Persverklaring: Taalmonument se Afrikadag fokus op Khoekhoen

  • 0

 

Taalmonument se Afrikadag fokus op Khoekhoen
Gratis toegang, Boezak-werkswinkel en vermaak wink

Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrika(ans), bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) gratis toegang aan almal op Afrikadag op Donderdag 25 Mei 2023, wat fokus op die wedersydse invloede tussen Afrikatale en Afrikaans. Boonop is daar ’n uiters interessante gratis werkswinkel op Saterdag 27 Mei 2023 oor onder meer dié dag, moedertale, Khoekhoen en Moslem-Afrikaans, wat afgesluit sal word met pragtige koormusiek en ’n marimba-opvoering. Slegs diegene wat vooraf registreer, sal die dag gratis kan bywoon; enige ander gaste sal die normale toegangsfooie betaal.

Die aanbieder, Willa Boezak, is onder meer bekend om sy aktivisme rakende die eerste inheemse tale, hul sprekers en die rol wat hulle in die skepping van Afrikaans gespeel het. Hy gaan vanaf 10:00 Saterdagoggend vir 90 minute op ’n interaktiewe manier praat oor taalgeskiedenisse aan die Kaap, soos die van Namaghowab en Moslem-Afrikaans asook Gariepafrikaans. Verder sal hy voorbeelde van ’n oergebed en verjaardagslied in Nama opvoer, en praat oor die Genadendallers se verset. 

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ’n Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse) sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons beskou die monument nie net as ’n baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”

Bywoning is gratis en sluit toegang tot die monument asook die vermaak in, maar bespreking is ’n voorvereiste. RSVP teen 26 Mei by Elsabé Pearce via ontvangs@taalmuseum.co.za of 021 863 0543.

Boezak se boek – So glo ons – die Khoi-San van Suid-Afrika, met kaarte en foto’s, verhale oor Krotoa en andere, asook geloofskwessies en rotskuns – sal beskikbaar wees teen R150. Die Taalmonument se geleentheid val toevallig saam met die Stad Kaapstad wat terugvoer soek oor voorgestelde Khoekhoen-materiaal en -hulpbronne wat gebruik sal word as algemene inligting, uitstallings, opvoedkundige lesplanne en aktiwiteite in Groenpunt-park. Meer hieroor by capetownetc.com/conservation/the-city-seeks-public-input-on-khoekhoen-materials-and-resources.

Intussen gaan die Taalmonument se Afrikadagkompetisie, met groot kontantpryse op die spel, voort. Sien taalmonument.co.za vir besonderhede. Die Afrika-Unie is vanjaar 60 jaar oud – groot vieringe word dwarsoor die kontinent beplan met ’n fokus op ’n vryhandelsgebied in Afrika (AfCFTA). Sien au.int/en vir meer.

Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top