
Prent: Canva
Taalmonument spog met nuwe groen uitstalling – waar digters hul talente met vers(indaba) en kapittel kan bewys
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is verheug om in die laaste maand van hul 50-jarige vieringe kreatiewe kragte met Versindaba, ’n webblog vir die Afrikaanse digkuns, te snoer om ’n paar van hul duisende gedigte in die Groen Galery op Paarlberg uit te stal.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van hierdie lewende instelling om onder meer die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. "Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane."
Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, omring deur inheemse olienhout en graniet. ’n Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Dié spesifieke uitstalling wat tot Maart 2026 fisiek besigtig kan word, sluit onder andere werke van Clinton V du Plessis, Elmarie Stofberg, Emmie Bedeker, Jacques Boshoff, Jolyn Phillips, Krige Visser, Linette van der Merwe, Maritha Broschk, Martina Klopper, Natasha Harmse, Nini Bennett, Veronique Jephtas en Vincent Oliphant in. Dit, asook vorige uitstallings, is ook aanlyn by taalmuseum.co.za/groen-galery beskikbaar.
Vanaf 2005 tot 2011 het die Versindaba-fees, wat spesifiek op die Afrikaanse digkuns fokus, plaasgevind. Die oogmerk was nie net om blootstelling te gee aan gevestigde en ontluikende digters van wie daar nuwe bundels in ’n betrokke jaar verskyn het nie, maar ook om as waarmerk te dien van die stand van die Afrikaanse digkuns soos dit tans daaruit sien. Verder is dit ’n manier om deur middel van dié blootstelling by te dra tot die breër ontwikkeling van die Afrikaanse digkuns. Einde April 2009 is versindaba.co.za tot stand gebring en in 2019 is Marlies Taljard aangestel om dit verder uit te bou.
Lees ook:
Groen Galery: Poëtiese leesfees wink tussen graniet en olien

