhang, kom kook uit Paradise, sy resepteboek wat ’n skaamtelose viering van die vreugde van eet is. Nog ’n sosiale media-liefling, Naqiyah Mayat, kom kook uit haar kookboek The Journey en gaste kan uitsien na smaak-ervarings van haar kenmerkende Indies-geïnspireerde kookkuns.
Daar is ook geleenthede vir mense wat meer gesond wil eet. Marinda Engelbrecht bring haar jongste publikasie, No Thank You to Obesity, na die demo-kombuis om te wys hoe jy lekker kan eet terwyl jy goeie keuses maak. Sy bring ook ’n kardioloog saam wat raad gee oor hoe om te maak as jy hou van eet, maar onder streng instruksies is om jou cholesterol onder beheer te kry of jou kalorie-inname in te perk. Living the Ultimate Carnivore Lifestyle deur Hendrik Botha is nog ’n publikasie wat die vleiseters gaan help verstaan hoe om daardie proteïen hard vir hulle te laat werk, terwyl Fire for Life se demonstrasie uit Gut Health: The South African Guide (deur Vickie de Beer en dr. Stephen Schmidt) al jou vrae oor fermentasie sal beantwoord.
Sally Andrew, befaamde skrywer van die immergewilde Tannie Maria-reeks, doen dubbeldiens by vanjaar se fees. Sy kom gesels oor haar jongste roman, Wild Things Never Die, maar gaan ook feesgangers se monde laat water tydens ’n demonstrasie uit Recipes to Live For: A Tannie Maria Kookboek, waar jy onder andere die Venus-koek wat op die voorblad pronk sal kan proe.
Stellenbosch se ster-sjef Bertus Basson bied weer sy immergewilde Speelkamersessies by Eike Restaurant aan, en Andriette Georgiou, stigter van die koekiemaatskappy Mondvol, bied twee heerlike bak-ervarings vol koekies, stories, proeë en geheime bakwenke aan.
As jy nuuskierig is oor die geskiedenis van kos en die maniere waarop dit die geskiedenis van die kultuur en samelewing weerspieël, kom luister ook na amateur-historikus Frans de Villiers se gesprek oor sy boek Die geskiedenis van braaibroodjies, en sy praatjie oor die geskiedenis van resepteboeke, waarin hy van sy navorsing oor Suid-Afrikaanse kookkuns sal deel.
Filmfees
Jaco van der Merwe het nog ’n blink én bekostigbare filmfees saamgestel met 17 speelfims en nege kortfilms, wat insluit die 2026 kykNET Silwerskermfees-program, ’n reeks “poëtiese” dokumentêre wat hy beskryf as “dokufiksie”, horror-gore, Hip Hop en meer.
Nico Scheepers se riller Hen laat die hare in die nek staties. Ná ’n grusame bloedbad neem ’n paartjie ’n seun in wat hulle in ’n kis op ’n afgeleë plaas ontdek. Maar hy is nie ’n gewone kind nie.
Notes from the Underground volg die Hip Hop-beweging oor verskillende geslagte en vier dekades heen – van die 1980’s tot vandag. Dit kyk ook na hoe selfkennis in Kaapstad ’n manier word om kultuur terug te eis, uitgewiste geskiedenisse te herskryf en nuwe identiteite te smee in die nadraai van kolonialisme en apartheid.
Showcase is ’n reeks “alternatiewe” dokumentêre deur Lloyd Ross. Onder dié pionier se werke wat op vanjaar se filmfees vertoon word tel Voëlvry the Movie met Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band, Koos Kombuis, Bernoldus Niemand en Dagga-Dirk Uys; Famous for not being Famous oor James Phillips, ’n komponis, rockgroepleier en die stem en gewete van ’n geslag wit Suid-Afrikaners wat in die jare 90 op 36 oorlede is; en Pluck, ’n alternatiewe geskiedenis van die nuwe Suid-Afrika, vertel deur die lens van Nando’s se advertensieveldtogte.
Fliekvlooie met ’n oog vir kuns kan uitsien na The Wire and the Sky, wat gemaak is tydens ’n kunstenaarsresidensie van twee weke in die dorre Tankwa-Karoo, ’n ekostelsel wat erg beskadig is deur oorbeweiding. Die film ondersoek ons verlore verbintenis met die natuurlike wêreld en die grense wat gebou is om die natuur te beheer. Dit stel indringende vrae oor hoe om hierdie wanbalans te herstel.
