Persverklaring: Teksmark nooi skrywers uit om nuwe teksidees te stuur

  • 0

Carla Smith se CRYBABY is in 2025 tydens die tiende Teksmark by die Baxter-teatersentrum as leesteater voorgelê en vanjaar by verskeie feeste te sien. (Foto: verskaf – © 2025 Nardus Engelbrecht.)

Alle Suid-Afrikaanse teksskrywers op soek na ’n geleentheid word uitgenooi om nuwe teksidees vir oorweging by vanjaar se Teksmark in te dien.

Teksmark word aangebied deur die KKNK en NATi, met ondersteuning van die Baxter-teatersentrum, Universiteit van Johannesburg (UJ) kuns en kultuur en die Het Jan Marais Nationale Fonds.

Hierdie unieke ontwikkelingsplatform is daarop gemik om die skep van nuwe Suid-Afrikaanse teatertekste aan te moedig en om skrywers en rolspelers in die teaterbedryf met mekaar te verbind, vir moontlike investering en verdere ontwikkeling van tekste.

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, het in 2025 by die tiende Teksmark die projek se oorsprong beskryf as ’n geleentheid om na skrywers om te sien, aangesien hulle die oorsprong is van dit wat goeie teater maak. “Ons sien baie gereeld dat, indien ons skrywers nie versorg word nie, nie geleentheid kry om te ontwikkel nie en nie ruimte gegun word om aan hulle idees te werk nie, ons sit met halfgebakte tekste.”

Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxter-teatersentrum, sê daar kom baie belangrike boodskappe na vore by Teksmark. “Dit hoef nie net boodskappe oor sosiale geregtigheid te wees nie. Dit kan boodskappe wees oor waar ons vandag onsself in die wêreld bevind, hoe ons die dood hanteer en daarmee saamleef, of hoe ons bejaardes behandel.”

Teatermaker Veronique Jepthas sê Teksmark is waar haar loopbaan as skrywer begin het. “Dit is ’n baie goeie, waardevolle projek vir jong skrywers wat nie ’n naam het nie, om in die kamer te kom en te begin om ’n naam te maak vir jouself.” Skrywer Jason Jacobs sê: “Teksmark is ’n geleentheid waar ons as skrywers kan sien wat werk, wat kan beter werk en wat werk nie.”

Volgens Pieter Jacobs, hoof van Kuns en Kultuur by UJ, skep Teksmark nie net ’n geleentheid vir ontwikkeling van werk nie, maar ook vir vervaardigers om werk te sien. “Dit is ook ’n netwerkgeleentheid vir vervaardigers en skrywers om mekaar te leer ken en om te sien waarmee die industrie besig is. Dit skep geleenthede vir gesprekke rondom wat die bedryf gesamentlike doen.”

Teksmark plaas vanjaar ’n spesiale fokus op teks-idees in die genres van kabaret, satire en komedie met sterk sosiopolitieke kommentaar. Alhoewel voorstelle in alle genres verwelkom word, word voorkeur tydens keuring aan voorstelle in hierdie kategorieë gegee.

Teksidees kan in enige amptelike Suid-Afrikaanse taal ingedien word, soos Faasen verduidelik: “Sedert die begin van Teksmark in 2016, het dit geweldig gegroei daarin dat ander taalgemeenskappe ook ingesluit word, omdat daar so ’n sterk behoefte vir hierdie tipe geleenthede is. Dit is vir ons as NATi ’n wonderlik voorreg om ’n platform soos hierdie te skep, waar ander taalgemeenskappe en kunstenaars, wat nie noodwendig in Afrikaans skryf nie, betrokke kan wees en idees deel. Die kruisbestuiwing wat ons daar sien plaasvind, is van onskatbare waarde.”

Beide opkomende en gevestigde skrywers, word aangemoedig om voorstelle voor die sluitingsdatum van Vrydag 17 Julie om middernag in te dien. Voorstelle wat gekies word, word as leesteater by Teksmark aangebied, by of die Baxter-teatersentrum in Kaapstad (10 en 11 September), of UJ Kuns en Kultuur in Johannesburg (21 Oktober). Verteenwoordigers van teaters, feeste, produksiehuise en ander moontlike beleggers word genooi om Teksmark by te woon en sodoende direk met skrywers en hul werk in gesprek te tree.

Tydens Teksmark bied skrywers teksidees aan in die vorm van ’n uittreksel wat as leesteater opgevoer word, gevolg deur ’n gesprek met die rolspelers uit die bedryf en gehoorlede. Dit skep geleenthede vir waardevolle gesprekke rondom verdere ontwikkeling, vervaardiging en moontlik belegging in nuwe Suid-Afrikaanse-teaterwerk.

’n Beperkte aantal tydgleuwe is beskikbaar en daarom kies ’n paneel ’n uitgesoekte aantal tekste uit die voorstelle wat ontvang word. Na afloop van keuring, word regisseurs en akteurs in oorleg met die skrywer aangestel om uittreksels op te voer.

Alhoewel volledige tekste verwelkom word, is dit nie ’n vereiste vir deelname nie. Daar moet ten minste tien minute se speelteks ingedien word om oorweeg te word.

Skrywers met sterk, oorspronklike en diepsinnige stories word aangemoedig om hul voorstelle in te dien en deel te word van die deurlopende ontwikkeling van Suid-Afrikaanse teater.

Alle teksidees moet aanlyn ingedien word by kknk.co.za, waar meer inligting ook beskikbaar is. Skrywers kan die KKNK kontak vir meer inligting, via e-pos by info@kunste.org.za, WhatsApp na 065 285 2337 of telefonies by 044 203 8600.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top