Die meeste van die flieks op die filmfees is gratis, terwyl die speelfims billik geprys is teen R60 en R70. Laat die reuk van springmielies jou innooi by die Road House Cinema in die Neelsie en kom kyk waarom daar steeds ’n behoefte is om flieks op die grootskerm te sien.
Diskoers
“Die fees vra jou dringende aandag aan kwessies – politiek, omgewing, persoonlik – maar gee jou nog meer om te vier: skoonheid, veerkragtigheid milddadige mensliheid,” vertel Saartjie. En vanjaar se diskoersprogram doen juis dit: Dis uiteenlopend, uitgebreid en uitdagend. Temas wissel van vrouegesondheid tot psigedeliese middels, vrouerugby tot ’n nuwe manlikheid, van woede tot water.
Mia Spies bring hierdie jaar weer die A-gastelys byeen in Netwerk24 se Die onderhoud met Mia Spies. Sy gesels met DA-leier, Geordin Hill-Lewis; Capitec se stigter, Michiel le Roux; US-rektor, prof. Deresh Ramjugernath; seksuoloog, dr. Elna Rudoph en die geliefde akteur, Frank Opperman.
Gert van der Westhuizen bied weer Netwerk24 se aktuele gespreksreeks aan. Die jaar gesels hy met Drikus Hancke en Kervin Grove oor skolerugby wat al meer ’n professionele baadjie aantrek. Hy praat onder andere met proff. Johanthan Jansen, Nomalanga Mkhize en Albert Grundling oor die ideale geskiedeniskurrikulum en vra kenners uit oor ons volgende president.
EasyEquities bied ’n insiggewende finansiele gespreksreeks aan wat beleggingsraad gee aan ouers en entrepreneurs. Hulle gesels ook oor aftrede en die finansiële uitdagings van ons tyd.
Kabous Meiring is die gespreksleier van die Naggesprekke wat besin oor die stand van die kunste en die oorlewing en florering van ons kunstenaars.
RSG en die ATKV kamp uit in die RSG/ATKV-vierkant reg agter die Universiteit Stellenbosch (US)-museum. Dis ’n gesellige kuierplek waar stories, musiek en mense saamkom. Kom luister, kuier en ontmoet bekende RSG-stemme soos Martelize Brink, Chrstelle Webb-Joubert en vele meer.
Die diskoersprogram boei gehore met vele gesprekke oor die wetenskap, filosofie, geskiedenis, geestelike welstand, teater, letterkunde, dorps- en studente kwessies.
Meeste van die gesprekke is gratis om by te woon.
WOW-fees
Ons sustersprojek WOW, wat skoolgemeenskappe bemagtig deur taal-, lees- en kultuurprojekte, se program bereik ’n klimaks by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Uit ’n rits opvoedkundige én prettige programme staan die nasionale Sanlam WOW-spelfees weer uit met woordtoorders van reg oor die land wat meeding om spogregte as topspeller. Feesgangers kan ook hul litte loswikkel by die geliefde Langarm-snack-dans, wat ten bate van WOW se studentefonds aangebied word. WOW vorm deel van die US se afdeling Sosiale Impak en Transformasie. Daar is werksessies vir skryf, toneel, skets, debatte, redenaars en vele meer om geleenthede te skep wat leer en deelname aanmoedig.
Kom kuier saam by die WOW-Mardi Gras – ’n naweek lange fees vol musiek, mallemeules, stalletjies en lekker eetgoed. Bekende plaaslike kunstenaars sorg vir vermaak op die verhoog.
Besoek WOW se webwerf by wow.woordfees.co.za vir meer inligting oor dié bemagtigingsinisiatief.
Die gratis gedrukte feesgids is vanaf 18 Junie beskikbaar by die fees se kaartjiekantoor in Ryneveldstraat 37, Stellenbosch. Jy kan ook jou feesgids kosteloos by jou laat aflewer deur Aramex – voltooi die aanlyn afleweringsvorm op die fees se tuisblad.
Feesdatums
Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober plaas. Kaartjies is by Quicket te koop. Hou die fees se platforms dop vir nuus.


